Sunday, 5 August 2012

‘n Spesiale wegbreek na La Spezia


Ons klink ‘n glasie Chianti Classico om ons ma-en-dogter reunie te vier. Lo ‘Sfizio is die kroegie onder ons blyplek in Via del Prione van La Spezia. Dis nege-uur aand en die sonsondergang begin verkleur.  25 jaar  ná ons drie se eerste besoek aan Europa beplan ons weer ‘n week se wegbreek saam hier aan die idilliese blou Liguriese kus, Suid van Genoa.

La Spezia in die Tramonti-distrik, is bereikbaar per trein vanaf Milaan en ons afskoppunt vir verkenning van die 5 Cinque Terre-dorpies wat teen die rotskranse hang - sekerlik van die mooiste bestemmings in Italië so bymekaar.

Hier gaan ons tuis in die sentraal-geleë Apartamenti Lagiaradelprione,’n ronde mondvol Italiaans! Heel bekostigaar teen Euro 85 vir drie persone wat ongeveer R850 uitwerk, naby die varsproduktemark,  winkels en eetplekkies.

Soggens maak die krysende seemeeue wat agter die viskratte by die oggendmark aan is, ons wakker. ‘n Koffie-aroma en die geur van varsgebak spoor ons aan om elke dag vroeg-vroeg aan te pak.

Saans weer kan ons vanuit ons kamervenster die interessante aandbedrywighede op die wye wandellaan onder  dophou: ineengestrengelde verliefdes  , oupas en oumas met kleinkinder-stootwaentjies, modieuse Italiaanse meisies, gesinne wat saam die aandwandeling  passagiato onderneem, of baas-en-hond op ‘n uitstappie...

La Spezia se spesiale ligging maak dit die ideale afskopplek vir verkenning van die Liguriese vissersdorpies. Daarbenewens is daar heelparty kunsmuseums , parke en villa-tuine wat besoek kan word as jy dalk ‘n ledige uurtjie of twee daaraan wil afstaan.  Die groot amfiteater-baai verleen gerieflike toegang vir veerboot- en seiljagverkeer.

Ons stap deur die welige publieke tuin na die see-promenade om retoer-kaartjies (Euro 6) te koop vir die veerboot van die Navigazione Golfo dei Poeti (Golf van Digters) na Portovenere, die naaste vissersdorpie en vakansieplek op die mooi kuslyn. Die see wemel van seilbote in elke grootte  denkbaar, want dis mos somervakansietyd in Italië! 

Baaiers en sonaanbidders lê uitgestrek op groot rotsblokke wat aan die waterkant aangebring is. Vanaf die Doria-kaai is ‘n bootrit na drie kleiner eilandjies Palmaria, Tino en Tinetto, ook moontlik. Veral die  groen seegrotte kry hier aftrek.Ons koop sonhoede en pas goedkoop groot sonbrille aan vir ‘n foto-sessie! Mooi herinneringe aan ‘n spesiale vakansie saam!

Ons verlustig ons aan die mooi serpe, somermodes  en snoepery-winkeltjies in die smal straatjies. Heerlike aromas lok ons na ‘n restaurantjie vir ‘n yskoue Moretti-bier, ‘n bordvol prosciutto en spanspek, met mozzarella en tamatieslaai daarby. Daarna moet ons mos aan ‘n lekker  amandelgeur- of suurlemoen-gelato lek om die somerhitte op ons lywe bietjie te verlig. Ons klim op na die  statige ou fort van San Pietro en vat gou ‘n privaat ‘dippie’ in die koel water tussen beskutte rotse.

Dan verder per boot na die mooie Lerici aan die oorkantste oewer van die baai, met sy groot sandstrand , seiljag-marina en ruim dorpsplein omring met palmbome en blomstruike .Hierdie idilliese  kusdorp met sy pragtige villas  was besonder gewild onder skrywers en digters en vandaar die benaming van die baai as ‘Golf van  die Digters’.Die middeleeuse kasteel teen die heuwel staan pragtig afgeëts teen die skemerlug.Deesdae word dit gebruik as ‘n paleontologiese museum.

