Wednesday, 8 August 2012

“Route du Vin” van die Franse Elsass



Vanjaar in Junie het ek die Elsass-streek van Frankryk aan die Franse westekant van die Ryn uitgesonder vir ‘n besoekie van 4 dae, voordat ek sou koers kies Italië toe om Caren en Anita te ontmoet.

Die hoofdorp langs die Route du Vin is Colmar ; ek het toevallig op die Internet afgekom op Chez Leslie se gastehuis, bekostigbaar en goedgeleë naby die stasie. Die Shoe Room was ruim en pragtig versier met die Engels-sprekende eienares se skoen-memorabilia.

Colmar self, is ‘n pragdorp met ‘n interessante oustad langs ‘n  rustige rivier waar jy die mooi hout-inlegstyl van die ou geboue kan waardeer, museums kan besoek, markies deursnuffel en rondstap net vir die pure lekkerte daarvan om soveel dorpskarakter en ambience in te neem. Om nie te praat van die balkonne en stoepies vol malvas en kleurvolle petunias nie! Daarvoor het ek mos maar ‘n sagteplekkie…

‘n Toeristetreintjie met kommentaar neem jou vir Euro 6  ( 45 min.) deur die dorp na die beste besienswaardighede en geskiedkundige plekke waarvan jy kennis neem en net so gou weer vergeet! Daarna klim ek af en stap na die plekkies wat ek as spesiale herinneringe digitaal wil vaslê, soos die boomryke Unterlinden–park en Little Venice, asemrowend  mooi in sy waterkant-glorie! 

Hier is kanaalbootritte vir Euro 4  ook moontlik en dit bied ‘n aangename blaaskansie vir  my moeë voete! Die groot publieke tuin of park met spuitfonteine en beeldhouwerke is ideaal vir ‘n ruskansie en flambé-versnapering  (uie-pizzaskyf) wat ek by die buitelug-kosmark gekoop het.

Omdat ek die volgende paar dae van busvervoer na die klein wynlanddorpies moes gebruik maak, sou ek mooi moes beplan om die regte bus by die regte “kaai” te haal, want soms is daar net een bus heen- en een bus –weer per dag! Alle busse ry egter verby die stasie-depot, wat vir my gerieflik was.

Elsass se wingerdgebied lê hoofsaaklik in ‘n smal strook aan die suidelike hang van die Vosges-berge in die rigting van die Ryn-rivier. Die wyne van hierdie streek is ligte, vrugtige witwyne wat deur besoekers geproe kan word  by ‘n reeks karakteristieke wyndorpies  langs die 140 km lange Route du Vin, soos Ribeauville, Ammerschwir, St Odile,  Kaiserberg ( geboorteplek van Albert Shweizer) ,  en Eguisheim, om maar net ‘n paar te noem.

Die Féte des Vins word jaarliks in laatsomer in Riquewhir , ‘n  klein middeleeuse dorpie  hier aan die voetheuwels van die Vosges aangebied. ‘n Wynland-treinrit ( met kommentaar in jou taalkeuse) neem besoekers deur die wingerde bekend vir die Gewurtztraminer, Riesling. Muscat-wyne.

My gunstelingdorpie was egter Eguisheim waar mens verwelkom word deur krassende ooievaars wat nesbou. G’n wonder hierdie ooievaars is die emblem van die Elsass nie!

Behalwe vir middeleeuse kerke,  standbeelde, vestingmure en uitkyktorings, bekoor die pastelkleur-houthuise my die meeste.

Wandelings langs smal stegies word ‘n visuele ontdekkingstog: potte vol blomme op trappies, vensterbanke en by voordeure, loodglas-vensters,  beskilderde mure, gegote yster-uithangborde, waterdrink-fonteine ,  bak-en -brouerytjies, druiwe-priële  en natuurlik wynproelokale om elke draai!

Hier eet ek ‘n  kilojoule-bom van ‘n Elsass-burger  -  ryk en lekker met  aartappelkoekies onder en bo , spek, maalvleis-pattie, uieringe en slaai.

Ek neem my arme voete af –  in die warm weer blase geloop ten spyte van my  getroue en gewaardeerde Crocs! Maar,  “ik doe voort” en koop ‘n paar geskenkies by  een van die handwerkwinkels om my aan die besondere dag te herinner en my besoekie af te sluit. Veral die pragtige keramiek van hierdie kontrei beindruk my, maar soiets kan ek beslis nie oor oseane vervoer nie.

Ek is maar verplig om ‘n vreemdeling te vra om tog net ‘n fototjie van my by die winkel-ooievaars te neem. Gelukkig haal ek toe darem laatmiddag die laaste en enigste bus terug Colmar toe. Ek kon al sien hoe gooi hierdie tante duim as ek die bus mis!

Hier is ‘n mens ook sommer naby aan die bergroete Route des Cretes met sy wonderskone uitsig oor die wingerdland, soos by die suidelike Grand Ballon. Noordwaarts lê die Vosges Nasionale Park.Ongelukkig vir my ry die busse nie soontoe nie en is ‘n mens op motorvervoer aangewese.

‘n Klipgooi van die noord-oostelike grens van Frankryk met Duitsland, lê Ou Strasbourg met sy Duits-Franse dubbelkarakter in die omhelsing van ‘n bog in die Ryn. Die Rhône en Marne-rivierkanale  vloei hier ook saam sodat die ‘oustad’ heeltemal omring is met bevaarbare waterweë. Ek sit ‘n volle dag opsy vir hierdie uitstappie per trein vanaf Colmar.

Die dag in Strasbourg word deurgebring op die miniatuur-toeristetreintjie, op die kanaalboot, en ‘n  wandeling te voet deur die smal keisteenstrate met hul eie middeleeuse bekoring. Straatname word hier nog in beide tale aangebring. Ek wonder - waarom dan Duits as Strasbourg in Frankryk is? Die antwoord lê seker in die geskiedenis opgesluit…

Die 13de eeuse  historiese rooisandsteen-katedraal , die Notre Dame in Romaneske-styl, is vir my die pronkstuk van die ou stad. Verder maak die  antieke astronomiese klokhorlosie en Pilaar van Engele daarnaas, asook die Palais de Rohan aan die oewer en Musee des Beaux Arts ( kunswerke van Klee, Monet, Klimt) my dag se besienswaardighede uit – alles binne  bestek van een vierkante kilometer en drie uur!

Met my geldsakkie styf vasgeknip gaan loer ek vir oulaas in by die houtwerk-vertoonlokaal in die Baumann Kammerzell. Sowat van wilskrag het jy nog nooit gesien nie!!

Polities het Strasbourg sy gesag ook behou; dit is die setel van die Europese parlement (Palais de l’Europe), asook die Europese Hof vir Menseregte. ‘n Bootvaart om die stad stel  my in staat om hierdie geboue wat andersins ‘n bietjie te ver is vir stap , van naderby te besigtig.

Petit France is ‘n middeleeuse kanaal-straatgebied met pragtige ou 16-17 de eeuse houthuise aan die oewer, teenaanmekaar gebou, met kleurvolle blombakke vol malvas. Kyk , enigiets wat soos ‘n toring mag lyk, het ‘n deurmekaar nes van takke, want die ooievaars is terug en kras : "hier is ek nou baas!"

Waar eet die Strasbourgeois? Restaurante bie om die guns van die talle besoekers. Kies maar uit die peperduur La Petite Alsace met tradisionele, ryk Alsassiese lekkernye , Zum Strissel vir wildsvleis, choucroute alsacienne  en crème brulée, of straakmarkstalletjies met worsbroodjies of macaron-koekies. Die keuse is myne! Ryk en lekker soetgebak pryk in elke derde winkelvenster en ek kan nie anders as om my vir oulaas te vergryp aan ‘n aarbei-roomtertjie nie!

Alte gou is my Elsass-kuiertjie op ‘n ent en kies ek via Switzerland koers na die suide.

By stasies kyk ek die manne deur… wie gaan ek nader om my met die reistas  by die trappies op en af te help…?


Sunday, 5 August 2012

‘n Spesiale wegbreek na La Spezia


Ons klink ‘n glasie Chianti Classico om ons ma-en-dogter reunie te vier. Lo ‘Sfizio is die kroegie onder ons blyplek in Via del Prione van La Spezia. Dis nege-uur aand en die sonsondergang begin verkleur.  25 jaar  ná ons drie se eerste besoek aan Europa beplan ons weer ‘n week se wegbreek saam hier aan die idilliese blou Liguriese kus, Suid van Genoa.

La Spezia in die Tramonti-distrik, is bereikbaar per trein vanaf Milaan en ons afskoppunt vir verkenning van die 5 Cinque Terre-dorpies wat teen die rotskranse hang - sekerlik van die mooiste bestemmings in Italië so bymekaar.

