Saturday, 22 June 2013

Travemunde en Lubeck

Wat van ‘n vissie uit die Baltiese See?     
                

Ons sit en smul aan seekos by  'n visplekkie in Gordonsbaai saam met ons Duitse vriende . Ek dink hard-op: "Waar anders in die wêreld kan jy nog so lekker sit en vis eet, reg teenaan die see? “
"Reg noord, halfpad om die aardbol, by Travemunde aan die Baltiese See," is Axel, ons Duitse vriend, se spitsvondige antwoord.  Daarop volg dan ook sommer die goedgunstelike uitnodiging na Noord-Duitsland om in hul vakansiewoning tuis te gaan.

"Moin, moin...!" word ons hartlik begroet deur die treinkondukteur . Dis 'n  nuwerwetse Noordduitse variasie van "morgen, morgen", en dit neem my Afrikaanse breinselle 'n rukkie om  kloutjie by die oor te bring en daarop te reageer.

Die ICE-sneltrein wieg amper geruisloos deur die lowergroen landskap van Schleswig-Holstein . Ons op pad na ons dubbeldoor-bestemmings, Travemunde en Lübeck , wat letterlik toon in die water staan aan die Baltiese See.

Hierdie twee plekke in Schleswig-Holstein kan geografies as' t ware in een asem genoem word, want hoewel hulle hemelsbreed van mekaar verskil t.o.v hul bekoring, is hulle deur hul ligging  en geskiedenis onlosmaaklik aan mekaar verbind . So, 'n mens kan maar sê, Lübeck bied die kultuur en Travemunde verskaf die plesier – ‘n heerlike vakansie-kombinasie!

Travemunde is die noordelike monding van die Trav-rivier in die Baltiese See en Lübeck is die historiese ou eiland-stad, omring deur rivierkanale, sowat 15 minute stroom-op.

Dus bied Travemunde die spierwit sandstrande en hawe-bedrywighede wat besoekers lok, terwyl Lübeck, die ou Hansastad , ryk is aan geskiedenis en handelsfaam.  Die stad het ook die eretoekenning van UNESCO Werelderfenis-gebied verwerf en staan deesdae trots met die nuwe naam Hansastadt-Lübeck, met die keiserlike dubbelkop-adelaar as stadsembleem..

Wat wil jy dan nou meer hê  as ses van die een en 'n halfdosyn van die ander tydens ons 14-daagse verblyf?

Vir twee weke lank kan ons ontspan en verken.  Ons Duitse vriende bied gerieflike verblyf aan in Travemunde, loopafstand van die bushalte, treinstasie en  die Skandinavienkai vir veerbootvervoer . 

Hulle gee vir ons 'n goeie oriënteringstoer in Travemunde, Lübeck en ooskusdorpies, maar laat genoeg tyd oor vir ons eie verkenning en ontdekking van lekker eetplekke,  bootvaarte, daguitstappies, en dies meer.

Ons besef egter maar alte gou jy moenie jou Euro's terug-omreken in Rand nie! Alles is maar duur, uit die Suid-Afrikaanse oogpunt gesien.

TRAVEMUNDE:

Travemunde Strand se somer, son en saffier is die Duitsers en Skandinawiërs se gunsteling-wegbreekplek vir  hul kort noorderlike somer .

Die hoofattraksie van Travemunde is sy seefront-bedrywighede. Groot Skandinawiese veerbote vaar net 'n armlengte of twee voor jou verby en dok by Skandinavienkai. Dit bied mens die geleentheid om oornag na Swede te vaar vir ' n naweekbesoekie, of dalk Finland toe vir effe langer, as jy jou beursie kan rek.

Saans is dit te mooi om die verbyvarende liggies dop te hou.Dit laat my so dink aan Totius se gedig Repos Ailleurs (die rus is elders) waar mens altyd die “ander plek” as  die ideaal sien.

Verder is daar drie stasies en verskeie busroetes om ons te bring waar ons wil wees. Daguitstappies na ander kusdorpies soos Timmensdorferstrand en Niendorf, is maklik.

Vorderreihe is Travemunde se seefront-promenade met heerlike vis-eetplekke, koffie en koek-hoekies, modewinkels en boetieks. Dis hier waar ons ook luilekker tyd kan verwyl met mensekyk,  waar ons allerlei soorte verbyvarende bote en seiljagte kan dophou (en beny!) en rivier-bootvaarte kan onderneem vir so min as een Euro!

En dan so tussen-in, proe-proe ons aan ‘n "kopi" (  'n König Pilsner-bier) en bratwurst. Vir 'n soetigheidjie soek mens niks verder as Niederegger se tradisionele marsepein-lekkernye nie!

Vis is hier in Travemunde koningskos. Jy kan vanuit die vissersbote  by Baggersand vroeg-vroeg jou aankope doen, of by 'n eetplekkie jou "matjes, schollen, rotbarsch, zander",  of wat ook al liplekker lyk, bestel saam met ‘n porsie aartappelskyfies of 'n broodrol. Saam met iets te drinke sal 'n visete jou so om en by tien Euro kos. Ons gunstelingplekkie is die Fisch Kombüse!

Besondere besienswaardighede is die oudste rooibaksteen-vuurtoring in Duitsland met ‘n uitkykplek oor die spierwit strand en riviermonding,  asook die 4-mas museumskip Passat wat besoek en besigtig kan word en vir feesgeleenthede gebruik word. Die seilskip is die trotse dorpsembleem van Travemunde.
Ons verkyk ons ook aan die  tipiese Hansastyl-huisies, o.a. die Alte Vogtei ( ou hawemeestershuis) se beeldhoukuns in die tuin,  en  die ry op ry strandhutjies  of "korwe" op die lang wit strande.  Hier draai jou korf weg van die windkant om die somersonnetjie na behore te geniet .

Ons besoek ook die pragtige ou statige St Lorenz-kerk (450jr oud) wat steeds ‘n kerkdiens bied op Sondagoggende. 'n Wandeling verder aan na die Kaiserallee-seefront, pryk die groot casino en kuur-spa,  en lieflike miljoenerswonings.

Iets wat my ook altyd sal bybly, is die magdom lowergroen bome, soos die wit en rooi kastaiing met hul regop kersblakerblomme. In Brügmannsgarten word feestelikhede en konserte gehou onder hierdie massiewe bome.Ons is net betyds vir die  interessante plaaslike handwerkkuns-uitstallings.

Vanaf die oorkantste rivieroewer, nl die Priwall, het besoekers ' n pragtige uitsig oor die stranddorp-bedrywighede, ' n Veerbootjie vervoer ons in 'n kits heen en weer . Die duurste aftreeoord-kompleks, Rosenhof, is hier vir die ultra-welgestelde Duitse bejaardes (multi-miljoeners +).

Einde Junie in somertyd skop die Sand World sandkasteelkompetisie gewoonlik af, afhangende van die wispelturige weer, natuurlik! Ons verwonder ons aan die kunstigheid en wonder hoe “toor” hulle die sand om so stewig  en hanteerbaar te bly!

Travemunder Woche is die spesiale seilvaart-kompetisie in Junie wat
' n week lank duur vir al die ultra-fikse , geesdriftige seilvaardiges. Ander somerfeestelikhede is orkesmusiek en vuurwerkvertonings. Ons is geseënd met lekker somerweer en die daglig strek lank tot  so nege - tienuur se kant!

Sowat van  vreemde tale deurmekaar het ek nog nooit saam gehoor nie en sowat verskillende soorte kleredrag ook nog minder.Jy kan sowaar maar jou geel kant matriekafskeidsrok by jou bruin leerbaadjiea aantrek en pienk tekkies daarby dra.  'n Bont serp of "schal" sal ook nie sleg lyk daarby nie! Niemand kyk vir niemand nie, jy kan dra wat jy wil en lyk soos jy lyk, geen probleem nie! Almal is hier aan als gewoond en het seker al alles wat anders is,  reeds gesien!

