Sunday, 21 August 2011

Provence

......afdraaipaadjies in Provence 
 (Anita en Arne se piekniek in Provence)



‘n Lappieskombers, opvoubare piekniekhouer, twee silwer wynglase en sonhoede het voorkeur geniet op die inpaklys vir ons kort somerwegbreek na Provence, Frankryk.
Ons kon ‘n week inpas op ‘n besige werkskedule in Frankryk, en ‘n vriendin het Provence aanbeveel as ‘n afskopplek vir ons afdraaipaadjies....
My verwagtinge van die Van Gogh-wêreld was reeds vooropgestel in ‘n collage van sonneblom, laventelvelde, olyfboorde , wingerde en  antieke heuweltopdorpies. Dalk loop ek nog ‘n legendariese prins op ‘n wit perd raak as bonus! Die hoop beskaam mos nooit!
Ons sou via Parys na Marseilles toe vlieg . Daar sou ‘n rooi Citroentjie  vir ons gereed gestaan vir ons wegbreek-week.
Op die Air France-vlug, ervaar ons alreeds ‘n tikkie Franse kultuur terwyl ons luister na die Franssprekende lugwaardin wat flink ons Rouge-wyntjie skink. Vanuit die vliegtuig kry ons al ‘n eerste blik oor die historiese ou Marseilles, die Meditereense  hawestad. 
Ons wou eers die  afdraaipaadjies van die Luberon Nasionale Natuurpark vir vier dae lank gaan verken.Daarna sou ons die mooiste landskapskone dele van Provence in die Vaucluse, besoek.
Vanaf Marseilles-lughawe was ons eerste bestemming darem nie te ver nie,  sowat 50 km na Mas de la Tour naby Rousillon, die pragtige oker-dorpie.  In Provence is the mas of gites bekostigbare  blyplekke soos ‘n tipiese plaasgastehuis of kothuis ,‘n goeie alternatief as jy die kontrei-leefstyl wil  ervaar.
Hierdie deel van Provence  is baie gewild onder vaardige fietsryers en stappers wat die Luberon-natuurgebied wil verken.  Al die dorpies is feitlik fietsry-afstand van mekaar af geleë en verbind met spesiale fietsrypaadjies.
Orals om ons  merk ons ou eeue-oue heuweldorpies met forte,soos  by Gordes, Rousillon, Bonnieux, La Coste, en Menerbes. ‘n Mens ondergaan as’t ware ‘n tydsverplasing terug in die verlede as jy hier rondwandel.
Ons het gou agtergekom dat winkels en stalletjies eers teen elfuur op dreef kom en dat jy maar jou piekniek moet beplan om saam te val met die middag siesta wat ook hier streng beoefen word!
Markte word elke dag van die week in die somermaande om die beurt in  dorpies gehou .Ons plan was om ons reisplan so volgens die markies aan te pas sodat ons elke dag ons vars voorraad kon aankoop. Die handige somer-markkalender was ‘n bonus. 
Piekniek-versnaperinge aangekoop by kleurvolle padstalletjies het gewoonlik bestaan uit plaaslike produkte soos heuning, vye, kaas, spanspek, ham, olywe , tapenade, pâtes,  varsgebakte Franse broodjies en  Rose, Rose, en nogmaals Rose!
Hierdie piekniek-etes was essensieel  en so spesiaal vir ons afdraaipaadjie-wegbreek. Skadu, gras en uitsig was die eenvoudige vereistes waaraan elke dag se spesiale piekniekplek  moes voldoen.Ons dun lappieskombersie het handig te pas gekom.
Lourmarin was eerste op ons toerplan en is die mees suidelike bergtop dorpie in die sogenaamde Petit Luberon -natuurgebied.
Rousillon, die skilderagtige geel-en-rooi dorpie tussen die oker-gesteentes kontrasteer met die groen wingerde in die valleie wat dit omring.  Hier kan ‘n mens die  okerroete gaan stap, om die okermyn-terrein te besigtig. Die kleur van die rotse wissel van heldergeel tot oranje en die poeier wat gemyn is, was hoofsaaklik gebruik vir kleurstowwe.
Ons besoek aan die bekende Museum de Lavande in Coustellet gee ons weer opnuut respek vir die laventelbedryf.  Ons word ingelig oor die verskil van lavender wat natuurlik in die veld voorkom en hoofsaaklik vir parfuum-olies gebruik word,  of lavendin, die aangeplante weergawe, wat hoofsaaklik vir sepe en  velprodukte gebruik word. 
‘n Mens kry nuwe begrip vir die simbiose wat bestaan tussen die bye en lavender en het later te heerlik gesmul aan spesiale geurige laventelgeur-heuning wat daar verkoop word.  Geselsies met die heuningverkopers oor hul byebedryf was besonder interessant.
Sault is die enigste area waar die velde tot in Augustus nog pers getooi  is en ons besluit toe maar om daar ‘n wye draai te gaan maak.Daar kry ons toe ‘n heerlike onverwagte bonus . Behalwe vir die bekende lavender-fees en  kontrei-markbedrywighede is dit ook bekend vir die jaarlikse fietsrytoer wat in die bergpasse van die Mont Vertoux-gebied plaasvind. 
