Friday, 29 July 2011

Beiere

Mei-migrasies  na Duitsland - die Beierse Alperoete


Dis weer Mei. Ek ervaar elke jaar hierdie tyd opnuut die sindroom van nostalgie – onverklaarbaar, maar onafwendbaar. Daar’s afwagting op daardie spesifieke oomblik van tintelende inspirasie, die instinktiewe wéét - dis nou weer tyd:




Dan, op ’n Saterdagmiddag sprei ek my atlas, reisboeke, brosjures en kalender oop óm my - reg vir die raakvat. Ek klim as’t ware sommer binne-in die kaart in en versink in ‘n besondere deel van Europa - die Duits-Oostenrykse grensgebied, bekend as die Alperoete van Bo-Beiere, ’n mosaïek van sneeubedekte bergpieke, glansende mere en vallei-gehuggies.




My huidige paspoort het nog net een blanko bladsy vir die nodige Schengen-visum voordat dit in 2007 verval. Daar is egter twee spesiale verjaarsdae om te gaan vier - iewers langs ’n stil paadjie op ’n mooi plek. Twee miniatuur wielietjie-reistassies staan reeds afgestof en geëtiketteer  - gereed  op die bevel, soos wafferse voetsoldate!




Gesoute reisigers is dit mos eens dat die voorbereiding vir reis ’n groot deel van die lekkerte daarvan uitmaak. Wanneer die besluit eers geneem is, begin die huiswerk in alle erns: die Internet word geraadpleeg vir verblyf en vervoer, dokumente en administrasie word voorberei en afgehandel - om nie te praat van verskeie lysies, brille en pille, diere-versorging, doen-nog-dit-en-dat, en dies meer nie!




Elke vakansie kry mos eers ’n raamwerk – dis die ‘ideaal’. Later staan mens terug en kyk na alles wat werklik binne die raam geskilder is – dis die ‘werklikheid’. Sou dit ’n meesterstuk wees, of teleurstelings inhou?




Laat ons maar by die ‘ideaal’ begin: Waarom weer Duitsland? Miskien is die keuse toe te skryf aan die gawe Duitse gemütlichkeit, die liefde vir die taal wat Herr Anton Bürke op hoërskool by my gekweek het, of moontlik is dit iets in my bloed, oorgeërf van my groot-grootvader aan moederskant iewers uit oos-Duitsland afkomstig.(Hieroor wag ‘n stuk stamboom-navorsing nog later op my!)




Die vars Europese lente het sekerlik veel met die keuse van bestemming te doene gehad -  ’n 300 km-lang strook tussen die Chiemgau, Allgau en die Berchtesgadener-land wat ons in ‘n bestek van drie weke tydsaam en intiem wou verken. Tydens hierdie vakansietjie wou ons enige dringendheid van moet-en-moenie, onnodige haas en stres vermy; ons wou net luilekker ontspan (faulenzen, soos die Duitsers dit noem), ons verlustig aan die mooi omgewing, boot en kabelkar ry, koffie en bier drink, winkel-kyk en slegs uitsonderlike besienswaardighede besoek. Die absolute minimum in- en uitpak is beplan, derhalwe is slegs drie verblyfplekke uitgesoek.   




“Ruhpolding? Nog nooit van so’n plek gehoor nie! Wat gaan doen ‘n mens daar?”  -  dít  was gewoonlik die algemene  reaksie van ons vriende en kennisse wat vooraf belangstellend na ons planne verneem het. Dáár waar Duitsland suidelik so ’n tepeltjie uitsteek in Oostenryk, naby die bekende Berchtesgaden, sou ons ’n week-lank nesskop in die Ferienwohnung Knoglerhof  (60 Euro vir ‘n twee-slaapkamer vakansiehuis) van die gawe  Maier-boeregesin.




Soos die spinnekop sy webterrein span, wou ons daagliks vanaf Ruhpolding (wat hoofsaaklik vir sy sentrale ligging uitgesoek is) in ’n radius van 100 km  rondbeweeg en verken. Op ons lys vir die week was dagbesoekies aan die Königsee, Bad Reichenhall-spa, die Chiemsee-eilandjies en moontlik die mooi Salzkammergut.




Ooswaarts sou ons verder aan beweeg, verby die meergebiede van die Tegern, Kochel en Walchen tot by ons volgende web, die Alpspitzblick-vakansiehuis in Farchant, ’n ander klein dorpie net buite die Garmisch-Partenkirchen tweeling-gemeenskappies geleë. Farchant is uitgesoek weens sy ligging en toeganklikheid - naby Oberammergau van Passiespele-faam, Füssen met sy koning Ludwig II-feëkastele, die hoogste Zugspitz-piek, Mittenwald met sy geskiedenis van die viool-bedryf, sleg ‘n hanetree van die Oostenrykse Tirool.




By nabetragting tuis kry mens mos perspektief op die afgelope vakansie in die geheel gesien - die genotvolheid en flinkheid daarvan, tesame met nerf-af skaafplekkies hier en daar.




“ En hoe het alles toe werklik verloop? Was dit wat julle verwag het?”