Dit is opvallend dat soveel ouer mense hierlangs ook nog fietsry. Motors en grypdiewe is nie hier gevaarlik nie, maar  wel ‘n fiets wat jou onverhoeds van agteraf kan skep  !

Moontlik het die lekker somerweer iets daarmee te doen dat die mense hier so energiek voorkom, of kan dit toegeskryf word aan die feit dat 'n groot deel van Travemunde slegs wandelroetes en strate het waar motors nie mag kom nie.Spesiale parkades is net buite die "altstadt".

Die trein neem ons verder na Hamburg of Berlyn vir 'n dag se Hop On Hop Off  busstadsbesigtiging, en met die trein op die veerboot, kom ons ook binne 'n paar uur by Kopenhagen. Interessante en welbarende stede en elkeen het sy eie storie!

Ons Deens-Duitse treinpas werk lekker, maar ons moet maar skarrel tussen peronne vir die regte aansluitings, slegs ‘n paar minute uitmekaar!

LŰBECK:

Hansastad Lübeck (afkomstig van Liubice- the beautiful) is die ou patriarg van Schleswig-Holstein en bestaan al sedert 1000 nC . Lübeck het ‘n lang, welvarende sout-handel geskiedenis met die Baltiese lande, vanweë sy ligging aan die Trave-riviermonding .

Ten spyte van geweldige stadsbrande in die twaalfde eeu en verpletterende bombardering tydens WO II,  is “middeleeuse” Lübeck steeds ‘n charismatiese, lewendige , werkende stad wat besoekers lok na sy gerestoureerde staatsgeboue, katedrale en museums,

Sedert 1987  het Lübeck met sy sowat 1300 erfenishuise en ander geboue UNESCO Wêrelderfenis status, tog dit is geensins net ‘n dooie opelug-museumdorp nie.

Die ganse stad is omring deur ‘n bevaarbare rivierkanaal met indrukwekkende stadspoorte waardeur verkeer toegang verkry. Bootvaarte neem ongeveer 45 minute lank en bied ‘n pragtige uitsig op die stadsprofiel, brûe, kerktorings , asook die lowergroen woud-oewers met skaduryke wandelroetes.

Ons vaar verby die bootmuseum-hawe, waar vasgemeerde , gerestoureerde skepies en bote outentieke karakter verleen aan die stad. ‘n Boot-gilde  is gestig vir welgestelde mense met bootvaardighede wat hul vrye tyd wil verwyl met opknapping en instandhouding.

Vanuit die Petri-kerk se uitkyktoring het ‘n mens ‘n asemrowende 360 grade-uitsig oor die pragtige ou stad. Lübeck het sewe groot kerke met spits groendaktorings (en nog ‘n klomp ander wat minder herkenbaar of onthoubaar is!)

Ons kan maklik in een dag meeste van die besondere besienswaardighede te voet verken, soos die ou Rathaus,  die dubbeltoring-Marienkirche ( met die verbanne duiwel op die buite-trap!), die Dom-katedraal,  Holstentor en Burgtor stadspoorte , 2 poppeteater-museums en vele ander interessanthede.

Ons dra stewige stapskoene , want die keisteen-straatoppervlaktes werk andersins maar  erg aan die voetsole!

Die markplein by die ou Rathaus is die lewendige bymekaarkomplek waar besoekers tradisionele kontreikos kan proe. Niederegger (reeds 200 jr bedryf!) is bekend vir sy tradisonele marsepein-produkte en is seker die gewildste besoekpunt in Lübeck, wat smulkos betref. Hier vergaap en verlustig ons ons aan die heerlike verskeidenheid amandelgeur-lekkernye. Ek het sommer al my marsepein-geskenkies vir mense tuis hier aangekoop, omdat dit so eg Lübecks is!

Veral interessant vir die voetganger-besoeker is die Gänge, agterhuisies  of binnehofies wat versteek lê agter die facades aan straatkant. Hier wikkel ons ons deur smal ingange om die mooiste  rusplekkies, tuintjies en woonplekke van die gewone Lubeckers te ontdek.

Schiffergesellschaft is ‘n spesiale restaurant in die ou skeepsvaartsgebou waar ‘n verskeidenheid miniatuurskepe as versieringsbeligting van die plafon hang en ‘n besondere outentieke  ambience skep.

Kerstyd is glo besonders in Lübeck ; Duitsers van regoor die land, asook Skandinawiers, probeer ‘n punt daarvan maak op die kalender om Lübeck in die winterfeesgety te besoek vir die kersmarkte, kersdienste en spesiale stadsbeligting. Ek wens  só ek kon Lûbeck ook  in haar wit sneeukomber en kersversierings uitgedos sien!

DAGUITSTAPPIES:

Ons Deens-Duitse treinpas laat ons toe om Kopenhagen in een dag te besoek. Die trein word op die veerboot gelaai en binne drie uur is ons in die Deense hoofstad! Hier besoek ons die Tivoli-pretpark en Strøget-wandellaan deur die hartjie van die stad, asook die charismatiese Nuhavn-waterkant.

Op ons reisplan is ook dagbesoeke aan Hamburg en Berlyn, blitvinnig  bereikbaar vanaf Lübeck met die ICE-sneltreine! Van die twee verkies ons die pragtige, welvarende kultuurstad Berlyn, waar ek sommer ‘n week lank sou kon verwyl. Hamburg se hoofattraksie is vir ons maar sy hawefront wat wemel van besoekers  en verskeie hawevaart-geleenthede bied.

Die Oossee-dorpies Timmensdorp en Niendorf word per motor en te voet aan ons bekendgestel deur ons Duitse vriende.Hulle maak dit interessant deur allerlei anekdotes te vertel en besondere besienswaardighede uit te lig:
-          spierwit strande en ‘n see-profiel van bote, skepe, veerbote, seilplanke,
-          ‘n akwarium  en die voëlpark waar hul eie troetelpapegaai gaan “aftree” het!
-          opelug-eetplekkies op die strand en  welriekende koffiehuise,
-          luukse vakansiewonings  en gastehuise wat tussen die lowergroen uitsteek,
-          die ywerige beoefening van sandkasteel-vaardighede , 
-          tweedehandse nerts-pelsjasse te koop aangebied aan rakke in die hotel se voorportaal,
-    steil duin-uitkalwings aan die kus.

Wonderlike herinneringe word digitaal vasgelê. Ons opregte Duitse vriende voel vir ons soos “reine Bernsteine ( die waardevolle amber-steen van die Baltiese Seekus) en ons is soveel dank aan hulle verskuldig.

Wie sou nou ooit kon dink die gemoedelike waardering van ‘n plaaslike vissie sou ons by al hierdie mooi plekke, doer ver Noord, uitbring?


Wednesday, 8 August 2012

“Route du Vin” van die Franse Elsass



Vanjaar in Junie het ek die Elsass-streek van Frankryk aan die Franse westekant van die Ryn uitgesonder vir ‘n besoekie van 4 dae, voordat ek sou koers kies Italië toe om Caren en Anita te ontmoet.

Die hoofdorp langs die Route du Vin is Colmar ; ek het toevallig op die Internet afgekom op Chez Leslie se gastehuis, bekostigbaar en goedgeleë naby die stasie. Die Shoe Room was ruim en pragtig versier met die Engels-sprekende eienares se skoen-memorabilia.

Colmar self, is ‘n pragdorp met ‘n interessante oustad langs ‘n  rustige rivier waar jy die mooi hout-inlegstyl van die ou geboue kan waardeer, museums kan besoek, markies deursnuffel en rondstap net vir die pure lekkerte daarvan om soveel dorpskarakter en ambience in te neem. Om nie te praat van die balkonne en stoepies vol malvas en kleurvolle petunias nie! Daarvoor het ek mos maar ‘n sagteplekkie…

‘n Toeristetreintjie met kommentaar neem jou vir Euro 6  ( 45 min.) deur die dorp na die beste besienswaardighede en geskiedkundige plekke waarvan jy kennis neem en net so gou weer vergeet! Daarna klim ek af en stap na die plekkies wat ek as spesiale herinneringe digitaal wil vaslê, soos die boomryke Unterlinden–park en Little Venice, asemrowend  mooi in sy waterkant-glorie! 