Hier gaan ons tuis in die sentraal-geleë Apartamenti Lagiaradelprione,’n ronde mondvol Italiaans! Heel bekostigaar teen Euro 85 vir drie persone wat ongeveer R850 uitwerk, naby die varsproduktemark,  winkels en eetplekkies.

Soggens maak die krysende seemeeue wat agter die viskratte by die oggendmark aan is, ons wakker. ‘n Koffie-aroma en die geur van varsgebak spoor ons aan om elke dag vroeg-vroeg aan te pak.

Saans weer kan ons vanuit ons kamervenster die interessante aandbedrywighede op die wye wandellaan onder  dophou: ineengestrengelde verliefdes  , oupas en oumas met kleinkinder-stootwaentjies, modieuse Italiaanse meisies, gesinne wat saam die aandwandeling  passagiato onderneem, of baas-en-hond op ‘n uitstappie...

La Spezia se spesiale ligging maak dit die ideale afskopplek vir verkenning van die Liguriese vissersdorpies. Daarbenewens is daar heelparty kunsmuseums , parke en villa-tuine wat besoek kan word as jy dalk ‘n ledige uurtjie of twee daaraan wil afstaan.  Die groot amfiteater-baai verleen gerieflike toegang vir veerboot- en seiljagverkeer.

Ons stap deur die welige publieke tuin na die see-promenade om retoer-kaartjies (Euro 6) te koop vir die veerboot van die Navigazione Golfo dei Poeti (Golf van Digters) na Portovenere, die naaste vissersdorpie en vakansieplek op die mooi kuslyn. Die see wemel van seilbote in elke grootte  denkbaar, want dis mos somervakansietyd in Italië! 

Baaiers en sonaanbidders lê uitgestrek op groot rotsblokke wat aan die waterkant aangebring is. Vanaf die Doria-kaai is ‘n bootrit na drie kleiner eilandjies Palmaria, Tino en Tinetto, ook moontlik. Veral die  groen seegrotte kry hier aftrek.Ons koop sonhoede en pas goedkoop groot sonbrille aan vir ‘n foto-sessie! Mooi herinneringe aan ‘n spesiale vakansie saam!

Ons verlustig ons aan die mooi serpe, somermodes  en snoepery-winkeltjies in die smal straatjies. Heerlike aromas lok ons na ‘n restaurantjie vir ‘n yskoue Moretti-bier, ‘n bordvol prosciutto en spanspek, met mozzarella en tamatieslaai daarby. Daarna moet ons mos aan ‘n lekker  amandelgeur- of suurlemoen-gelato lek om die somerhitte op ons lywe bietjie te verlig. Ons klim op na die  statige ou fort van San Pietro en vat gou ‘n privaat ‘dippie’ in die koel water tussen beskutte rotse.

Dan verder per boot na die mooie Lerici aan die oorkantste oewer van die baai, met sy groot sandstrand , seiljag-marina en ruim dorpsplein omring met palmbome en blomstruike .Hierdie idilliese  kusdorp met sy pragtige villas  was besonder gewild onder skrywers en digters en vandaar die benaming van die baai as ‘Golf van  die Digters’.Die middeleeuse kasteel teen die heuwel staan pragtig afgeëts teen die skemerlug.Deesdae word dit gebruik as ‘n paleontologiese museum.

Die son blink oor die water en die skaduwees rek langer – dis tyd vir ‘n lemoncello-suurlemoenlikeurtjie en peuselkos by  Bar ’Cello.

Caren en Anita wil opsluit gaan fietsry op die muur wat  die oustad Lucca omring.Ons kies koers daarheen per trein via Pisa, wandel in die smal straatjies met interessante eenkamer-winkeltjies en drink ‘n yskoffie terwyl die somersweet ons aftap! Veral die reuse-magnoliabome wat bo die huise uittroon beindruk my!

Netso hittig is ons daguitstappie na Florence, waar Anita elke nou en dan verdwyn in een van talle leerware-winkels.Die stad wemel van toeriste en toue lank staan en wag vir toegang tot besienswaardighede.Nogtans sien ons darem weer die mooi ou Duomo-katedraal van driekleur-marmer, die Ponte-Vecchio oor die Arno-rivier en die Signoria-plein met sy pragtige beeldhouwerke.
.
Volgende kom die UNESCO-erfenisgebied van Cinque Terre aan die beurt! Om al vyf pastelkleurige dorpies Riomaggiore, Vernazza, Monterosa, Corniglia en Manarola, behoorlik te kan waardeer, is daar twee  moontlikhede: vir energiekes is daar die krans-wandelpaaie wat dorpies verbind (Cinque Terre-kaart Euro 5), vir oues en luies is daar die veerbootjie van La Spezia  @ Euro 25 vir ‘n dagkaartjie met alle stoppe vir op- en afklim.

Die Via dell’Amore is ‘n 2 kilometer-staproete tussen Riomaggiore en Manarola , maklik begaanbaar. Weens onlangse rotsstortings na ‘n vloed, lei die wandelroete verder-aan met ‘n ompad deur die Nasionale Park , hoër deur wingerde en boorde, met manjifieke panoramas oor die see en kuslyn!

Hierdie twee dorpies langsmekaar se huisies in pastelkleure lê  as’t ware opgestapel teen die steil kranse en ons moes ons maar versoen met baie trappies klim ! Wat my ook veral sal bybly, is hoedat bootjies van ‘n hoër dorpsvlak met toue  te watergelaat word na die kaai dóer ver onder.

Monterosso,  die oudste dog besigste dorpie, spog met ‘n antieke  en moderne dorpsgebied langsmekaar, maar aan seekant verbind deur een groot sandstrand. Hier dok jy op by die betaalstrand met sy sambrele en lê-stoele . Ons  kies maar eerder koers na die rotse vir ‘n vinnige afkoel-sessie eenkant. 

Die Mesco-rots met ‘n uitgekapte Reus-reliëf, is die fotografiese fokuspunt van Monterosso.Teen die skuins heuwel opwaarts is terasse  lemoen- en olyfboorde aangebring.

Vernazza lê  weer in ‘n smal kloof van die Reggio-heuwel oor ‘n halfverskuilde rivierloop, en sy pragtige ou piazzetta staan toon in die water! Hierdie mooiste kransdorpie is ongelukkig onlangs swaar getref deur onverwagte en verwoestende vloedwaters van die ondergrondse stroom ; herstelwerk is egter flink aan die gang om Vernazza se volle glorie  en ambience te herstel.

Corniglia is die enigste dorpie wat nie bereikbaar is per boot nie, omdat dit hoog bo-op die kruin van ‘n heuwel lê. Ons kon wel daar aandoen per trein en verder te voet afstap vir ‘n koel glasie van sy bekende Vernaccia-wyn.

So het elkeen van die agt Liguriese kusdorpies wat ons besoek het sy eie sjarme wat die een van die ander onderskei. Ons week-wegbreek saam is verby, maar danksy ons kameras sal besondere indrukke en mooi herinneringe ons altyd weer kan terugvoer na ons spesiale tyd by La Spezia!




'n kuiertjie in Como

 O Como mio!

‘n Besoek aan Como voel altyd vir my soos ‘n ontrimpeling van my siel... Hier by my geliefkoosde plek sou ek en my dogters ná 25 jaar sedert ons eerste reis saam deur Europa, weer vir ‘n week lank reunie hou om my spesiale verjaarsdag te vier .

Die noord-westelike Lombardiese meergebied van Italië sluit onder andere in: die Como (Lario)-meer, Lago Maggiore en Garda. Teen die agtergrond van die sneeubedekte Voor-Alpe en Dolomiete wat die grense van Italië met Switserland en Oostenryk vorm, lê die mere soos stukkies saffier in ou gletser-skeurvalleie.

Indien ‘n mens op trein– of busvervoer aangewese is, kan hierdie drie pragtige mere maklik binne een uur vanaf Milaan bereik word. Mei-Junie is nog nie volwaardig toeristeseisoen nie; die meeromgewing is rustig en lowergroen. Die Italianers het so ‘n mooi woord vir hierdie lentegroen – Primavera.

My gunsteling-meer Como, in ‘n onderstebo Y-vorm, en die derde grootste van hierdie noordelike mere, is ongeveer 30 km lank en tot 5 km wyd, ‘n lang smal meer wat by die been van die Lecco-meer aansluit.

