Vanjaar in Junie het ek die Elsass-streek van Frankryk aan die Franse westekant van die Ryn uitgesonder vir ‘n besoekie van 4 dae, voordat ek sou koers kies Italië toe om Caren en Anita te ontmoet.
Die hoofdorp langs die Route du Vin is Colmar ; ek het toevallig op die Internet afgekom op Chez Leslie se gastehuis, bekostigbaar en goedgeleë naby die stasie. Die Shoe Room was ruim en pragtig versier met die Engels-sprekende eienares se skoen-memorabilia.
Colmar self, is ‘n pragdorp met ‘n interessante oustad langs ‘n rustige rivier waar jy die mooi hout-inlegstyl van die ou geboue kan waardeer, museums kan besoek, markies deursnuffel en rondstap net vir die pure lekkerte daarvan om soveel dorpskarakter en ambience in te neem. Om nie te praat van die balkonne en stoepies vol malvas en kleurvolle petunias nie! Daarvoor het ek mos maar ‘n sagteplekkie…
‘n Toeristetreintjie met kommentaar neem jou vir Euro 6 ( 45 min.) deur die dorp na die beste besienswaardighede en geskiedkundige plekke waarvan jy kennis neem en net so gou weer vergeet! Daarna klim ek af en stap na die plekkies wat ek as spesiale herinneringe digitaal wil vaslê, soos die boomryke Unterlinden–park en Little Venice, asemrowend mooi in sy waterkant-glorie!
Hier is kanaalbootritte vir Euro 4 ook moontlik en dit bied ‘n aangename blaaskansie vir my moeë voete! Die groot publieke tuin of park met spuitfonteine en beeldhouwerke is ideaal vir ‘n ruskansie en flambé-versnapering (uie-pizzaskyf) wat ek by die buitelug-kosmark gekoop het.
Omdat ek die volgende paar dae van busvervoer na die klein wynlanddorpies moes gebruik maak, sou ek mooi moes beplan om die regte bus by die regte “kaai” te haal, want soms is daar net een bus heen- en een bus –weer per dag! Alle busse ry egter verby die stasie-depot, wat vir my gerieflik was.
Elsass se wingerdgebied lê hoofsaaklik in ‘n smal strook aan die suidelike hang van die Vosges-berge in die rigting van die Ryn-rivier. Die wyne van hierdie streek is ligte, vrugtige witwyne wat deur besoekers geproe kan word by ‘n reeks karakteristieke wyndorpies langs die 140 km lange Route du Vin, soos Ribeauville, Ammerschwir, St Odile, Kaiserberg ( geboorteplek van Albert Shweizer) , en Eguisheim, om maar net ‘n paar te noem.
Die Féte des Vins word jaarliks in laatsomer in Riquewhir , ‘n klein middeleeuse dorpie hier aan die voetheuwels van die Vosges aangebied. ‘n Wynland-treinrit ( met kommentaar in jou taalkeuse) neem besoekers deur die wingerde bekend vir die Gewurtztraminer, Riesling. Muscat-wyne.
My gunstelingdorpie was egter Eguisheim waar mens verwelkom word deur krassende ooievaars wat nesbou. G’n wonder hierdie ooievaars is die emblem van die Elsass nie!
Behalwe vir middeleeuse kerke, standbeelde, vestingmure en uitkyktorings, bekoor die pastelkleur-houthuise my die meeste.
Wandelings langs smal stegies word ‘n visuele ontdekkingstog: potte vol blomme op trappies, vensterbanke en by voordeure, loodglas-vensters, beskilderde mure, gegote yster-uithangborde, waterdrink-fonteine , bak-en -brouerytjies, druiwe-priële en natuurlik wynproelokale om elke draai!
Hier eet ek ‘n kilojoule-bom van ‘n Elsass-burger - ryk en lekker met aartappelkoekies onder en bo , spek, maalvleis-pattie, uieringe en slaai.