Hier is kanaalbootritte vir Euro 4  ook moontlik en dit bied ‘n aangename blaaskansie vir  my moeë voete! Die groot publieke tuin of park met spuitfonteine en beeldhouwerke is ideaal vir ‘n ruskansie en flambé-versnapering  (uie-pizzaskyf) wat ek by die buitelug-kosmark gekoop het.

Omdat ek die volgende paar dae van busvervoer na die klein wynlanddorpies moes gebruik maak, sou ek mooi moes beplan om die regte bus by die regte “kaai” te haal, want soms is daar net een bus heen- en een bus –weer per dag! Alle busse ry egter verby die stasie-depot, wat vir my gerieflik was.

Elsass se wingerdgebied lê hoofsaaklik in ‘n smal strook aan die suidelike hang van die Vosges-berge in die rigting van die Ryn-rivier. Die wyne van hierdie streek is ligte, vrugtige witwyne wat deur besoekers geproe kan word  by ‘n reeks karakteristieke wyndorpies  langs die 140 km lange Route du Vin, soos Ribeauville, Ammerschwir, St Odile,  Kaiserberg ( geboorteplek van Albert Shweizer) ,  en Eguisheim, om maar net ‘n paar te noem.

Die Féte des Vins word jaarliks in laatsomer in Riquewhir , ‘n  klein middeleeuse dorpie  hier aan die voetheuwels van die Vosges aangebied. ‘n Wynland-treinrit ( met kommentaar in jou taalkeuse) neem besoekers deur die wingerde bekend vir die Gewurtztraminer, Riesling. Muscat-wyne.

My gunstelingdorpie was egter Eguisheim waar mens verwelkom word deur krassende ooievaars wat nesbou. G’n wonder hierdie ooievaars is die emblem van die Elsass nie!

Behalwe vir middeleeuse kerke,  standbeelde, vestingmure en uitkyktorings, bekoor die pastelkleur-houthuise my die meeste.

Wandelings langs smal stegies word ‘n visuele ontdekkingstog: potte vol blomme op trappies, vensterbanke en by voordeure, loodglas-vensters,  beskilderde mure, gegote yster-uithangborde, waterdrink-fonteine ,  bak-en -brouerytjies, druiwe-priële  en natuurlik wynproelokale om elke draai!

Hier eet ek ‘n  kilojoule-bom van ‘n Elsass-burger  -  ryk en lekker met  aartappelkoekies onder en bo , spek, maalvleis-pattie, uieringe en slaai.

Ek neem my arme voete af –  in die warm weer blase geloop ten spyte van my  getroue en gewaardeerde Crocs! Maar,  “ik doe voort” en koop ‘n paar geskenkies by  een van die handwerkwinkels om my aan die besondere dag te herinner en my besoekie af te sluit. Veral die pragtige keramiek van hierdie kontrei beindruk my, maar soiets kan ek beslis nie oor oseane vervoer nie.

Ek is maar verplig om ‘n vreemdeling te vra om tog net ‘n fototjie van my by die winkel-ooievaars te neem. Gelukkig haal ek toe darem laatmiddag die laaste en enigste bus terug Colmar toe. Ek kon al sien hoe gooi hierdie tante duim as ek die bus mis!

Hier is ‘n mens ook sommer naby aan die bergroete Route des Cretes met sy wonderskone uitsig oor die wingerdland, soos by die suidelike Grand Ballon. Noordwaarts lê die Vosges Nasionale Park.Ongelukkig vir my ry die busse nie soontoe nie en is ‘n mens op motorvervoer aangewese.

‘n Klipgooi van die noord-oostelike grens van Frankryk met Duitsland, lê Ou Strasbourg met sy Duits-Franse dubbelkarakter in die omhelsing van ‘n bog in die Ryn. Die Rhône en Marne-rivierkanale  vloei hier ook saam sodat die ‘oustad’ heeltemal omring is met bevaarbare waterweë. Ek sit ‘n volle dag opsy vir hierdie uitstappie per trein vanaf Colmar.

Die dag in Strasbourg word deurgebring op die miniatuur-toeristetreintjie, op die kanaalboot, en ‘n  wandeling te voet deur die smal keisteenstrate met hul eie middeleeuse bekoring. Straatname word hier nog in beide tale aangebring. Ek wonder - waarom dan Duits as Strasbourg in Frankryk is? Die antwoord lê seker in die geskiedenis opgesluit…

Die 13de eeuse  historiese rooisandsteen-katedraal , die Notre Dame in Romaneske-styl, is vir my die pronkstuk van die ou stad. Verder maak die  antieke astronomiese klokhorlosie en Pilaar van Engele daarnaas, asook die Palais de Rohan aan die oewer en Musee des Beaux Arts ( kunswerke van Klee, Monet, Klimt) my dag se besienswaardighede uit – alles binne  bestek van een vierkante kilometer en drie uur!

Met my geldsakkie styf vasgeknip gaan loer ek vir oulaas in by die houtwerk-vertoonlokaal in die Baumann Kammerzell. Sowat van wilskrag het jy nog nooit gesien nie!!

Polities het Strasbourg sy gesag ook behou; dit is die setel van die Europese parlement (Palais de l’Europe), asook die Europese Hof vir Menseregte. ‘n Bootvaart om die stad stel  my in staat om hierdie geboue wat andersins ‘n bietjie te ver is vir stap , van naderby te besigtig.

Petit France is ‘n middeleeuse kanaal-straatgebied met pragtige ou 16-17 de eeuse houthuise aan die oewer, teenaanmekaar gebou, met kleurvolle blombakke vol malvas. Kyk , enigiets wat soos ‘n toring mag lyk, het ‘n deurmekaar nes van takke, want die ooievaars is terug en kras : "hier is ek nou baas!"

Waar eet die Strasbourgeois? Restaurante bie om die guns van die talle besoekers. Kies maar uit die peperduur La Petite Alsace met tradisionele, ryk Alsassiese lekkernye , Zum Strissel vir wildsvleis, choucroute alsacienne  en crème brulée, of straakmarkstalletjies met worsbroodjies of macaron-koekies. Die keuse is myne! Ryk en lekker soetgebak pryk in elke derde winkelvenster en ek kan nie anders as om my vir oulaas te vergryp aan ‘n aarbei-roomtertjie nie!

Alte gou is my Elsass-kuiertjie op ‘n ent en kies ek via Switzerland koers na die suide.

By stasies kyk ek die manne deur… wie gaan ek nader om my met die reistas  by die trappies op en af te help…?


Sunday, 5 August 2012

‘n Spesiale wegbreek na La Spezia


Ons klink ‘n glasie Chianti Classico om ons ma-en-dogter reunie te vier. Lo ‘Sfizio is die kroegie onder ons blyplek in Via del Prione van La Spezia. Dis nege-uur aand en die sonsondergang begin verkleur.  25 jaar  ná ons drie se eerste besoek aan Europa beplan ons weer ‘n week se wegbreek saam hier aan die idilliese blou Liguriese kus, Suid van Genoa.

La Spezia in die Tramonti-distrik, is bereikbaar per trein vanaf Milaan en ons afskoppunt vir verkenning van die 5 Cinque Terre-dorpies wat teen die rotskranse hang - sekerlik van die mooiste bestemmings in Italië so bymekaar.

Hier gaan ons tuis in die sentraal-geleë Apartamenti Lagiaradelprione,’n ronde mondvol Italiaans! Heel bekostigaar teen Euro 85 vir drie persone wat ongeveer R850 uitwerk, naby die varsproduktemark,  winkels en eetplekkies.

Soggens maak die krysende seemeeue wat agter die viskratte by die oggendmark aan is, ons wakker. ‘n Koffie-aroma en die geur van varsgebak spoor ons aan om elke dag vroeg-vroeg aan te pak.