Hierdie oewerdorp het pragtige promenade-wandelpaaie, Lungo Lario Trento en Lungo Lario Trieste al langs die Giardini Publico tot by die Volta-tempel, opgedra aan Alessandro Volta van elektriese battery-faam. Verder langs hierdie promenade lê lieflike villas, soos Villa Saporetti en Villa Olmo , wat deesdae vir kuns-uitstallings aangewend word, soos dié van Bruegel tydens ons besoek.

Como-dorp self is maklik per bus of te voet verkenbaar; die hart van die dorp is ongeveer 2 vierkante kilometer. Enkele hoogtepunte wat ons by ‘n week-lange besoek ingesluit het, was die Santa Maria Maggiore 14de-eeuse Duomo langs die Broletto (eertydse stadshuis) en kloktoring wat saans met sononder die eenvoudige Ave Maria-aandlied uitbeier. Aan hierdie kerk is ‘n paar eeue lank gebou en daarom is die boustyl ‘n mengsel van Goties, Barok en Renaissance. In die gewyde stilte steek ons gou kersies op vir geliefdes tuis.

Ons het veral belanggestel in die Museo Didattico della Seta, oftewel die Italiaanse sy-tekstielfabriek waar ons die sy-weef proses van kokon tot pragtige sy-serp kon volg. Natuurlik moes ons inloer by verskeie chocolatrie’s en die kaashuis Casa de Parmegiano , asook die opelug-mark by Piazza Vittoria met tuisgemaakte pesto en ander ingelegde Italiaanse snoeperye!

Porta Torre is die poort deur die antieke ou stadsmuur wat die ou-stad van die nuwe skei.

’n Rattreintjie het ons vervoer na die bo-punt van die berg by Brunate waar ons op ‘n helder dag bo van die heuwel kon afkyk op die lieflike panorama van hierdie ou en nuwe Como: villas en tuine , hawebedrywighede en die mooiste meer-vergesig. Vir die energiekes wat meer aktief wil wees, is daar en maklike staproetes van een berg-gehuggie na ‘n ander.

Vanaf die Como-kaai regoor Piazza-Cavour vertrek bote na ‘n groot verskeidenheid oewerdorpies wat die een mooier wil wees as die ander. Busse karwei pendelaars ook langs die oewers op en af sover as wat jy wil reis. In die smal klipstraatjies skuur busse sentimeters by mekaar verby. Bus-bestuurders slaan soms selfs ‘n truspieëltjie op om dit te vergemaklik en vleg behendig deur tonnels en om skerp draaie. Ons moes maar klou en oë toeknyp!

So ’n rit bied egter ‘n intiemer kykie op die asemrowende villas en welige plantegroei. Wisterias, en ander blomrankers kruip op teen klipmuurtjies ; krismisrose, camellias en rhododendrons staan uitgedos om elke hoek! Deur die gegote ystertralies sien mens momenteel die terrastuine met spuitfonteine wat ‘n varsheid verleen aan die amper sub-tropiese omgewing. Pragtige wit tuinbeelde kyk uit oor die meer-panorama.Ons kameras werk oortyd soos wat ons hierdie mooi visuele herinneringe wil vaslê om tuis later weer daaraan te herkou.

‘n Driehoek veerbootroete verbind pragtige oewerdorpies met welluidende name Argegno, Lenno, Tremezzo, Menaggio, Varenna en Bellagio, wat terselfdertyd uitkruip teen die skuins helling en met toon in die water staan.

Wye waterkant-promenades lei om die dorpies en ons keuse van wandel-promenades en bootvervoer lê voor ons! Vanaf salm- of okerkleurige rykmanswonings lei trappies af tot in die water waar hul bootjies vasgemeer lê.

Vir my is die heel mooiste plekkie tydens my onlangse Junie-besoek die Villa Carlotta by Tremezzo met 150 spesies azaleas in volle blom! Ons ry onder andere ook verby Villa Balbianella met sy malse tuine wat ook oopgestel word vir besoekers in die somermaande.

Die veerboot hou ook stil by die onbewoonde klein eilandjie,Comacina, waar ons ‘n rustige uurtjie of so kon verwyl vir ‘n lekker koppie cappucino en rondstap.

By ‘n opelug-eetplekkie in Varenna eet ons gebakte Crèpe "asparagus e formaggio" onder ‘n kaaskombersie. Hier word dik warm sjokolade met ‘n teelepel geëet. Te heerlik dekadent vir 8 Euro! Dan durf ons die steil trappies bo na die hoogliggende kloostertuin van Villa Monastero aan vir ‘n asemrowende uitsig oor die spieëlgladde meeroppervlak wat af en toe geluidloos deur ‘n verbyvarende boot geklief word. Voëltjies kwetter in die plataan-lanings en dit aksentueer die stilte wat jou andersins omring.

Die dogters vat hier gou ‘n ‘dippie’ om af te koel in die glashelder water. Bellagio , allerweë beskou as die pêrel van Como weens sy unieke ligging, lê op die punt waar die twee bene van die Lecco- en Lariomere van mekaar skei.

’n Breë kliptrap lei ons na die mooiste , duurste winkels wat ‘n verskeidenheid  Italiaanse spogkuns verkoop – die pragtige Patrizia-syserpe, en duurste leer, porselein of antieke keramiek. Ons kyk ons versadig en knip maar weer ons beursie radeloos toe! Wilskrag?!

‘n Meer bekostigbare tydverdryf is die Euro 6 besoek aan Villa Meltzi se pragtige waterkanttuine en dié van Villa Serbeloni wat tans die hoofkwartier van die Rockefeller Stigting is. Ons stap tot by Punta Spartivento, die uitkykplek waar die Como-meer se drie ‘bene’, in ‘n omgekeerde Y-vorm bymekaarkom.

So ‘n bus-veerboot-bus sirkelroete gee ons weer die geleentheid om met die anderkantste oewer langs terug te ry om nog meer asemrowende wegsteek-plekkies te ontdek.

Pryse kan interessantheidshalwe genoem word in Euro (Euro 1 ongeveer R10), ‘n Mens betaal 0.50 Euro vir toiletgeriewe, Euro 1 busgeld in die dorp vir 60 min., Euro 3 na meerdorpe verder weg en Euro 6 per veerboot eenrigting na genoemde dorpies, of Euro 25 vir ‘n dagkaartjie met alle stilhouplekke. Koffie of bier sal jou Euro 3 uit die sak jaag en ‘n pasta van jou keuse , ongeveer Euro 8.

Oor Como Mio kry ek hoendervleis ; ek sal ‘n maand lank daar kan verdwyn, elke dag se voorraad by ‘n klein mercato gaan uitsoek: ‘n tros van vyf vars rooi tamaties, skyfies salami, prosciutto en ‘n verskeidenheid stukkies kaas. Appelkose en vars vye lê ‘n hele hand vol! By die gelateria kon ons ons elke dag aan ‘n ander geur roomys verlustig!

Como in sonskyn, reën, of deinserigheid – die weer is bysaak – elke weersomstandigheid verleen ‘n ander perspektief of sjarme aan die meer.
Uitstappies vanaf Como is ook moontlik. Stresa aan die Maggiore-meer, het ‘n sagter Alpe-silhoeët Voorheen was dit die speelplek van welgesteldes, maar deesdae heelwat meer besadig en bekostigbaar.

Die groot aantrekkingskrag van hierdie meer is die drie Borromese eilandjies, Isola Bella, Isola dei Pescatori en Isola Madre, elkeen met sy eie bekoring van “hangende” terrastuine, spog-villas , kunshandwerkstalletjies en buitelugkafeetjies aan die waterkant wat ‘n dagbesoek die moeite werd maak. Elke smal gangetjie lei na ‘n ander interessante eetplekkie of uitsighoekie. Die skoonheid in eenvoud is vir ons opvallend – ‘n swaar-dragtige lukwartboom, ‘n pot ligpienk azalea in volle blom, die mooiste malvas denkbaar op ‘n vensterbank met groen luike wat gul oopstaan. Niemand is haastig of ongeduldig nie, niemand roep of praat hard nie.

Ver agter lê die Alpe in skakerings van blou , met die heel agterstes in ‘n sneeukappie gehul. Ons praat nie veel nie , ons absorbeer die aromas en ambience soos ‘n spons en tel net al ons seëninge!

Heelwat verder ooswaarts lê Garda-meer, die grootste van die Lombardiese mere. Met die dorpie Desenzano (wat op die hoofspoorlyn Venesië toe lê) as toegangspunt, kan jy ook hierdie meer jou nesskopplek maak vir ‘n week lank sonder om verveeld te raak of versadig te voel van visuele genot! Sirmione op die punt van ‘n skiereiland-tepeltjie, Limone ver noordwaarts langs die oewer, is welluidende name van besoekpunte.