Die son blink oor die water en die skaduwees rek langer – dis tyd vir ‘n lemoncello-suurlemoenlikeurtjie en peuselkos by  Bar ’Cello.

Caren en Anita wil opsluit gaan fietsry op die muur wat  die oustad Lucca omring.Ons kies koers daarheen per trein via Pisa, wandel in die smal straatjies met interessante eenkamer-winkeltjies en drink ‘n yskoffie terwyl die somersweet ons aftap! Veral die reuse-magnoliabome wat bo die huise uittroon beindruk my!

Netso hittig is ons daguitstappie na Florence, waar Anita elke nou en dan verdwyn in een van talle leerware-winkels.Die stad wemel van toeriste en toue lank staan en wag vir toegang tot besienswaardighede.Nogtans sien ons darem weer die mooi ou Duomo-katedraal van driekleur-marmer, die Ponte-Vecchio oor die Arno-rivier en die Signoria-plein met sy pragtige beeldhouwerke.
.
Volgende kom die UNESCO-erfenisgebied van Cinque Terre aan die beurt! Om al vyf pastelkleurige dorpies Riomaggiore, Vernazza, Monterosa, Corniglia en Manarola, behoorlik te kan waardeer, is daar twee  moontlikhede: vir energiekes is daar die krans-wandelpaaie wat dorpies verbind (Cinque Terre-kaart Euro 5), vir oues en luies is daar die veerbootjie van La Spezia  @ Euro 25 vir ‘n dagkaartjie met alle stoppe vir op- en afklim.

Die Via dell’Amore is ‘n 2 kilometer-staproete tussen Riomaggiore en Manarola , maklik begaanbaar. Weens onlangse rotsstortings na ‘n vloed, lei die wandelroete verder-aan met ‘n ompad deur die Nasionale Park , hoër deur wingerde en boorde, met manjifieke panoramas oor die see en kuslyn!

Hierdie twee dorpies langsmekaar se huisies in pastelkleure lê  as’t ware opgestapel teen die steil kranse en ons moes ons maar versoen met baie trappies klim ! Wat my ook veral sal bybly, is hoedat bootjies van ‘n hoër dorpsvlak met toue  te watergelaat word na die kaai dóer ver onder.

Monterosso,  die oudste dog besigste dorpie, spog met ‘n antieke  en moderne dorpsgebied langsmekaar, maar aan seekant verbind deur een groot sandstrand. Hier dok jy op by die betaalstrand met sy sambrele en lê-stoele . Ons  kies maar eerder koers na die rotse vir ‘n vinnige afkoel-sessie eenkant. 

Die Mesco-rots met ‘n uitgekapte Reus-reliëf, is die fotografiese fokuspunt van Monterosso.Teen die skuins heuwel opwaarts is terasse  lemoen- en olyfboorde aangebring.

Vernazza lê  weer in ‘n smal kloof van die Reggio-heuwel oor ‘n halfverskuilde rivierloop, en sy pragtige ou piazzetta staan toon in die water! Hierdie mooiste kransdorpie is ongelukkig onlangs swaar getref deur onverwagte en verwoestende vloedwaters van die ondergrondse stroom ; herstelwerk is egter flink aan die gang om Vernazza se volle glorie  en ambience te herstel.

Corniglia is die enigste dorpie wat nie bereikbaar is per boot nie, omdat dit hoog bo-op die kruin van ‘n heuwel lê. Ons kon wel daar aandoen per trein en verder te voet afstap vir ‘n koel glasie van sy bekende Vernaccia-wyn.

So het elkeen van die agt Liguriese kusdorpies wat ons besoek het sy eie sjarme wat die een van die ander onderskei. Ons week-wegbreek saam is verby, maar danksy ons kameras sal besondere indrukke en mooi herinneringe ons altyd weer kan terugvoer na ons spesiale tyd by La Spezia!




No comments:

Post a Comment