Saans weer kan ons vanuit ons kamervenster die interessante aandbedrywighede op die wye wandellaan onder  dophou: ineengestrengelde verliefdes  , oupas en oumas met kleinkinder-stootwaentjies, modieuse Italiaanse meisies, gesinne wat saam die aandwandeling  passagiato onderneem, of baas-en-hond op ‘n uitstappie...

La Spezia se spesiale ligging maak dit die ideale afskopplek vir verkenning van die Liguriese vissersdorpies. Daarbenewens is daar heelparty kunsmuseums , parke en villa-tuine wat besoek kan word as jy dalk ‘n ledige uurtjie of twee daaraan wil afstaan.  Die groot amfiteater-baai verleen gerieflike toegang vir veerboot- en seiljagverkeer.

Ons stap deur die welige publieke tuin na die see-promenade om retoer-kaartjies (Euro 6) te koop vir die veerboot van die Navigazione Golfo dei Poeti (Golf van Digters) na Portovenere, die naaste vissersdorpie en vakansieplek op die mooi kuslyn. Die see wemel van seilbote in elke grootte  denkbaar, want dis mos somervakansietyd in Italië! 

Baaiers en sonaanbidders lê uitgestrek op groot rotsblokke wat aan die waterkant aangebring is. Vanaf die Doria-kaai is ‘n bootrit na drie kleiner eilandjies Palmaria, Tino en Tinetto, ook moontlik. Veral die  groen seegrotte kry hier aftrek.Ons koop sonhoede en pas goedkoop groot sonbrille aan vir ‘n foto-sessie! Mooi herinneringe aan ‘n spesiale vakansie saam!

Ons verlustig ons aan die mooi serpe, somermodes  en snoepery-winkeltjies in die smal straatjies. Heerlike aromas lok ons na ‘n restaurantjie vir ‘n yskoue Moretti-bier, ‘n bordvol prosciutto en spanspek, met mozzarella en tamatieslaai daarby. Daarna moet ons mos aan ‘n lekker  amandelgeur- of suurlemoen-gelato lek om die somerhitte op ons lywe bietjie te verlig. Ons klim op na die  statige ou fort van San Pietro en vat gou ‘n privaat ‘dippie’ in die koel water tussen beskutte rotse.

Dan verder per boot na die mooie Lerici aan die oorkantste oewer van die baai, met sy groot sandstrand , seiljag-marina en ruim dorpsplein omring met palmbome en blomstruike .Hierdie idilliese  kusdorp met sy pragtige villas  was besonder gewild onder skrywers en digters en vandaar die benaming van die baai as ‘Golf van  die Digters’.Die middeleeuse kasteel teen die heuwel staan pragtig afgeëts teen die skemerlug.Deesdae word dit gebruik as ‘n paleontologiese museum.

Die son blink oor die water en die skaduwees rek langer – dis tyd vir ‘n lemoncello-suurlemoenlikeurtjie en peuselkos by  Bar ’Cello.

Caren en Anita wil opsluit gaan fietsry op die muur wat  die oustad Lucca omring.Ons kies koers daarheen per trein via Pisa, wandel in die smal straatjies met interessante eenkamer-winkeltjies en drink ‘n yskoffie terwyl die somersweet ons aftap! Veral die reuse-magnoliabome wat bo die huise uittroon beindruk my!

Netso hittig is ons daguitstappie na Florence, waar Anita elke nou en dan verdwyn in een van talle leerware-winkels.Die stad wemel van toeriste en toue lank staan en wag vir toegang tot besienswaardighede.Nogtans sien ons darem weer die mooi ou Duomo-katedraal van driekleur-marmer, die Ponte-Vecchio oor die Arno-rivier en die Signoria-plein met sy pragtige beeldhouwerke.
.
Volgende kom die UNESCO-erfenisgebied van Cinque Terre aan die beurt! Om al vyf pastelkleurige dorpies Riomaggiore, Vernazza, Monterosa, Corniglia en Manarola, behoorlik te kan waardeer, is daar twee  moontlikhede: vir energiekes is daar die krans-wandelpaaie wat dorpies verbind (Cinque Terre-kaart Euro 5), vir oues en luies is daar die veerbootjie van La Spezia  @ Euro 25 vir ‘n dagkaartjie met alle stoppe vir op- en afklim.

Die Via dell’Amore is ‘n 2 kilometer-staproete tussen Riomaggiore en Manarola , maklik begaanbaar. Weens onlangse rotsstortings na ‘n vloed, lei die wandelroete verder-aan met ‘n ompad deur die Nasionale Park , hoër deur wingerde en boorde, met manjifieke panoramas oor die see en kuslyn!

Hierdie twee dorpies langsmekaar se huisies in pastelkleure lê  as’t ware opgestapel teen die steil kranse en ons moes ons maar versoen met baie trappies klim ! Wat my ook veral sal bybly, is hoedat bootjies van ‘n hoër dorpsvlak met toue  te watergelaat word na die kaai dóer ver onder.

Monterosso,  die oudste dog besigste dorpie, spog met ‘n antieke  en moderne dorpsgebied langsmekaar, maar aan seekant verbind deur een groot sandstrand. Hier dok jy op by die betaalstrand met sy sambrele en lê-stoele . Ons  kies maar eerder koers na die rotse vir ‘n vinnige afkoel-sessie eenkant. 

Die Mesco-rots met ‘n uitgekapte Reus-reliëf, is die fotografiese fokuspunt van Monterosso.Teen die skuins heuwel opwaarts is terasse  lemoen- en olyfboorde aangebring.

Vernazza lê  weer in ‘n smal kloof van die Reggio-heuwel oor ‘n halfverskuilde rivierloop, en sy pragtige ou piazzetta staan toon in die water! Hierdie mooiste kransdorpie is ongelukkig onlangs swaar getref deur onverwagte en verwoestende vloedwaters van die ondergrondse stroom ; herstelwerk is egter flink aan die gang om Vernazza se volle glorie  en ambience te herstel.

Corniglia is die enigste dorpie wat nie bereikbaar is per boot nie, omdat dit hoog bo-op die kruin van ‘n heuwel lê. Ons kon wel daar aandoen per trein en verder te voet afstap vir ‘n koel glasie van sy bekende Vernaccia-wyn.

So het elkeen van die agt Liguriese kusdorpies wat ons besoek het sy eie sjarme wat die een van die ander onderskei. Ons week-wegbreek saam is verby, maar danksy ons kameras sal besondere indrukke en mooi herinneringe ons altyd weer kan terugvoer na ons spesiale tyd by La Spezia!




'n kuiertjie in Como

 O Como mio!

‘n Besoek aan Como voel altyd vir my soos ‘n ontrimpeling van my siel... Hier by my geliefkoosde plek sou ek en my dogters ná 25 jaar sedert ons eerste reis saam deur Europa, weer vir ‘n week lank reunie hou om my spesiale verjaarsdag te vier .

Die noord-westelike Lombardiese meergebied van Italië sluit onder andere in: die Como (Lario)-meer, Lago Maggiore en Garda. Teen die agtergrond van die sneeubedekte Voor-Alpe en Dolomiete wat die grense van Italië met Switserland en Oostenryk vorm, lê die mere soos stukkies saffier in ou gletser-skeurvalleie.

Indien ‘n mens op trein– of busvervoer aangewese is, kan hierdie drie pragtige mere maklik binne een uur vanaf Milaan bereik word. Mei-Junie is nog nie volwaardig toeristeseisoen nie; die meeromgewing is rustig en lowergroen. Die Italianers het so ‘n mooi woord vir hierdie lentegroen – Primavera.

My gunsteling-meer Como, in ‘n onderstebo Y-vorm, en die derde grootste van hierdie noordelike mere, is ongeveer 30 km lank en tot 5 km wyd, ‘n lang smal meer wat by die been van die Lecco-meer aansluit.

Hierdie oewerdorp het pragtige promenade-wandelpaaie, Lungo Lario Trento en Lungo Lario Trieste al langs die Giardini Publico tot by die Volta-tempel, opgedra aan Alessandro Volta van elektriese battery-faam. Verder langs hierdie promenade lê lieflike villas, soos Villa Saporetti en Villa Olmo , wat deesdae vir kuns-uitstallings aangewend word, soos dié van Bruegel tydens ons besoek.