Besienswaardighede langs hierdie Gardone Riviera wissel van ou fortkastele, soos die Rocca Scaligera en die Catullo-grotte (‘n ou Romeinse spa en argeologiese museum). ‘n Klein treintjie, Il Trenin, vervoer mens na en van die ruïnes. In die skadu’s van groot plataanbome waarin wildekanaries hulself tuismaak, kon ons ons lekker Italiaanse espresso sit en drink en verbygangers bekyk. Na die sentrale plein word sommer as centro storico verwys.

‘n Veerbootkaartjie van Navigazione Lago di Garda vir ‘n dag lank (Euro 25), behoort jou by ‘n hele paar van die afstapplekkies te bring waar jy langs die lungolango meerpromenades die belle viste (uitkykplekke), water-aktiwiteite , mooi tuine en villas kan besigtig.

Drie kilometer buite Riva del Garda kan die Cascata Verona-waterval , wat die 110 meter-diep ravyn oor derduisende jare uitgekalwe het, besoek word vir natuurwandelings. Twee of selfs drie weke kan maklik opsygesit word vir ‘n besoek aan die Lombardiese mere sonder om ooit een dag verveeld te voel; Milaan, Venesië en Verona is binne bereik op die treinroetes, as jy sou wou wegbreek vir meer kulturele besigtiging.

Die laaste dag maak ons gou ‘n lysie van ons nuwe Italiaanse woordeskat. Binne ‘n kort tyd  het  ons maklik 200 woorde  geleer lees en ons kan dit selfs reg uitspreek!

Op pad terug Kaap toe sien ek ‘n SAL slagspreuk op die koffiebekertjie: U Kuhamba, Kukubona – overgesetzynde: “reis maak jou oë oop”.

Reis dus gerus na Como…..!

Monday, 12 September 2011

Kamees uit my reis-collage

Kamees uit my reis

collage

Ons reislustiges het mos ‘n passie wat iewers ‘n begin gehad het , maar seker nooit ‘n einde sal bereik nie... As mens eers begin reis-gesels, kan jy jouself nie keer nie, of jy sit maar weer en dagdroom met ‘n atlas of album oop op jou skoot!

Dan kry ek vonkies van herinnering wat my alles weer opnuut sintuiglik laat ervaar - ek sien, hoor, ruik, proe en voel álles asof dit gister gebeur het:

Voor my geestesoog sien ek weer ’n lap geel sonneblom op ‘n Van Gogh-landskap in Provence, ‘n witgekalkte Griekse huisie met blou vensterluike en ’n skaduryke wingerdprieel....
Ek staan weer in die mis hoog op ‘n Switserse sneuebedekte bergpiek en aan die voet van die Christus-beeld Funchal lig ek my arms ook omhoog…….
Ek hoor die véraf geklingel van koeiklokke op ‘n Switserse weiland, die trompet–eggo oor die water van die kalm Königsee….
Kan mens regtig herinnering ruik? Ek dra ewig saam met my die geur van vars dou op ’n Europese lenteveld, varsgemaalde wakkermaak- koffie by ’n kafee in Wene….
Met toe oë proe ek weer ‘n soet-deurweekte Griekse heuninggebak, ‘n glasie versterkende bloubessiesap in ysige Noorweë….
In my gedagte streel ek oor die koel marmer uit die meesterhand van Michelangelo en ek pluk aan die stringe van die Griekse bouzouki….

Dikwels vra reisvriende my watter reisbestemmings vir my besonder spesiaal was , waarheen sou ek weer wil teruggaan, wat sou ek aanbeveel, of weglaat uit ‘n reisplan.

As ek nou in retrospek ‘n collage kon saamstel van besondere plekke in Europa waar ek al spore getrap het, sou ek die bestemmings hieronder uitsonder as “moet-sien” , of herbesoek-plekke .

Santorini:

My eerste keuse is die unieke eiland Santorini in die suidelike Egeïese See wat per veerboot bereik kan word vanaf Pireaus en ander omringende eilande.

Die hoofdorp, Thira, lê soos uitgestrooide stukkies nougat hoog bo-op die rand van die halfmaankrater van ‘n uitgewerkte vulkaan. Afhangende van hoe haastig jy is, kan hierdie kruinstad per donkie langs 'n steil kronkelpad, per bus, of per kranshysbak bereik word.

Die dorpie met witgekalkte huise, smal gange, kerkies, poorte, kloktorings met blou koepels, kyk uit oor 'n stil, diepblou see waar skepe daar ver onder dobber op 'n goud-verglansde see . Die uitsig oor die see is veral teen sonsondergang asemrowend – ‘n onbeskryflike emosionele ervaring. Teen skemer as die aandklokke begin beier, word liggies een na die ander aangeskakel en Thira word omskep in 'n glinsterende tiara-kroon.

Meteora:

Een van die mees indrukwekkende vestings wat ek nog ooit besoek het, is in die noordelike binneland van Griekeland en bereikbaar per bus of trein van Athene. Hier sien jy die geweldige hoë rotspilare van Meteora , waarop vroeë Bisantynse monnike hoogliggende kruin-kloosters gebou het, soos die Grand Meteoron, Varlaam en Roussannou.

Honderde steil trappies lei boontoe na kloosterkamers en museums met allerlei relikwieë. Mens kry sommer hoendervleis as jy so van bo-af uitkyk oor die dorpies vér onder in die laagte . Dit is asof jy die stilte om jou kan hoor , die ideale plek om te kom mediteer. G’n wonder die eertyse monnik-vlugtelinge het hul juis hier kom afsonder nie!

Elsass-wynland:

Die natuurskone Elsass-wynland lê in 'n smal strook van Frankryk aan die westelike oewer van die Ryn .
Die streek is veral bekend vir sy dorpies met tradisionele houtinleg-huise en muurbeskildering , kleurvolle balkontuintjies, lowerryke woudgebied en wingerd. 'n Reeks wyndorpies lê ingeryg langs die Route du Vin,
Die charimatiese spogdorpie Colmar is per trein bereikbaar vanaf Strasbourg en vandaar kring kontreibusse uit om jou te bring waar jy wil wees. Bring gerus 'n stuk of twee Betschdorf-keramiek saam as mooi herinnering van hierdie uitsonderlike deel van Frankryk met sy ou-Duitse karakter!

Como:

‘n Besoek aan Como is voorwaar ‘n ontrimpeling van jou siel.

Como-meer, is die derde grootste die noordelike Lombardiese mere in Italie, en lê soos ‘n stukkie saffier in ‘n ou gletser-skeurvallei. Mens bereik dit maklik per trein vanaf Milaan.

Como-dorp self is te voet verkenbaar en vanaf die kaai-promenade vertrek bote na oewerdorpies wat die een mooier is as die ander. So ’n rit bied ‘n intiemer kykie op die asemrowende villas en welige sub-tropiese plantegroei. Wisterias, en ander blomrankers kruip op teen klipmuurtjies ; kamelias en rhododendrons staan uitgedos om elke hoek!

Deur die gegote ystertralies sien mens momenteel die salm- of okerkleurige rykmanswonings met terrastuine , spuitfonteine en pragtige wit tuinbeelde .

Oor Como Mio kry ek hoendervleis ; ek sal ‘n maand lank daar kan verdwyn . Como, enige tyd in sonskyn, reën, of deinserigheid ! Die weer is bysaak, want elke weersomstandigheid verleen ‘n ander perspektief of sjarme aan die meer.

Die Sorrentynse skiereiland;

My geliefkoosde nesskopplek in die suide van Italië is Sorrento, vanaf Napels-stasie bereikbaar met die Circumvesuviana-treintjie. Sorrento is die hartklop van die skiereiland; hiervandaan vertrek veerbote na die nabygeleë eiland Capri, en bussies neem besoekers rond vir verkenning van die skiereiland-dorpies..

Te voet sien jy egter die dorp in al sy glorie en eenvoud. Die hoogliggende parktuin bied 'n mooi uitsig oor die kaai-bedrywighede van Marina Grande, die baaiplekke van Marina Piccolo, oor die beroemde Baai van Napels en Vesuvius, deinserig in die verte.

'n Menigte winkeltjies verkoop aanloklike porselein of houtinlegwerk, kamees en koraal en alerlei suurlemoen-produkte

Die Amalfi-kuspad word allerweë beskou as een van die mees natuurskone ritte in Italië. Eintlik skiet my se woordeskat tekort vir gepaste bekrywing van hierdie uitmuntende panoramiese kranspad-roete. Dorpies soos Positano en Amalfi klou hoog teen die kranse vas en onder lê die see blou en stil soos 'n dam.

Capri se Monte Solero is die kruin waarvandaan mens ver oor die see en die bekende Faraglioni rotse kan uitkyk. Die turkooisgroen water by Marina Piccolo se klipstrandjie lok jou om te gaan baai, sommer so tussen die kleurvolle geankerde bootjies.