Die valleie is beplant met reguit rye lavender wat pragtig kontrasteer met die kronkelende bergpaadjie en die wit piek van Mount Vertoux in die verte. Kol–kol kry jy dan ook die komplimenterende kontras van goudgeel sonneblomlande. My kamera moes klik tot vervelens toe!
Gordes is vir my seker die indrukwekkendste van al die heuweldorpies.  In die somer wemel die antieke dorpie van mense tussen kegelsteeggangetjies en straatkafeetjies . Daar kry ons toe sommer ‘n gratis wynproe van die area se  bekendste wynprodusente. 
Naby Gordes is die bekende klipdorpie met kliphuisies wat uit die tydperk 3 500 vC dateer.  Net ‘n klipgooi van Gordes,  êrens in ‘n vallei , op pad na nêrens,  lê die bekende ou  grys abdy van Senanque versteek.  In teenstelling  met die besige toeristestraatjies van Gordes, word mens hier dadelik oorval deur stilte en vreedsaamheid, dít wat menige monnik hier kom soek het.
L’Isle-sur-la-Sorgue is letterlik ‘n eiland in die Sorgue-river en spog  met verskeie anieke waterwiele .Hierdie dorpie ondergaan oor naweke ‘n metamorfose as al die antiekware-versamelaars kom rondsnuffel vir allerande winskopies van tradisionele Franse linne, silwerware , meubels, porselein , en dies meer.
Die platboom-riviergondels word behendig beheer deur plaaslike vissermanne  en sorg vir groot pret! Hier moet jy jou balans goed kan behou!
Kilometer-lange plataanlanings  begelei jou op pad na St Remy van Van Goch-faam . Hier kan jy gerus die van Gogh-wandelroete stap en  die  skilderagtige omgewing as’ t ware uit Van Goch se oë sien.. 
Die ommuurde oustad van Avignon dateer uit die 14de eeu, en was die vesting van die Pous gedurende daardie tydperk. Ons hou piekniek en klink ‘n glasie  in die koelte van die Romeinse akwadukt , of waterleidingsbrug.
Net suid van St Remy tussen die wit kalksteenrotse van die Alpilles, besoek ons ons voorlaaste bestemming op die sirkelroete  terug na Marseilles. Les Baux is ‘n  fort-dorp, steeds staande en bewoonbaar sedert die 10de eeu -   letterlik een van die hoogtepunte op die roete. Hiervandaan  het mens ‘n asemrowende uitsig oor die Provencaalse platteland tot by die aangrensenge Camargue-gebied, bekend vir sy pragtige perde.
Somertyd is feestyd in Provence , soos die Cheval Blanc-perdefees in St Remy , musiek en teaterfeeste in Avignon en Orange, die wynfees by Chatenauf du Pape, die lavenderfees by Sault en die antiekware-fees by L’Isle-sur-la-Sorgue.
Op die smalste afdraaipadjies tussen die wingerde deur, wag daar soms die grootste verassings, soos die aantreklike fransman op sy cheval blanc (wit perd) wat ons ewe galant vaarwel toewuif met sy beret....
Ons laaste middag verwyl ons in pragtige Aix-en-Provence .Soos een poskaart dit beskryf het, is somer in Provence , poésie de couleurs (poesie in kleur!) Orals langs die pad het pers laventelbosse gepryk, en rooi klaprose aan die rande of tussen landerye was pragtig kontrasterend met die rye geel-op-geel sonneblom.
In Aix het ons gou koers gekry na Cours Mirabeau, die pragtige wye straat met skaduryke boomlanings. Orals het mense by straatkafees gesit en koffiedrink en gesels.
Ons kon ons verkyk aan winkels met vrolike groen-blou-geel Provencaalse lap en handwerk, met motiewe van sonneblom en ander inheemse flora. Geurige, gedroogte potpourri in bont materiaalsakkies was volop, handige geskenkies vir familie en vriende tuis.Op die sypaadjie by een winkel was ’n groot verskeidenheid keurige kunsplakkate uitgestal  - Cezanne, Van Gogh, Matisse -’n moeilike keuse!
Op een straathoek het ons ’n ruk lank verwyl om te kyk hoe ’n groepie mans met hul karakteristieke Franse pette en kruisbande rustig rondstaan en boules (‘n rolbalvariasie) speel tydens hul etensuur.
Marseilles is ‘n kosmopolitiese hawestad en invloede van die Franse koloniale Afrika is oral herkenbaar.  Die magdom seilbootjies in die ou hawe area is ‘n aanduiding van die groot Europese uittog in die somer na die populêre Mediterreense kus. Hoog teen die heuwel pryk ‘n indrukwekkende katedraal, die Notre Dame de la Garde, met sy goue beskermengel.
Hier smul ons toe vir oulaas aan die bouillaibaisse, ‘n ryk en geurige vissop-bredie. Salut, op ons somer in Provence!