Como-dorp self is maklik per bus of te voet verkenbaar; die hart van die dorp is ongeveer 2 vierkante kilometer. Enkele hoogtepunte wat ons by ‘n week-lange besoek ingesluit het, was die Santa Maria Maggiore 14de-eeuse Duomo langs die Broletto (eertydse stadshuis) en kloktoring wat saans met sononder die eenvoudige Ave Maria-aandlied uitbeier. Aan hierdie kerk is ‘n paar eeue lank gebou en daarom is die boustyl ‘n mengsel van Goties, Barok en Renaissance. In die gewyde stilte steek ons gou kersies op vir geliefdes tuis.

Ons het veral belanggestel in die Museo Didattico della Seta, oftewel die Italiaanse sy-tekstielfabriek waar ons die sy-weef proses van kokon tot pragtige sy-serp kon volg. Natuurlik moes ons inloer by verskeie chocolatrie’s en die kaashuis Casa de Parmegiano , asook die opelug-mark by Piazza Vittoria met tuisgemaakte pesto en ander ingelegde Italiaanse snoeperye!

Porta Torre is die poort deur die antieke ou stadsmuur wat die ou-stad van die nuwe skei.

’n Rattreintjie het ons vervoer na die bo-punt van die berg by Brunate waar ons op ‘n helder dag bo van die heuwel kon afkyk op die lieflike panorama van hierdie ou en nuwe Como: villas en tuine , hawebedrywighede en die mooiste meer-vergesig. Vir die energiekes wat meer aktief wil wees, is daar en maklike staproetes van een berg-gehuggie na ‘n ander.

Vanaf die Como-kaai regoor Piazza-Cavour vertrek bote na ‘n groot verskeidenheid oewerdorpies wat die een mooier wil wees as die ander. Busse karwei pendelaars ook langs die oewers op en af sover as wat jy wil reis. In die smal klipstraatjies skuur busse sentimeters by mekaar verby. Bus-bestuurders slaan soms selfs ‘n truspieëltjie op om dit te vergemaklik en vleg behendig deur tonnels en om skerp draaie. Ons moes maar klou en oë toeknyp!

So ’n rit bied egter ‘n intiemer kykie op die asemrowende villas en welige plantegroei. Wisterias, en ander blomrankers kruip op teen klipmuurtjies ; krismisrose, camellias en rhododendrons staan uitgedos om elke hoek! Deur die gegote ystertralies sien mens momenteel die terrastuine met spuitfonteine wat ‘n varsheid verleen aan die amper sub-tropiese omgewing. Pragtige wit tuinbeelde kyk uit oor die meer-panorama.Ons kameras werk oortyd soos wat ons hierdie mooi visuele herinneringe wil vaslê om tuis later weer daaraan te herkou.

‘n Driehoek veerbootroete verbind pragtige oewerdorpies met welluidende name Argegno, Lenno, Tremezzo, Menaggio, Varenna en Bellagio, wat terselfdertyd uitkruip teen die skuins helling en met toon in die water staan.

Wye waterkant-promenades lei om die dorpies en ons keuse van wandel-promenades en bootvervoer lê voor ons! Vanaf salm- of okerkleurige rykmanswonings lei trappies af tot in die water waar hul bootjies vasgemeer lê.

Vir my is die heel mooiste plekkie tydens my onlangse Junie-besoek die Villa Carlotta by Tremezzo met 150 spesies azaleas in volle blom! Ons ry onder andere ook verby Villa Balbianella met sy malse tuine wat ook oopgestel word vir besoekers in die somermaande.

Die veerboot hou ook stil by die onbewoonde klein eilandjie,Comacina, waar ons ‘n rustige uurtjie of so kon verwyl vir ‘n lekker koppie cappucino en rondstap.

By ‘n opelug-eetplekkie in Varenna eet ons gebakte Crèpe "asparagus e formaggio" onder ‘n kaaskombersie. Hier word dik warm sjokolade met ‘n teelepel geëet. Te heerlik dekadent vir 8 Euro! Dan durf ons die steil trappies bo na die hoogliggende kloostertuin van Villa Monastero aan vir ‘n asemrowende uitsig oor die spieëlgladde meeroppervlak wat af en toe geluidloos deur ‘n verbyvarende boot geklief word. Voëltjies kwetter in die plataan-lanings en dit aksentueer die stilte wat jou andersins omring.

Die dogters vat hier gou ‘n ‘dippie’ om af te koel in die glashelder water. Bellagio , allerweë beskou as die pêrel van Como weens sy unieke ligging, lê op die punt waar die twee bene van die Lecco- en Lariomere van mekaar skei.

’n Breë kliptrap lei ons na die mooiste , duurste winkels wat ‘n verskeidenheid  Italiaanse spogkuns verkoop – die pragtige Patrizia-syserpe, en duurste leer, porselein of antieke keramiek. Ons kyk ons versadig en knip maar weer ons beursie radeloos toe! Wilskrag?!

‘n Meer bekostigbare tydverdryf is die Euro 6 besoek aan Villa Meltzi se pragtige waterkanttuine en dié van Villa Serbeloni wat tans die hoofkwartier van die Rockefeller Stigting is. Ons stap tot by Punta Spartivento, die uitkykplek waar die Como-meer se drie ‘bene’, in ‘n omgekeerde Y-vorm bymekaarkom.

So ‘n bus-veerboot-bus sirkelroete gee ons weer die geleentheid om met die anderkantste oewer langs terug te ry om nog meer asemrowende wegsteek-plekkies te ontdek.

Pryse kan interessantheidshalwe genoem word in Euro (Euro 1 ongeveer R10), ‘n Mens betaal 0.50 Euro vir toiletgeriewe, Euro 1 busgeld in die dorp vir 60 min., Euro 3 na meerdorpe verder weg en Euro 6 per veerboot eenrigting na genoemde dorpies, of Euro 25 vir ‘n dagkaartjie met alle stilhouplekke. Koffie of bier sal jou Euro 3 uit die sak jaag en ‘n pasta van jou keuse , ongeveer Euro 8.

Oor Como Mio kry ek hoendervleis ; ek sal ‘n maand lank daar kan verdwyn, elke dag se voorraad by ‘n klein mercato gaan uitsoek: ‘n tros van vyf vars rooi tamaties, skyfies salami, prosciutto en ‘n verskeidenheid stukkies kaas. Appelkose en vars vye lê ‘n hele hand vol! By die gelateria kon ons ons elke dag aan ‘n ander geur roomys verlustig!

Como in sonskyn, reën, of deinserigheid – die weer is bysaak – elke weersomstandigheid verleen ‘n ander perspektief of sjarme aan die meer.
Uitstappies vanaf Como is ook moontlik. Stresa aan die Maggiore-meer, het ‘n sagter Alpe-silhoeët Voorheen was dit die speelplek van welgesteldes, maar deesdae heelwat meer besadig en bekostigbaar.

Die groot aantrekkingskrag van hierdie meer is die drie Borromese eilandjies, Isola Bella, Isola dei Pescatori en Isola Madre, elkeen met sy eie bekoring van “hangende” terrastuine, spog-villas , kunshandwerkstalletjies en buitelugkafeetjies aan die waterkant wat ‘n dagbesoek die moeite werd maak. Elke smal gangetjie lei na ‘n ander interessante eetplekkie of uitsighoekie. Die skoonheid in eenvoud is vir ons opvallend – ‘n swaar-dragtige lukwartboom, ‘n pot ligpienk azalea in volle blom, die mooiste malvas denkbaar op ‘n vensterbank met groen luike wat gul oopstaan. Niemand is haastig of ongeduldig nie, niemand roep of praat hard nie.

Ver agter lê die Alpe in skakerings van blou , met die heel agterstes in ‘n sneeukappie gehul. Ons praat nie veel nie , ons absorbeer die aromas en ambience soos ‘n spons en tel net al ons seëninge!