Salzkammergut:

Sielsrus in die Salzkammergut!
Die Salzkammergut-vallei is 'n romantiese bergparadys met blougroen mere en oewerdorpies, genestel tussen die Oostenrykse Dachstein Alpe . Per bus, trein of motor vanaf Salzburg, is oewerdorpies soos Gmunden, St Wolfgang , St Gilgen, Bad Aussee maklik bereikbaar.

Veral Hallstatt is poskaartmooi en verdien 10 uit 10 vir ligging en natuurskoon. Die dorpie se onderstebo-weerkaatsing lê helder in die meer, die houthuisies is pragtig versorg en daar heers ’n rustige atmosfeer. Dis amper asof elke klank hier helderder is – die akoestiek tussen die bergwande is uitstekend.

‘n Soutmynbesoek, diep ondergronds, is ook ‘n spesiale bonus!

Heidelberg:

Ou Heidelberg in die Rynland is per trein en rivierboot bereikbaar. Die pragtige Duitse oustad langs die Necka-rivier hou ‘n spesiale romantiek in vir die besoeker - wie kan nou die Studenteprins-fliek uit ons jong dae vergeet?

Altstadt Heidelberg het een van die oudste universiteite in Duitsland wat dateer van 1386; deesdae is daar ongeveer 30 000 studente en heers ‘n aanvoelbare “gees”.

Vanaf Bismarckplein kan jy wandel langs die keisteen-voetgangerpad met die mooiste winkels en eetplekkies waar jy kan sit en luister na die middag se Glockenspiel en jou verlustig aan Duitse gebak.

Dan haas jy jou om met die Königstuhl Bergbahn op te ry na die ou Heidelberg Schloss. Bo van die ou kasteel af het jy ’n asemrowende uitsig oor die Neckar-rivier, antieke brûe en oorkantste digte groen woude. In die tuin van die kasteel het ons die fontein van ou ‘Vader Ryn’ raakgeloop - ’n antieke beeld half-liggende op ’n wynkruik wat aaneen vloei en spuit en nooit leegloop nie.

Fjordland:

Die Noorse fjordland is ’n asemrowende gebied van gletsers en tuimelende watervalle uit die hoë sneeubedekte graniet-gesteentes.Ver onder in groen valleie lê die pragtige fjordinhamme waarvoor Noorweê so bekend is.

Ek haal graag aan wat ek iewers in ’n reisbrosjure oor die Noorweegse fjordland gelees het: “No amount of anticipation and no photographs can ever prepare the traveler for the real thing!” Dit is inderdaad so - die stilte en die dramatiese natuurskoon laat ’n mens stil én stom.

Hoog bo by ‘n uitkykpunt het ons ’n ruk lank stilgehou sodat ons die asemrowende skoonheid van die Geiranger-fjord kon inneem. Geiranger was beslis die hoogtepunt van ons toer deur Noorweë.

’n Bootrit oor hierdie spieëlgladde meer, tussen die hoë skeurvallei het ’n fantastiese dag afgesluit. Hout-plaashuisies hoog in die berge, die Sewe Susters-waterval, ander mooi passasiersbote wat geruisloos verby ons oor die water gly, en fantastiese weerkaatsings op die gladde watervlak, het alles daartoe bygedra om hierdie besoek onvergeetlik te maak.

Cinque Terre

Suid van Genoa, langs die blou Liguriese kuslyn, ‘hang’ vyf dorpies hoog aan die rotskranse vasgeplak. Klankryke name soos Riomaggiore, Vernazza, Monterosa, Corniglia en Manarola, pas by die idilliese omgewing, vir my seker van die mooiste bestemmings in Italië. Die Cinque Terre is bereikbaar per hooflyntrein tussen La Spezia en Genoa.

Om al vyf pastelkleurige dorpies behoorlik te kan waardeer, is daar twee ander moontlikhede: vir energiekes is daar die krans-wandelpaaie wat dorpies verbind, vir luies is daar die veerbootjie van La Spezia . Beide opsies bied manjifieke panoramas oor die see en kuslyn!

As ‘ewige reisiger’ bly daar vir my steeds nog ‘n horison , ‘n nr 10-plek wat my naderwink - soos Taormina aan die voet van die Etna-vulkaan in Sicilië, Travemunde (strandoord aan die monding van die Trav-rivier in Noord-Duitsland, of vir oulaas dalk die Groot Muur van China …..
Wie weet? Die hoop beskaam nie.

My reistas staan weer eens afgestof en geëtiketteer. Dit staan oop in afwagting, soos ‘n voetsoldaat wat wag op die bevel. Daar’s nog plek vir ‘n paar nuwe etikette aan die binnedeksel!

Sunday, 21 August 2011

Provence

......afdraaipaadjies in Provence 
 (Anita en Arne se piekniek in Provence)