Laat ons maar  gou eers die bietjie slegte nuus  afhandel  ( daarvoor het ek sommer  2 uit 10 afgetrek!), naamlik die onvoorspelbare, wisselvallige lenteweer wat ons onverhoeds bekruip het. Sneeu in die somer, sowaar! Twee weke lank was dit elke dag ‘n bruilof van ‘jakkals trou met wolf se vrou’(Affenhochzeit); die konfetti wat tussen die sonstraaltjies deurgesif het, was dikwels ysreën of sneeuvlokkies. Soms het die kwik tot ‘n bytende vriespunt gedaal. Op al die foto’s verskyn ons in dieselfde klere, laag op laag ,oor en oor! Hierdie teleurstelling moes egter in ‘n positiewe lig benader word en ons het selfvertroostend  daarna verwys as ons ‘topaas’-dae, loodgrys maar lieflik!




Die padvaste Mercedes  Benz A 180 van Avis was baie lig op diesel en het hom goed van sy taak gekwyt op gladde paaie en teen steil bergpaaie. Ons wou ten alle koste die vinnige




Autobane vermy en het  slegs sekondêre roetes uitgesoek - ook maar goed so - want oral was daar aanduidings van ellelange verkeersopeenhopings, of stau, wat ure se vertragings en gepaardgaande frustrasie meebring !




Die Ferienstrasse (vakansieroete) lei suidwaarts verby die ou stad Wasserburg wat in die omhelsing van die Inn-rivier lê. ‘n Lekker sappige brathendl  is op ‘n stil rusplekkie langs die pad geniet ; teen laatmiddag het ons ons eerste nesskopplek, Ruhpolding, sonder slag of stoot bereik. Lekker tuisgebakte butterkuchen  by die plaashuis Knglerhof het op ons gewag  - ‘n  gasvrye verwelkomingsgebaar vir “ unsere Gäste aus Kapstadt!”. Ons het ons skoene uitgeskop vir ‘n middagslapie ná die lang vlug en rit. Later sou ons wel uitgerus genoeg wees om die vriendelike Maier-gesin beter te leer ken , die plaaswerf-omgewing aan die voet van die Rauschberg te ondersoek, en ons gasheer en sy vrou met ‘n duisend vrae te peper.




Ons verblyf was goed gevarieer – die eerste vyf dae sou ons by hierdie gawe boereplaas-cum-gastehuis oornag (nogal met aangrensende koeistal!), vir twee dae aan die oewer van Tegernsee was ons kamers bokant die Lengmüller Cafe Konditorei en in Farchant het ons ‘n week lank tuisgegaan in ‘n goed-toegeruste en gerieflike vakansiehuis aan die buitewyke van die dorpie.




Vir elke dag was daar ‘n vooraf-beplande uitstappie. Die Berchtesgadenerland is ‘n idilliese landskap van kristalskoon mere en bergpieke, alombekend vir Hitler se hoogliggende ‘Arendsnes’, of Kehlsteinhaus, in die Watzman-berge.  Deesdae is daar ‘n o.a. restaurant  ingerig . Die Obersalzburg-museum bevat ‘n visuele rekonstruksie van die Hitler-regime se ondergrondse bunkerlewe, ens. Hier van bo-af was die Watzman ‘familie-pieke’ duidelik onderskeibaar. In ‘n vriendelike oop kerkie, 1781m hoog, word daar Sondae in somertyd glo nog  gereeld bergdiens gehou!




‘n Besliste prioriteit vir ons was die bootrit op die asemrowende diepblou Königsee. Terwyl die meerboot geruisloos oor die stil water gly na die rooi koepelkapel van St Bartholomeu, tot by die Eiskapelle, ‘n oorhangende gletserkoepel, kan passasiers luister na die weerklank van ‘n flügelhorn blaasinstrument wat duidelik terugklank teen die hoë ravynwande.Besoekers kry ook die geleentheid om heerlike (peperuur!) forel-spesialiteite op die spyskaart uit te soek.




By Prien am Chiemsee aangekom,  het ons oorgestap op die stoomtreintjie na Stock waar ons aan boord van die Chiemsee Schiffahrt se veerboot ‘n retoervaart kon onderneem tussen die twee geliefkoosde eilandjies van Ludwig II - die Herreninsel met sy ‘halfklaar’ Versailles-immitasie (Schloss Herrenchiemsee) en die naburige Fraueninsel met die pragtige wit Benediktynse Frauenwörth nonneklooster, ‘n goed-versorgde begraafplaas en tuine.




Ons Alperoete verder weswaarts in die rigting van Tatzelwurm het gekronkel deur digte groen woude; op sonnige dae was die blarekoepel met goud verglans en op reëndae was dit in die misterie van mistigheid gehul.  Dit was nou sowaar Hansel en Gretel se wêreld! Orals was die sneeu aan’t smelt; watervalletjies het berg-af getuimel om bruisende bergstrome te vorm, en dié weer het op hul beurt saamgevloei in albastergroen riviere. Vanaf hoë uitkykplekke langs bergpasse, kon ons afkyk op diepliggende dorpies, soos Bayerischen Zell, Zirl en Ettal, lieflike Lilliputwêreld!