Heelwat verder ooswaarts lê Garda-meer, die grootste van die Lombardiese mere. Met die dorpie Desenzano (wat op die hoofspoorlyn Venesië toe lê) as toegangspunt, kan jy ook hierdie meer jou nesskopplek maak vir ‘n week lank sonder om verveeld te raak of versadig te voel van visuele genot! Sirmione op die punt van ‘n skiereiland-tepeltjie, Limone ver noordwaarts langs die oewer, is welluidende name van besoekpunte.

Besienswaardighede langs hierdie Gardone Riviera wissel van ou fortkastele, soos die Rocca Scaligera en die Catullo-grotte (‘n ou Romeinse spa en argeologiese museum). ‘n Klein treintjie, Il Trenin, vervoer mens na en van die ruïnes. In die skadu’s van groot plataanbome waarin wildekanaries hulself tuismaak, kon ons ons lekker Italiaanse espresso sit en drink en verbygangers bekyk. Na die sentrale plein word sommer as centro storico verwys.

‘n Veerbootkaartjie van Navigazione Lago di Garda vir ‘n dag lank (Euro 25), behoort jou by ‘n hele paar van die afstapplekkies te bring waar jy langs die lungolango meerpromenades die belle viste (uitkykplekke), water-aktiwiteite , mooi tuine en villas kan besigtig.

Drie kilometer buite Riva del Garda kan die Cascata Verona-waterval , wat die 110 meter-diep ravyn oor derduisende jare uitgekalwe het, besoek word vir natuurwandelings. Twee of selfs drie weke kan maklik opsygesit word vir ‘n besoek aan die Lombardiese mere sonder om ooit een dag verveeld te voel; Milaan, Venesië en Verona is binne bereik op die treinroetes, as jy sou wou wegbreek vir meer kulturele besigtiging.

Die laaste dag maak ons gou ‘n lysie van ons nuwe Italiaanse woordeskat. Binne ‘n kort tyd  het  ons maklik 200 woorde  geleer lees en ons kan dit selfs reg uitspreek!

Op pad terug Kaap toe sien ek ‘n SAL slagspreuk op die koffiebekertjie: U Kuhamba, Kukubona – overgesetzynde: “reis maak jou oë oop”.

Reis dus gerus na Como…..!

Monday, 12 September 2011

Kamees uit my reis-collage

Kamees uit my reis

collage

Ons reislustiges het mos ‘n passie wat iewers ‘n begin gehad het , maar seker nooit ‘n einde sal bereik nie... As mens eers begin reis-gesels, kan jy jouself nie keer nie, of jy sit maar weer en dagdroom met ‘n atlas of album oop op jou skoot!

Dan kry ek vonkies van herinnering wat my alles weer opnuut sintuiglik laat ervaar - ek sien, hoor, ruik, proe en voel álles asof dit gister gebeur het:

Voor my geestesoog sien ek weer ’n lap geel sonneblom op ‘n Van Gogh-landskap in Provence, ‘n witgekalkte Griekse huisie met blou vensterluike en ’n skaduryke wingerdprieel....
Ek staan weer in die mis hoog op ‘n Switserse sneuebedekte bergpiek en aan die voet van die Christus-beeld Funchal lig ek my arms ook omhoog…….
Ek hoor die véraf geklingel van koeiklokke op ‘n Switserse weiland, die trompet–eggo oor die water van die kalm Königsee….
Kan mens regtig herinnering ruik? Ek dra ewig saam met my die geur van vars dou op ’n Europese lenteveld, varsgemaalde wakkermaak- koffie by ’n kafee in Wene….
Met toe oë proe ek weer ‘n soet-deurweekte Griekse heuninggebak, ‘n glasie versterkende bloubessiesap in ysige Noorweë….
In my gedagte streel ek oor die koel marmer uit die meesterhand van Michelangelo en ek pluk aan die stringe van die Griekse bouzouki….

Dikwels vra reisvriende my watter reisbestemmings vir my besonder spesiaal was , waarheen sou ek weer wil teruggaan, wat sou ek aanbeveel, of weglaat uit ‘n reisplan.

As ek nou in retrospek ‘n collage kon saamstel van besondere plekke in Europa waar ek al spore getrap het, sou ek die bestemmings hieronder uitsonder as “moet-sien” , of herbesoek-plekke .

Santorini:

My eerste keuse is die unieke eiland Santorini in die suidelike Egeïese See wat per veerboot bereik kan word vanaf Pireaus en ander omringende eilande.

Die hoofdorp, Thira, lê soos uitgestrooide stukkies nougat hoog bo-op die rand van die halfmaankrater van ‘n uitgewerkte vulkaan. Afhangende van hoe haastig jy is, kan hierdie kruinstad per donkie langs 'n steil kronkelpad, per bus, of per kranshysbak bereik word.

Die dorpie met witgekalkte huise, smal gange, kerkies, poorte, kloktorings met blou koepels, kyk uit oor 'n stil, diepblou see waar skepe daar ver onder dobber op 'n goud-verglansde see . Die uitsig oor die see is veral teen sonsondergang asemrowend – ‘n onbeskryflike emosionele ervaring. Teen skemer as die aandklokke begin beier, word liggies een na die ander aangeskakel en Thira word omskep in 'n glinsterende tiara-kroon.

Meteora:

Een van die mees indrukwekkende vestings wat ek nog ooit besoek het, is in die noordelike binneland van Griekeland en bereikbaar per bus of trein van Athene. Hier sien jy die geweldige hoë rotspilare van Meteora , waarop vroeë Bisantynse monnike hoogliggende kruin-kloosters gebou het, soos die Grand Meteoron, Varlaam en Roussannou.

Honderde steil trappies lei boontoe na kloosterkamers en museums met allerlei relikwieë. Mens kry sommer hoendervleis as jy so van bo-af uitkyk oor die dorpies vér onder in die laagte . Dit is asof jy die stilte om jou kan hoor , die ideale plek om te kom mediteer. G’n wonder die eertyse monnik-vlugtelinge het hul juis hier kom afsonder nie!

Elsass-wynland:

Die natuurskone Elsass-wynland lê in 'n smal strook van Frankryk aan die westelike oewer van die Ryn .
Die streek is veral bekend vir sy dorpies met tradisionele houtinleg-huise en muurbeskildering , kleurvolle balkontuintjies, lowerryke woudgebied en wingerd. 'n Reeks wyndorpies lê ingeryg langs die Route du Vin,
Die charimatiese spogdorpie Colmar is per trein bereikbaar vanaf Strasbourg en vandaar kring kontreibusse uit om jou te bring waar jy wil wees. Bring gerus 'n stuk of twee Betschdorf-keramiek saam as mooi herinnering van hierdie uitsonderlike deel van Frankryk met sy ou-Duitse karakter!

Como:

‘n Besoek aan Como is voorwaar ‘n ontrimpeling van jou siel.

Como-meer, is die derde grootste die noordelike Lombardiese mere in Italie, en lê soos ‘n stukkie saffier in ‘n ou gletser-skeurvallei. Mens bereik dit maklik per trein vanaf Milaan.

Como-dorp self is te voet verkenbaar en vanaf die kaai-promenade vertrek bote na oewerdorpies wat die een mooier is as die ander. So ’n rit bied ‘n intiemer kykie op die asemrowende villas en welige sub-tropiese plantegroei. Wisterias, en ander blomrankers kruip op teen klipmuurtjies ; kamelias en rhododendrons staan uitgedos om elke hoek!

Deur die gegote ystertralies sien mens momenteel die salm- of okerkleurige rykmanswonings met terrastuine , spuitfonteine en pragtige wit tuinbeelde .

Oor Como Mio kry ek hoendervleis ; ek sal ‘n maand lank daar kan verdwyn . Como, enige tyd in sonskyn, reën, of deinserigheid ! Die weer is bysaak, want elke weersomstandigheid verleen ‘n ander perspektief of sjarme aan die meer.