‘n Lappieskombers, opvoubare piekniekhouer, twee silwer wynglase en sonhoede het voorkeur geniet op die inpaklys vir ons kort somerwegbreek na Provence, Frankryk.
Ons kon ‘n week inpas op ‘n besige werkskedule in Frankryk, en ‘n vriendin het Provence aanbeveel as ‘n afskopplek vir ons afdraaipaadjies....
My verwagtinge van die Van Gogh-wêreld was reeds vooropgestel in ‘n collage van sonneblom, laventelvelde, olyfboorde , wingerde en  antieke heuweltopdorpies. Dalk loop ek nog ‘n legendariese prins op ‘n wit perd raak as bonus! Die hoop beskaam mos nooit!
Ons sou via Parys na Marseilles toe vlieg . Daar sou ‘n rooi Citroentjie  vir ons gereed gestaan vir ons wegbreek-week.
Op die Air France-vlug, ervaar ons alreeds ‘n tikkie Franse kultuur terwyl ons luister na die Franssprekende lugwaardin wat flink ons Rouge-wyntjie skink. Vanuit die vliegtuig kry ons al ‘n eerste blik oor die historiese ou Marseilles, die Meditereense  hawestad. 
Ons wou eers die  afdraaipaadjies van die Luberon Nasionale Natuurpark vir vier dae lank gaan verken.Daarna sou ons die mooiste landskapskone dele van Provence in die Vaucluse, besoek.
Vanaf Marseilles-lughawe was ons eerste bestemming darem nie te ver nie,  sowat 50 km na Mas de la Tour naby Rousillon, die pragtige oker-dorpie.  In Provence is the mas of gites bekostigbare  blyplekke soos ‘n tipiese plaasgastehuis of kothuis ,‘n goeie alternatief as jy die kontrei-leefstyl wil  ervaar.
Hierdie deel van Provence  is baie gewild onder vaardige fietsryers en stappers wat die Luberon-natuurgebied wil verken.  Al die dorpies is feitlik fietsry-afstand van mekaar af geleë en verbind met spesiale fietsrypaadjies.
Orals om ons  merk ons ou eeue-oue heuweldorpies met forte,soos  by Gordes, Rousillon, Bonnieux, La Coste, en Menerbes. ‘n Mens ondergaan as’t ware ‘n tydsverplasing terug in die verlede as jy hier rondwandel.
Ons het gou agtergekom dat winkels en stalletjies eers teen elfuur op dreef kom en dat jy maar jou piekniek moet beplan om saam te val met die middag siesta wat ook hier streng beoefen word!
Markte word elke dag van die week in die somermaande om die beurt in  dorpies gehou .Ons plan was om ons reisplan so volgens die markies aan te pas sodat ons elke dag ons vars voorraad kon aankoop. Die handige somer-markkalender was ‘n bonus. 
Piekniek-versnaperinge aangekoop by kleurvolle padstalletjies het gewoonlik bestaan uit plaaslike produkte soos heuning, vye, kaas, spanspek, ham, olywe , tapenade, pâtes,  varsgebakte Franse broodjies en  Rose, Rose, en nogmaals Rose!
Hierdie piekniek-etes was essensieel  en so spesiaal vir ons afdraaipaadjie-wegbreek. Skadu, gras en uitsig was die eenvoudige vereistes waaraan elke dag se spesiale piekniekplek  moes voldoen.Ons dun lappieskombersie het handig te pas gekom.
Lourmarin was eerste op ons toerplan en is die mees suidelike bergtop dorpie in die sogenaamde Petit Luberon -natuurgebied.
Rousillon, die skilderagtige geel-en-rooi dorpie tussen die oker-gesteentes kontrasteer met die groen wingerde in die valleie wat dit omring.  Hier kan ‘n mens die  okerroete gaan stap, om die okermyn-terrein te besigtig. Die kleur van die rotse wissel van heldergeel tot oranje en die poeier wat gemyn is, was hoofsaaklik gebruik vir kleurstowwe.
Ons besoek aan die bekende Museum de Lavande in Coustellet gee ons weer opnuut respek vir die laventelbedryf.  Ons word ingelig oor die verskil van lavender wat natuurlik in die veld voorkom en hoofsaaklik vir parfuum-olies gebruik word,  of lavendin, die aangeplante weergawe, wat hoofsaaklik vir sepe en  velprodukte gebruik word. 
‘n Mens kry nuwe begrip vir die simbiose wat bestaan tussen die bye en lavender en het later te heerlik gesmul aan spesiale geurige laventelgeur-heuning wat daar verkoop word.  Geselsies met die heuningverkopers oor hul byebedryf was besonder interessant.
Sault is die enigste area waar die velde tot in Augustus nog pers getooi  is en ons besluit toe maar om daar ‘n wye draai te gaan maak.Daar kry ons toe ‘n heerlike onverwagte bonus . Behalwe vir die bekende lavender-fees en  kontrei-markbedrywighede is dit ook bekend vir die jaarlikse fietsrytoer wat in die bergpasse van die Mont Vertoux-gebied plaasvind. 
Die valleie is beplant met reguit rye lavender wat pragtig kontrasteer met die kronkelende bergpaadjie en die wit piek van Mount Vertoux in die verte. Kol–kol kry jy dan ook die komplimenterende kontras van goudgeel sonneblomlande. My kamera moes klik tot vervelens toe!
Gordes is vir my seker die indrukwekkendste van al die heuweldorpies.  In die somer wemel die antieke dorpie van mense tussen kegelsteeggangetjies en straatkafeetjies . Daar kry ons toe sommer ‘n gratis wynproe van die area se  bekendste wynprodusente. 
Naby Gordes is die bekende klipdorpie met kliphuisies wat uit die tydperk 3 500 vC dateer.  Net ‘n klipgooi van Gordes,  êrens in ‘n vallei , op pad na nêrens,  lê die bekende ou  grys abdy van Senanque versteek.  In teenstelling  met die besige toeristestraatjies van Gordes, word mens hier dadelik oorval deur stilte en vreedsaamheid, dít wat menige monnik hier kom soek het.
L’Isle-sur-la-Sorgue is letterlik ‘n eiland in die Sorgue-river en spog  met verskeie anieke waterwiele .Hierdie dorpie ondergaan oor naweke ‘n metamorfose as al die antiekware-versamelaars kom rondsnuffel vir allerande winskopies van tradisionele Franse linne, silwerware , meubels, porselein , en dies meer.
Die platboom-riviergondels word behendig beheer deur plaaslike vissermanne  en sorg vir groot pret! Hier moet jy jou balans goed kan behou!
Kilometer-lange plataanlanings  begelei jou op pad na St Remy van Van Goch-faam . Hier kan jy gerus die van Gogh-wandelroete stap en  die  skilderagtige omgewing as’ t ware uit Van Goch se oë sien.. 
Die ommuurde oustad van Avignon dateer uit die 14de eeu, en was die vesting van die Pous gedurende daardie tydperk. Ons hou piekniek en klink ‘n glasie  in die koelte van die Romeinse akwadukt , of waterleidingsbrug.
Net suid van St Remy tussen die wit kalksteenrotse van die Alpilles, besoek ons ons voorlaaste bestemming op die sirkelroete  terug na Marseilles. Les Baux is ‘n  fort-dorp, steeds staande en bewoonbaar sedert die 10de eeu -   letterlik een van die hoogtepunte op die roete. Hiervandaan  het mens ‘n asemrowende uitsig oor die Provencaalse platteland tot by die aangrensenge Camargue-gebied, bekend vir sy pragtige perde.
Somertyd is feestyd in Provence , soos die Cheval Blanc-perdefees in St Remy , musiek en teaterfeeste in Avignon en Orange, die wynfees by Chatenauf du Pape, die lavenderfees by Sault en die antiekware-fees by L’Isle-sur-la-Sorgue.
Op die smalste afdraaipadjies tussen die wingerde deur, wag daar soms die grootste verassings, soos die aantreklike fransman op sy cheval blanc (wit perd) wat ons ewe galant vaarwel toewuif met sy beret....
Ons laaste middag verwyl ons in pragtige Aix-en-Provence .Soos een poskaart dit beskryf het, is somer in Provence , poésie de couleurs (poesie in kleur!) Orals langs die pad het pers laventelbosse gepryk, en rooi klaprose aan die rande of tussen landerye was pragtig kontrasterend met die rye geel-op-geel sonneblom.
In Aix het ons gou koers gekry na Cours Mirabeau, die pragtige wye straat met skaduryke boomlanings. Orals het mense by straatkafees gesit en koffiedrink en gesels.
Ons kon ons verkyk aan winkels met vrolike groen-blou-geel Provencaalse lap en handwerk, met motiewe van sonneblom en ander inheemse flora. Geurige, gedroogte potpourri in bont materiaalsakkies was volop, handige geskenkies vir familie en vriende tuis.Op die sypaadjie by een winkel was ’n groot verskeidenheid keurige kunsplakkate uitgestal  - Cezanne, Van Gogh, Matisse -’n moeilike keuse!
Op een straathoek het ons ’n ruk lank verwyl om te kyk hoe ’n groepie mans met hul karakteristieke Franse pette en kruisbande rustig rondstaan en boules (‘n rolbalvariasie) speel tydens hul etensuur.
Marseilles is ‘n kosmopolitiese hawestad en invloede van die Franse koloniale Afrika is oral herkenbaar.  Die magdom seilbootjies in die ou hawe area is ‘n aanduiding van die groot Europese uittog in die somer na die populêre Mediterreense kus. Hoog teen die heuwel pryk ‘n indrukwekkende katedraal, die Notre Dame de la Garde, met sy goue beskermengel.
Hier smul ons toe vir oulaas aan die bouillaibaisse, ‘n ryk en geurige vissop-bredie. Salut, op ons somer in Provence!


Friday, 29 July 2011

Beiere

Mei-migrasies  na Duitsland - die Beierse Alperoete


Dis weer Mei. Ek ervaar elke jaar hierdie tyd opnuut die sindroom van nostalgie – onverklaarbaar, maar onafwendbaar. Daar’s afwagting op daardie spesifieke oomblik van tintelende inspirasie, die instinktiewe wéét - dis nou weer tyd:




Dan, op ’n Saterdagmiddag sprei ek my atlas, reisboeke, brosjures en kalender oop óm my - reg vir die raakvat. Ek klim as’t ware sommer binne-in die kaart in en versink in ‘n besondere deel van Europa - die Duits-Oostenrykse grensgebied, bekend as die Alperoete van Bo-Beiere, ’n mosaïek van sneeubedekte bergpieke, glansende mere en vallei-gehuggies.




My huidige paspoort het nog net een blanko bladsy vir die nodige Schengen-visum voordat dit in 2007 verval. Daar is egter twee spesiale verjaarsdae om te gaan vier - iewers langs ’n stil paadjie op ’n mooi plek. Twee miniatuur wielietjie-reistassies staan reeds afgestof en geëtiketteer  - gereed  op die bevel, soos wafferse voetsoldate!




Gesoute reisigers is dit mos eens dat die voorbereiding vir reis ’n groot deel van die lekkerte daarvan uitmaak. Wanneer die besluit eers geneem is, begin die huiswerk in alle erns: die Internet word geraadpleeg vir verblyf en vervoer, dokumente en administrasie word voorberei en afgehandel - om nie te praat van verskeie lysies, brille en pille, diere-versorging, doen-nog-dit-en-dat, en dies meer nie!




Elke vakansie kry mos eers ’n raamwerk – dis die ‘ideaal’. Later staan mens terug en kyk na alles wat werklik binne die raam geskilder is – dis die ‘werklikheid’. Sou dit ’n meesterstuk wees, of teleurstelings inhou?




Laat ons maar by die ‘ideaal’ begin: Waarom weer Duitsland? Miskien is die keuse toe te skryf aan die gawe Duitse gemütlichkeit, die liefde vir die taal wat Herr Anton Bürke op hoërskool by my gekweek het, of moontlik is dit iets in my bloed, oorgeërf van my groot-grootvader aan moederskant iewers uit oos-Duitsland afkomstig.(Hieroor wag ‘n stuk stamboom-navorsing nog later op my!)