Ek neem my arme voete af – in die warm weer blase geloop ten spyte van my getroue en gewaardeerde Crocs! Maar, “ik doe voort” en koop ‘n paar geskenkies by een van die handwerkwinkels om my aan die besondere dag te herinner en my besoekie af te sluit. Veral die pragtige keramiek van hierdie kontrei beindruk my, maar soiets kan ek beslis nie oor oseane vervoer nie.
Ek is maar verplig om ‘n vreemdeling te vra om tog net ‘n fototjie van my by die winkel-ooievaars te neem. Gelukkig haal ek toe darem laatmiddag die laaste en enigste bus terug Colmar toe. Ek kon al sien hoe gooi hierdie tante duim as ek die bus mis!
Hier is ‘n mens ook sommer naby aan die bergroete Route des Cretes met sy wonderskone uitsig oor die wingerdland, soos by die suidelike Grand Ballon. Noordwaarts lê die Vosges Nasionale Park.Ongelukkig vir my ry die busse nie soontoe nie en is ‘n mens op motorvervoer aangewese.
‘n Klipgooi van die noord-oostelike grens van Frankryk met Duitsland, lê Ou Strasbourg met sy Duits-Franse dubbelkarakter in die omhelsing van ‘n bog in die Ryn. Die Rhône en Marne-rivierkanale vloei hier ook saam sodat die ‘oustad’ heeltemal omring is met bevaarbare waterweë. Ek sit ‘n volle dag opsy vir hierdie uitstappie per trein vanaf Colmar.
Die dag in Strasbourg word deurgebring op die miniatuur-toeristetreintjie, op die kanaalboot, en ‘n wandeling te voet deur die smal keisteenstrate met hul eie middeleeuse bekoring. Straatname word hier nog in beide tale aangebring. Ek wonder - waarom dan Duits as Strasbourg in Frankryk is? Die antwoord lê seker in die geskiedenis opgesluit…
Die 13de eeuse historiese rooisandsteen-katedraal , die Notre Dame in Romaneske-styl, is vir my die pronkstuk van die ou stad. Verder maak die antieke astronomiese klokhorlosie en Pilaar van Engele daarnaas, asook die Palais de Rohan aan die oewer en Musee des Beaux Arts ( kunswerke van Klee, Monet, Klimt) my dag se besienswaardighede uit – alles binne bestek van een vierkante kilometer en drie uur!
Met my geldsakkie styf vasgeknip gaan loer ek vir oulaas in by die houtwerk-vertoonlokaal in die Baumann Kammerzell. Sowat van wilskrag het jy nog nooit gesien nie!!
Polities het Strasbourg sy gesag ook behou; dit is die setel van die Europese parlement (Palais de l’Europe), asook die Europese Hof vir Menseregte. ‘n Bootvaart om die stad stel my in staat om hierdie geboue wat andersins ‘n bietjie te ver is vir stap , van naderby te besigtig.
Petit France is ‘n middeleeuse kanaal-straatgebied met pragtige ou 16-17 de eeuse houthuise aan die oewer, teenaanmekaar gebou, met kleurvolle blombakke vol malvas. Kyk , enigiets wat soos ‘n toring mag lyk, het ‘n deurmekaar nes van takke, want die ooievaars is terug en kras : "hier is ek nou baas!"
Waar eet die Strasbourgeois? Restaurante bie om die guns van die talle besoekers. Kies maar uit die peperduur La Petite Alsace met tradisionele, ryk Alsassiese lekkernye , Zum Strissel vir wildsvleis, choucroute alsacienne en crème brulée, of straakmarkstalletjies met worsbroodjies of macaron-koekies. Die keuse is myne! Ryk en lekker soetgebak pryk in elke derde winkelvenster en ek kan nie anders as om my vir oulaas te vergryp aan ‘n aarbei-roomtertjie nie!
Alte gou is my Elsass-kuiertjie op ‘n ent en kies ek via Switzerland koers na die suide.
By stasies kyk ek die manne deur… wie gaan ek nader om my met die reistas by die trappies op en af te help…?