Die Sorrentynse skiereiland;

My geliefkoosde nesskopplek in die suide van Italië is Sorrento, vanaf Napels-stasie bereikbaar met die Circumvesuviana-treintjie. Sorrento is die hartklop van die skiereiland; hiervandaan vertrek veerbote na die nabygeleë eiland Capri, en bussies neem besoekers rond vir verkenning van die skiereiland-dorpies..

Te voet sien jy egter die dorp in al sy glorie en eenvoud. Die hoogliggende parktuin bied 'n mooi uitsig oor die kaai-bedrywighede van Marina Grande, die baaiplekke van Marina Piccolo, oor die beroemde Baai van Napels en Vesuvius, deinserig in die verte.

'n Menigte winkeltjies verkoop aanloklike porselein of houtinlegwerk, kamees en koraal en alerlei suurlemoen-produkte

Die Amalfi-kuspad word allerweë beskou as een van die mees natuurskone ritte in Italië. Eintlik skiet my se woordeskat tekort vir gepaste bekrywing van hierdie uitmuntende panoramiese kranspad-roete. Dorpies soos Positano en Amalfi klou hoog teen die kranse vas en onder lê die see blou en stil soos 'n dam.

Capri se Monte Solero is die kruin waarvandaan mens ver oor die see en die bekende Faraglioni rotse kan uitkyk. Die turkooisgroen water by Marina Piccolo se klipstrandjie lok jou om te gaan baai, sommer so tussen die kleurvolle geankerde bootjies.

Salzkammergut:

Sielsrus in die Salzkammergut!
Die Salzkammergut-vallei is 'n romantiese bergparadys met blougroen mere en oewerdorpies, genestel tussen die Oostenrykse Dachstein Alpe . Per bus, trein of motor vanaf Salzburg, is oewerdorpies soos Gmunden, St Wolfgang , St Gilgen, Bad Aussee maklik bereikbaar.

Veral Hallstatt is poskaartmooi en verdien 10 uit 10 vir ligging en natuurskoon. Die dorpie se onderstebo-weerkaatsing lê helder in die meer, die houthuisies is pragtig versorg en daar heers ’n rustige atmosfeer. Dis amper asof elke klank hier helderder is – die akoestiek tussen die bergwande is uitstekend.

‘n Soutmynbesoek, diep ondergronds, is ook ‘n spesiale bonus!

Heidelberg:

Ou Heidelberg in die Rynland is per trein en rivierboot bereikbaar. Die pragtige Duitse oustad langs die Necka-rivier hou ‘n spesiale romantiek in vir die besoeker - wie kan nou die Studenteprins-fliek uit ons jong dae vergeet?

Altstadt Heidelberg het een van die oudste universiteite in Duitsland wat dateer van 1386; deesdae is daar ongeveer 30 000 studente en heers ‘n aanvoelbare “gees”.

Vanaf Bismarckplein kan jy wandel langs die keisteen-voetgangerpad met die mooiste winkels en eetplekkies waar jy kan sit en luister na die middag se Glockenspiel en jou verlustig aan Duitse gebak.

Dan haas jy jou om met die Königstuhl Bergbahn op te ry na die ou Heidelberg Schloss. Bo van die ou kasteel af het jy ’n asemrowende uitsig oor die Neckar-rivier, antieke brûe en oorkantste digte groen woude. In die tuin van die kasteel het ons die fontein van ou ‘Vader Ryn’ raakgeloop - ’n antieke beeld half-liggende op ’n wynkruik wat aaneen vloei en spuit en nooit leegloop nie.

Fjordland:

Die Noorse fjordland is ’n asemrowende gebied van gletsers en tuimelende watervalle uit die hoë sneeubedekte graniet-gesteentes.Ver onder in groen valleie lê die pragtige fjordinhamme waarvoor Noorweê so bekend is.

Ek haal graag aan wat ek iewers in ’n reisbrosjure oor die Noorweegse fjordland gelees het: “No amount of anticipation and no photographs can ever prepare the traveler for the real thing!” Dit is inderdaad so - die stilte en die dramatiese natuurskoon laat ’n mens stil én stom.

Hoog bo by ‘n uitkykpunt het ons ’n ruk lank stilgehou sodat ons die asemrowende skoonheid van die Geiranger-fjord kon inneem. Geiranger was beslis die hoogtepunt van ons toer deur Noorweë.

’n Bootrit oor hierdie spieëlgladde meer, tussen die hoë skeurvallei het ’n fantastiese dag afgesluit. Hout-plaashuisies hoog in die berge, die Sewe Susters-waterval, ander mooi passasiersbote wat geruisloos verby ons oor die water gly, en fantastiese weerkaatsings op die gladde watervlak, het alles daartoe bygedra om hierdie besoek onvergeetlik te maak.

Cinque Terre

Suid van Genoa, langs die blou Liguriese kuslyn, ‘hang’ vyf dorpies hoog aan die rotskranse vasgeplak. Klankryke name soos Riomaggiore, Vernazza, Monterosa, Corniglia en Manarola, pas by die idilliese omgewing, vir my seker van die mooiste bestemmings in Italië. Die Cinque Terre is bereikbaar per hooflyntrein tussen La Spezia en Genoa.

Om al vyf pastelkleurige dorpies behoorlik te kan waardeer, is daar twee ander moontlikhede: vir energiekes is daar die krans-wandelpaaie wat dorpies verbind, vir luies is daar die veerbootjie van La Spezia . Beide opsies bied manjifieke panoramas oor die see en kuslyn!

As ‘ewige reisiger’ bly daar vir my steeds nog ‘n horison , ‘n nr 10-plek wat my naderwink - soos Taormina aan die voet van die Etna-vulkaan in Sicilië, Travemunde (strandoord aan die monding van die Trav-rivier in Noord-Duitsland, of vir oulaas dalk die Groot Muur van China …..
Wie weet? Die hoop beskaam nie.

My reistas staan weer eens afgestof en geëtiketteer. Dit staan oop in afwagting, soos ‘n voetsoldaat wat wag op die bevel. Daar’s nog plek vir ‘n paar nuwe etikette aan die binnedeksel!

Sunday, 21 August 2011

Provence

......afdraaipaadjies in Provence 
 (Anita en Arne se piekniek in Provence)