Die vars Europese lente het sekerlik veel met die keuse van bestemming te doene gehad -  ’n 300 km-lang strook tussen die Chiemgau, Allgau en die Berchtesgadener-land wat ons in ‘n bestek van drie weke tydsaam en intiem wou verken. Tydens hierdie vakansietjie wou ons enige dringendheid van moet-en-moenie, onnodige haas en stres vermy; ons wou net luilekker ontspan (faulenzen, soos die Duitsers dit noem), ons verlustig aan die mooi omgewing, boot en kabelkar ry, koffie en bier drink, winkel-kyk en slegs uitsonderlike besienswaardighede besoek. Die absolute minimum in- en uitpak is beplan, derhalwe is slegs drie verblyfplekke uitgesoek.   




“Ruhpolding? Nog nooit van so’n plek gehoor nie! Wat gaan doen ‘n mens daar?”  -  dít  was gewoonlik die algemene  reaksie van ons vriende en kennisse wat vooraf belangstellend na ons planne verneem het. Dáár waar Duitsland suidelik so ’n tepeltjie uitsteek in Oostenryk, naby die bekende Berchtesgaden, sou ons ’n week-lank nesskop in die Ferienwohnung Knoglerhof  (60 Euro vir ‘n twee-slaapkamer vakansiehuis) van die gawe  Maier-boeregesin.




Soos die spinnekop sy webterrein span, wou ons daagliks vanaf Ruhpolding (wat hoofsaaklik vir sy sentrale ligging uitgesoek is) in ’n radius van 100 km  rondbeweeg en verken. Op ons lys vir die week was dagbesoekies aan die Königsee, Bad Reichenhall-spa, die Chiemsee-eilandjies en moontlik die mooi Salzkammergut.




Ooswaarts sou ons verder aan beweeg, verby die meergebiede van die Tegern, Kochel en Walchen tot by ons volgende web, die Alpspitzblick-vakansiehuis in Farchant, ’n ander klein dorpie net buite die Garmisch-Partenkirchen tweeling-gemeenskappies geleë. Farchant is uitgesoek weens sy ligging en toeganklikheid - naby Oberammergau van Passiespele-faam, Füssen met sy koning Ludwig II-feëkastele, die hoogste Zugspitz-piek, Mittenwald met sy geskiedenis van die viool-bedryf, sleg ‘n hanetree van die Oostenrykse Tirool.




By nabetragting tuis kry mens mos perspektief op die afgelope vakansie in die geheel gesien - die genotvolheid en flinkheid daarvan, tesame met nerf-af skaafplekkies hier en daar.




“ En hoe het alles toe werklik verloop? Was dit wat julle verwag het?”




Laat ons maar  gou eers die bietjie slegte nuus  afhandel  ( daarvoor het ek sommer  2 uit 10 afgetrek!), naamlik die onvoorspelbare, wisselvallige lenteweer wat ons onverhoeds bekruip het. Sneeu in die somer, sowaar! Twee weke lank was dit elke dag ‘n bruilof van ‘jakkals trou met wolf se vrou’(Affenhochzeit); die konfetti wat tussen die sonstraaltjies deurgesif het, was dikwels ysreën of sneeuvlokkies. Soms het die kwik tot ‘n bytende vriespunt gedaal. Op al die foto’s verskyn ons in dieselfde klere, laag op laag ,oor en oor! Hierdie teleurstelling moes egter in ‘n positiewe lig benader word en ons het selfvertroostend  daarna verwys as ons ‘topaas’-dae, loodgrys maar lieflik!




Die padvaste Mercedes  Benz A 180 van Avis was baie lig op diesel en het hom goed van sy taak gekwyt op gladde paaie en teen steil bergpaaie. Ons wou ten alle koste die vinnige




Autobane vermy en het  slegs sekondêre roetes uitgesoek - ook maar goed so - want oral was daar aanduidings van ellelange verkeersopeenhopings, of stau, wat ure se vertragings en gepaardgaande frustrasie meebring !




Die Ferienstrasse (vakansieroete) lei suidwaarts verby die ou stad Wasserburg wat in die omhelsing van die Inn-rivier lê. ‘n Lekker sappige brathendl  is op ‘n stil rusplekkie langs die pad geniet ; teen laatmiddag het ons ons eerste nesskopplek, Ruhpolding, sonder slag of stoot bereik. Lekker tuisgebakte butterkuchen  by die plaashuis Knglerhof het op ons gewag  - ‘n  gasvrye verwelkomingsgebaar vir “ unsere Gäste aus Kapstadt!”. Ons het ons skoene uitgeskop vir ‘n middagslapie ná die lang vlug en rit. Later sou ons wel uitgerus genoeg wees om die vriendelike Maier-gesin beter te leer ken , die plaaswerf-omgewing aan die voet van die Rauschberg te ondersoek, en ons gasheer en sy vrou met ‘n duisend vrae te peper.




Ons verblyf was goed gevarieer – die eerste vyf dae sou ons by hierdie gawe boereplaas-cum-gastehuis oornag (nogal met aangrensende koeistal!), vir twee dae aan die oewer van Tegernsee was ons kamers bokant die Lengmüller Cafe Konditorei en in Farchant het ons ‘n week lank tuisgegaan in ‘n goed-toegeruste en gerieflike vakansiehuis aan die buitewyke van die dorpie.




Vir elke dag was daar ‘n vooraf-beplande uitstappie. Die Berchtesgadenerland is ‘n idilliese landskap van kristalskoon mere en bergpieke, alombekend vir Hitler se hoogliggende ‘Arendsnes’, of Kehlsteinhaus, in die Watzman-berge.  Deesdae is daar ‘n o.a. restaurant  ingerig . Die Obersalzburg-museum bevat ‘n visuele rekonstruksie van die Hitler-regime se ondergrondse bunkerlewe, ens. Hier van bo-af was die Watzman ‘familie-pieke’ duidelik onderskeibaar. In ‘n vriendelike oop kerkie, 1781m hoog, word daar Sondae in somertyd glo nog  gereeld bergdiens gehou!




‘n Besliste prioriteit vir ons was die bootrit op die asemrowende diepblou Königsee. Terwyl die meerboot geruisloos oor die stil water gly na die rooi koepelkapel van St Bartholomeu, tot by die Eiskapelle, ‘n oorhangende gletserkoepel, kan passasiers luister na die weerklank van ‘n flügelhorn blaasinstrument wat duidelik terugklank teen die hoë ravynwande.Besoekers kry ook die geleentheid om heerlike (peperuur!) forel-spesialiteite op die spyskaart uit te soek.




By Prien am Chiemsee aangekom,  het ons oorgestap op die stoomtreintjie na Stock waar ons aan boord van die Chiemsee Schiffahrt se veerboot ‘n retoervaart kon onderneem tussen die twee geliefkoosde eilandjies van Ludwig II - die Herreninsel met sy ‘halfklaar’ Versailles-immitasie (Schloss Herrenchiemsee) en die naburige Fraueninsel met die pragtige wit Benediktynse Frauenwörth nonneklooster, ‘n goed-versorgde begraafplaas en tuine.




Ons Alperoete verder weswaarts in die rigting van Tatzelwurm het gekronkel deur digte groen woude; op sonnige dae was die blarekoepel met goud verglans en op reëndae was dit in die misterie van mistigheid gehul.  Dit was nou sowaar Hansel en Gretel se wêreld! Orals was die sneeu aan’t smelt; watervalletjies het berg-af getuimel om bruisende bergstrome te vorm, en dié weer het op hul beurt saamgevloei in albastergroen riviere. Vanaf hoë uitkykplekke langs bergpasse, kon ons afkyk op diepliggende dorpies, soos Bayerischen Zell, Zirl en Ettal, lieflike Lilliputwêreld!




Orals langs die pad, op die onbegaanbaarste plekke, het ons energieke stappers met wandelstokke  en veteraan fietsryers teëgekom wat die fris berglug en lieflike woudnatuur wou geniet, die reën ten spyt!




Klein opstalletjies rys sommer uit die groen lenteveld uit soos paddastoele, elkeen met ‘n netjies-gepakte houtstapel, watertrog, koeistal en baalstoortjies. Eienaardig genoeg was daar feitlik geen boere of arbeiders op die lande te sien nie, ook geen implemente behalwe sny- en baalmasjiene nie. Lekker vet koeie en skape het dikgevreet aan blommekos, halflyf in die malse gras verdwyn.




Die  bekoring van die  Bo-Beierse dorpies lê in hul individualiteit en ongekunsteldheid - plekkies soos Ruhpolding, Mittenwald, Oberammergau, Reit im Winkl, St Wolfgang - om maar enkeles langs ons roete te noem - het elkeen sy eie sjarme, ambience, karakter en unieke ligging, hoog teen ‘n berghang, diep onder in ‘n vallei, aan die oewer van ‘n meer, of in ‘n digte woud versteek. Sprokieland!