‘n Lappieskombers, opvoubare piekniekhouer, twee silwer wynglase en sonhoede het voorkeur geniet op die inpaklys vir ons kort somerwegbreek na Provence, Frankryk.
Ons kon ‘n week inpas op ‘n besige werkskedule in Frankryk, en ‘n vriendin het Provence aanbeveel as ‘n afskopplek vir ons afdraaipaadjies....
My verwagtinge van die Van Gogh-wêreld was reeds vooropgestel in ‘n collage van sonneblom, laventelvelde, olyfboorde , wingerde en  antieke heuweltopdorpies. Dalk loop ek nog ‘n legendariese prins op ‘n wit perd raak as bonus! Die hoop beskaam mos nooit!
Ons sou via Parys na Marseilles toe vlieg . Daar sou ‘n rooi Citroentjie  vir ons gereed gestaan vir ons wegbreek-week.
Op die Air France-vlug, ervaar ons alreeds ‘n tikkie Franse kultuur terwyl ons luister na die Franssprekende lugwaardin wat flink ons Rouge-wyntjie skink. Vanuit die vliegtuig kry ons al ‘n eerste blik oor die historiese ou Marseilles, die Meditereense  hawestad. 
Ons wou eers die  afdraaipaadjies van die Luberon Nasionale Natuurpark vir vier dae lank gaan verken.Daarna sou ons die mooiste landskapskone dele van Provence in die Vaucluse, besoek.
Vanaf Marseilles-lughawe was ons eerste bestemming darem nie te ver nie,  sowat 50 km na Mas de la Tour naby Rousillon, die pragtige oker-dorpie.  In Provence is the mas of gites bekostigbare  blyplekke soos ‘n tipiese plaasgastehuis of kothuis ,‘n goeie alternatief as jy die kontrei-leefstyl wil  ervaar.
Hierdie deel van Provence  is baie gewild onder vaardige fietsryers en stappers wat die Luberon-natuurgebied wil verken.  Al die dorpies is feitlik fietsry-afstand van mekaar af geleë en verbind met spesiale fietsrypaadjies.
Orals om ons  merk ons ou eeue-oue heuweldorpies met forte,soos  by Gordes, Rousillon, Bonnieux, La Coste, en Menerbes. ‘n Mens ondergaan as’t ware ‘n tydsverplasing terug in die verlede as jy hier rondwandel.
Ons het gou agtergekom dat winkels en stalletjies eers teen elfuur op dreef kom en dat jy maar jou piekniek moet beplan om saam te val met die middag siesta wat ook hier streng beoefen word!
Markte word elke dag van die week in die somermaande om die beurt in  dorpies gehou .Ons plan was om ons reisplan so volgens die markies aan te pas sodat ons elke dag ons vars voorraad kon aankoop. Die handige somer-markkalender was ‘n bonus. 
Piekniek-versnaperinge aangekoop by kleurvolle padstalletjies het gewoonlik bestaan uit plaaslike produkte soos heuning, vye, kaas, spanspek, ham, olywe , tapenade, pâtes,  varsgebakte Franse broodjies en  Rose, Rose, en nogmaals Rose!
Hierdie piekniek-etes was essensieel  en so spesiaal vir ons afdraaipaadjie-wegbreek. Skadu, gras en uitsig was die eenvoudige vereistes waaraan elke dag se spesiale piekniekplek  moes voldoen.Ons dun lappieskombersie het handig te pas gekom.
Lourmarin was eerste op ons toerplan en is die mees suidelike bergtop dorpie in die sogenaamde Petit Luberon -natuurgebied.
Rousillon, die skilderagtige geel-en-rooi dorpie tussen die oker-gesteentes kontrasteer met die groen wingerde in die valleie wat dit omring.  Hier kan ‘n mens die  okerroete gaan stap, om die okermyn-terrein te besigtig. Die kleur van die rotse wissel van heldergeel tot oranje en die poeier wat gemyn is, was hoofsaaklik gebruik vir kleurstowwe.
Ons besoek aan die bekende Museum de Lavande in Coustellet gee ons weer opnuut respek vir die laventelbedryf.  Ons word ingelig oor die verskil van lavender wat natuurlik in die veld voorkom en hoofsaaklik vir parfuum-olies gebruik word,  of lavendin, die aangeplante weergawe, wat hoofsaaklik vir sepe en  velprodukte gebruik word. 
‘n Mens kry nuwe begrip vir die simbiose wat bestaan tussen die bye en lavender en het later te heerlik gesmul aan spesiale geurige laventelgeur-heuning wat daar verkoop word.  Geselsies met die heuningverkopers oor hul byebedryf was besonder interessant.
Sault is die enigste area waar die velde tot in Augustus nog pers getooi  is en ons besluit toe maar om daar ‘n wye draai te gaan maak.Daar kry ons toe ‘n heerlike onverwagte bonus . Behalwe vir die bekende lavender-fees en  kontrei-markbedrywighede is dit ook bekend vir die jaarlikse fietsrytoer wat in die bergpasse van die Mont Vertoux-gebied plaasvind. 
Die valleie is beplant met reguit rye lavender wat pragtig kontrasteer met die kronkelende bergpaadjie en die wit piek van Mount Vertoux in die verte. Kol–kol kry jy dan ook die komplimenterende kontras van goudgeel sonneblomlande. My kamera moes klik tot vervelens toe!
Gordes is vir my seker die indrukwekkendste van al die heuweldorpies.  In die somer wemel die antieke dorpie van mense tussen kegelsteeggangetjies en straatkafeetjies . Daar kry ons toe sommer ‘n gratis wynproe van die area se  bekendste wynprodusente. 
Naby Gordes is die bekende klipdorpie met kliphuisies wat uit die tydperk 3 500 vC dateer.  Net ‘n klipgooi van Gordes,  êrens in ‘n vallei , op pad na nêrens,  lê die bekende ou  grys abdy van Senanque versteek.  In teenstelling  met die besige toeristestraatjies van Gordes, word mens hier dadelik oorval deur stilte en vreedsaamheid, dít wat menige monnik hier kom soek het.
L’Isle-sur-la-Sorgue is letterlik ‘n eiland in die Sorgue-river en spog  met verskeie anieke waterwiele .Hierdie dorpie ondergaan oor naweke ‘n metamorfose as al die antiekware-versamelaars kom rondsnuffel vir allerande winskopies van tradisionele Franse linne, silwerware , meubels, porselein , en dies meer.
Die platboom-riviergondels word behendig beheer deur plaaslike vissermanne  en sorg vir groot pret! Hier moet jy jou balans goed kan behou!
Kilometer-lange plataanlanings  begelei jou op pad na St Remy van Van Goch-faam . Hier kan jy gerus die van Gogh-wandelroete stap en  die  skilderagtige omgewing as’ t ware uit Van Goch se oë sien.. 
Die ommuurde oustad van Avignon dateer uit die 14de eeu, en was die vesting van die Pous gedurende daardie tydperk. Ons hou piekniek en klink ‘n glasie  in die koelte van die Romeinse akwadukt , of waterleidingsbrug.
Net suid van St Remy tussen die wit kalksteenrotse van die Alpilles, besoek ons ons voorlaaste bestemming op die sirkelroete  terug na Marseilles. Les Baux is ‘n  fort-dorp, steeds staande en bewoonbaar sedert die 10de eeu -   letterlik een van die hoogtepunte op die roete. Hiervandaan  het mens ‘n asemrowende uitsig oor die Provencaalse platteland tot by die aangrensenge Camargue-gebied, bekend vir sy pragtige perde.
Somertyd is feestyd in Provence , soos die Cheval Blanc-perdefees in St Remy , musiek en teaterfeeste in Avignon en Orange, die wynfees by Chatenauf du Pape, die lavenderfees by Sault en die antiekware-fees by L’Isle-sur-la-Sorgue.
Op die smalste afdraaipadjies tussen die wingerde deur, wag daar soms die grootste verassings, soos die aantreklike fransman op sy cheval blanc (wit perd) wat ons ewe galant vaarwel toewuif met sy beret....
Ons laaste middag verwyl ons in pragtige Aix-en-Provence .Soos een poskaart dit beskryf het, is somer in Provence , poésie de couleurs (poesie in kleur!) Orals langs die pad het pers laventelbosse gepryk, en rooi klaprose aan die rande of tussen landerye was pragtig kontrasterend met die rye geel-op-geel sonneblom.
In Aix het ons gou koers gekry na Cours Mirabeau, die pragtige wye straat met skaduryke boomlanings. Orals het mense by straatkafees gesit en koffiedrink en gesels.
Ons kon ons verkyk aan winkels met vrolike groen-blou-geel Provencaalse lap en handwerk, met motiewe van sonneblom en ander inheemse flora. Geurige, gedroogte potpourri in bont materiaalsakkies was volop, handige geskenkies vir familie en vriende tuis.Op die sypaadjie by een winkel was ’n groot verskeidenheid keurige kunsplakkate uitgestal  - Cezanne, Van Gogh, Matisse -’n moeilike keuse!
Op een straathoek het ons ’n ruk lank verwyl om te kyk hoe ’n groepie mans met hul karakteristieke Franse pette en kruisbande rustig rondstaan en boules (‘n rolbalvariasie) speel tydens hul etensuur.
Marseilles is ‘n kosmopolitiese hawestad en invloede van die Franse koloniale Afrika is oral herkenbaar.  Die magdom seilbootjies in die ou hawe area is ‘n aanduiding van die groot Europese uittog in die somer na die populêre Mediterreense kus. Hoog teen die heuwel pryk ‘n indrukwekkende katedraal, die Notre Dame de la Garde, met sy goue beskermengel.
Hier smul ons toe vir oulaas aan die bouillaibaisse, ‘n ryk en geurige vissop-bredie. Salut, op ons somer in Provence!