Algemene eienskappe is egter die besondere kunstige muurbeskildering (Luftmälerei), die alomteenwoordige Mei-pale met ‘n geskiedkundige tafereeltjie aangebring op elke dwarssport, houtgekerfde balkonne met bakke vol kleurvolle malvas, die tradisionele tragt kleredrag, cafe und konditorei. Houtsneewerk uit die kontrei, asook die heimat-handwerk was baie begeerlik , maar  loerkoop was vir ons genoeg.




Bier (Zum Wohl!), bretzel , ham in enige denkbare vorm, kartoffelpuffers, sauerkraut en soetgebak- koekerasies is die stapelvoedsel van Beiere. Die lieflike vet skape en koeie op die groen weivelde word seker net aangehou vir melk, kaas en wol, want ‘n lekker skaaptjoppie of stukkie steak was so skaars en onverkrygbaar soos die spreekwoordelike hoendertande! Dit was egter aspersie-tyd en geurige spargel-geregte word op enige denkbare manier voorberei - op brood, sop, in souttert, as garnering by hoender en ham, en dies meer. Van die onweerstaanbare soetgebak, soos erdbeertorte en apfelkuchen moes ons daagliks ook ons rantsoen kry!




Verder weswaarts is ons verby die mooi plattelandse meergebiede van die Tegern, Kochel en Walchen na Garmisch Partenkirchen. Hierdie ‘siamese’ tweelingdorpies lê genestel in die Loisach-vallei aan die voet van die hoogste berg  in die Duitse Alpe, die Zugspitze. 




In hierdie geweste het ons tuisgegaan by ‘n rustige,  piepklein dorpie, Farchant, waar ons vyfster-vakansiehuisie aan die rand van die dorpie geleë was. Ai, die lentevelde van Europa! Dit het my laat gryp na Annette Kast-Riedlinger se gediggie uit haar digbundel, Hautnah ist noch zu fern, wat ek kortliks en gedeeltelik aanhaal  in maklik-verstaanbare, eenvoudige Duits:




Blumen Pflücken




mit dir
möcht’ ich
Schlüsselblumen pflücken
und Veilchen
Kornblumen
und Klatschmohn
ja, und Vergissmeinnicht




Füssen, in die suidelike Beierse Alpe,  is die  beginpunt van die Romantische Strasse en  verleen toegang aan die ‘Koninklike driehoek’ van  Neuschwanstein, Hohenschwangau en Linderhof - unieke storieboek-paleise waar Ludwig II se weelderige uitspattigheid en onmiskenbare obsessie met Wagner en die Franse koningshuis van Louis XIV duidelik merkbaar is. Altstadt Füssen self spog met ‘n interessante vioolmuseum, barokkloosters,  abdye en ‘n gesellige winkel-wandellaan.




Gelukkig kon ons ‘n tydsame 5 Euro-perdekar naderwink vir die steil opdraandpad na die Marienbrücke oor die Pöllat-ravyn, die mooiste uitkykplek oor Neuschwanstein en Hohenschwangau, die twee hoogliggende ‘feëkastele’. By nadere ondersoek kon ons onsself net vergaap aan die weelde van die koepel-troonsaal, sangkamer met Wagner-atmosfeer, die kroonlugters van kristal en die allermooiste mosaïek-marmervloere. Hohenschwangau ondergaan tans restourasie en  is vir besoekers ontoeganklik.




Linderhof-paleis daarenteen, in dieselfde omgewing, maar diep in die woud versteek,  is miskien makliker toeganklik en rustiger. Buite bekoor die terrastuine, spuitfonteine en vywers en binne staan mens net verstom in die manjifieke Spieëlsaal en ander ryklik-versierde staatskamers.




Hoewel die impak van die oordaad in Ludwig II se vier  Beierse paleise oorweldigend is, kan ek my algemene indrukke daarvan in ‘n neutedop saamvat: vergulde ricoco en barok versierings en beelde, delikate Meissen en Sevres-porselein van onskatbare waarde, kunstige parquet-houtinlegvloere, enorme spieëls en skilderye, glinsterende kristal kroonlugters, handgeweefde Vlaamse muurbehangsels, en die alomteenwoordige swaan en pou embleme. Spuitfonteine en simmetrie van tuin-uitleg  herinner mens ook sterk aan die koninklike Europese paleise, Versailles en Schönbrunn. Beslis indrukwekkend, maar oorweldigend..




Iets waaroor ons steeds wonder, is hoe op dees aarde al die swaar marmerpilare, spieëls, kunswerke en skatte, asook ander geweldig baie boumateriaal, destyds sonder moderne tegnologie en masjinerie, die steil opdraandes berg-op vervoer kon gewees het.




‘Mal’ Koning Ludwig? Nooit as te nimmer nie! Hy het reggekry (teen ‘n ontsaglike prys natuurlik!) wat ons teenswoordige bouers  en slim argitekte seker nie in hul wildste drome sal aanpak of  sal kan namaak nie.




Vir  nog ‘n klein dosis kultuur het ons gaan inloer by die Wêrelderfenis Wieskirche wat eenkant afgesonderd op ‘n oop groen veld staan, asook Ettal se barokklooster,  waar ons beïndruk was met die tegniek van die skilderkuns aan die koepelplafonne, die fyn houtgekerfde altare en preekstoele, ‘n reeks magnifiek-vergulde orrelpype, skilderye en beelde van engele, madonnas , ander heiliges, en die intieme toegedrapeerde belydenis-hokkies. Daarbenewens kom mens sterk onder die indruk van die  aanvoelbare eerbied en piëteit; Protestant of te nie, jy voel die drang om ‘n kersie te koop en aan te steek vir iemand daar vér, iéwers.................. 




Naby Innsbruck, oorgrens in die Oostenrykse Tirool, lê die Swarovski-kristalaanleg Kristalwelten. Hier is ons verrassend verwelkom deur ‘n legendariese liggende Reus (eintlik ‘n kreatiewe mensgemaakte heuwel) uit wie se oop bek ‘n sterk bruisende waterval stroom. Saam met fonteine wat oorkruis spuit, vorm dit ‘n reeks pragtige reenboë. Twee glinsterende geel kristal-oë hipnotiseer jou – jy voel ‘n drang om nader te tree en ondersoek te gaan instel in sy donker grot-ingewande om te sien watter aanloklikhede hy vir jou verberg!




Binne-in betree jy ‘n reeks pikdonker kamers waar allerlei  uitgestalde kristalkunswerke verblindend skitter. Onder ‘n massiewe spieëlkoepel word elke beweging meer as ‘n duisend keer gereflekteer, glasgange word verhelder met kristalweerkaatsings,  teen die vloer en mure verskyn vloeiende ‘droomskrif’ en dansende fantasiefigure. Dit is ‘n kaleidoskoop van lig, klank en kleur wat jou sintuie tot die uiterste beproef. Jy staan suf en oorbluf , maar net voordat jy ‘n flikkerende migraine-aanval wil kry, word jy beloon met ontvlugting na die helder oop vertoonlokaal van Swarovski-kristal . Jy  waag dit weer om asem te haal! Willoos en weerloos maak jy jou beursie maar oop vir ‘n piepklein kristalletjie.Vir die mooiste kristal sal jy  egter die hoogste  prys moet betaal !




Wat die weer betref, het die hoop egter nie beskaam nie! Met die eerste verskyning van ‘n handvol sonstrale na dae lank se reënweer, het ons die helder dag spreekwoordelik  gegryp. Die sneeuwit reeks pieke het afgeëts gelê teen die vars blou lug. Letterlik en figuurlik gesproke sou die bestyging van die Zugspitze en Alpspitze gedurende hierdie laaste paar dae die hoogtepunt van ons Alpe-vakansie wees.




Per rattreintjie is ons vanaf Garmisch na die Eibsee, deur ‘n 4 km lang uitgeholde tonnel in die bergwand, toe laastens per kabelgondel bo-oor die hoogste boomtoppe en berg-voetslaanpaadjies (waar houtgekerfde diertjies as wegwysers aangebring is), die steilte uit tot by die Gipfel. ‘n Mens kan op ‘n helder dag ver oor die grense van vier lande kyk - Switzerland, Duitsland, Oostenryk en Italië. Ons het diep spore in die 15 cm dik sneeu getrap om foto’s bo van die kruin te kon neem. Warm sjokoladedrankies het die ysige koue van benede vriespunt gou uit ons lywe verdryf.




Toe op ‘n helder dag  moes ek ‘n variasie  op ‘n ou wysie neurie -“ ek groet vir laas my sneeuwit berge.....”  Die tyd het aangebreek om weer soos die swaels suidwaarts terug te keer na warmer tuistes.