Orals langs die pad, op die onbegaanbaarste plekke, het ons energieke stappers met wandelstokke  en veteraan fietsryers teëgekom wat die fris berglug en lieflike woudnatuur wou geniet, die reën ten spyt!




Klein opstalletjies rys sommer uit die groen lenteveld uit soos paddastoele, elkeen met ‘n netjies-gepakte houtstapel, watertrog, koeistal en baalstoortjies. Eienaardig genoeg was daar feitlik geen boere of arbeiders op die lande te sien nie, ook geen implemente behalwe sny- en baalmasjiene nie. Lekker vet koeie en skape het dikgevreet aan blommekos, halflyf in die malse gras verdwyn.




Die  bekoring van die  Bo-Beierse dorpies lê in hul individualiteit en ongekunsteldheid - plekkies soos Ruhpolding, Mittenwald, Oberammergau, Reit im Winkl, St Wolfgang - om maar enkeles langs ons roete te noem - het elkeen sy eie sjarme, ambience, karakter en unieke ligging, hoog teen ‘n berghang, diep onder in ‘n vallei, aan die oewer van ‘n meer, of in ‘n digte woud versteek. Sprokieland!




Algemene eienskappe is egter die besondere kunstige muurbeskildering (Luftmälerei), die alomteenwoordige Mei-pale met ‘n geskiedkundige tafereeltjie aangebring op elke dwarssport, houtgekerfde balkonne met bakke vol kleurvolle malvas, die tradisionele tragt kleredrag, cafe und konditorei. Houtsneewerk uit die kontrei, asook die heimat-handwerk was baie begeerlik , maar  loerkoop was vir ons genoeg.




Bier (Zum Wohl!), bretzel , ham in enige denkbare vorm, kartoffelpuffers, sauerkraut en soetgebak- koekerasies is die stapelvoedsel van Beiere. Die lieflike vet skape en koeie op die groen weivelde word seker net aangehou vir melk, kaas en wol, want ‘n lekker skaaptjoppie of stukkie steak was so skaars en onverkrygbaar soos die spreekwoordelike hoendertande! Dit was egter aspersie-tyd en geurige spargel-geregte word op enige denkbare manier voorberei - op brood, sop, in souttert, as garnering by hoender en ham, en dies meer. Van die onweerstaanbare soetgebak, soos erdbeertorte en apfelkuchen moes ons daagliks ook ons rantsoen kry!




Verder weswaarts is ons verby die mooi plattelandse meergebiede van die Tegern, Kochel en Walchen na Garmisch Partenkirchen. Hierdie ‘siamese’ tweelingdorpies lê genestel in die Loisach-vallei aan die voet van die hoogste berg  in die Duitse Alpe, die Zugspitze. 




In hierdie geweste het ons tuisgegaan by ‘n rustige,  piepklein dorpie, Farchant, waar ons vyfster-vakansiehuisie aan die rand van die dorpie geleë was. Ai, die lentevelde van Europa! Dit het my laat gryp na Annette Kast-Riedlinger se gediggie uit haar digbundel, Hautnah ist noch zu fern, wat ek kortliks en gedeeltelik aanhaal  in maklik-verstaanbare, eenvoudige Duits:




Blumen Pflücken




mit dir
möcht’ ich
Schlüsselblumen pflücken
und Veilchen
Kornblumen
und Klatschmohn
ja, und Vergissmeinnicht




Füssen, in die suidelike Beierse Alpe,  is die  beginpunt van die Romantische Strasse en  verleen toegang aan die ‘Koninklike driehoek’ van  Neuschwanstein, Hohenschwangau en Linderhof - unieke storieboek-paleise waar Ludwig II se weelderige uitspattigheid en onmiskenbare obsessie met Wagner en die Franse koningshuis van Louis XIV duidelik merkbaar is. Altstadt Füssen self spog met ‘n interessante vioolmuseum, barokkloosters,  abdye en ‘n gesellige winkel-wandellaan.




Gelukkig kon ons ‘n tydsame 5 Euro-perdekar naderwink vir die steil opdraandpad na die Marienbrücke oor die Pöllat-ravyn, die mooiste uitkykplek oor Neuschwanstein en Hohenschwangau, die twee hoogliggende ‘feëkastele’. By nadere ondersoek kon ons onsself net vergaap aan die weelde van die koepel-troonsaal, sangkamer met Wagner-atmosfeer, die kroonlugters van kristal en die allermooiste mosaïek-marmervloere. Hohenschwangau ondergaan tans restourasie en  is vir besoekers ontoeganklik.




Linderhof-paleis daarenteen, in dieselfde omgewing, maar diep in die woud versteek,  is miskien makliker toeganklik en rustiger. Buite bekoor die terrastuine, spuitfonteine en vywers en binne staan mens net verstom in die manjifieke Spieëlsaal en ander ryklik-versierde staatskamers.




Hoewel die impak van die oordaad in Ludwig II se vier  Beierse paleise oorweldigend is, kan ek my algemene indrukke daarvan in ‘n neutedop saamvat: vergulde ricoco en barok versierings en beelde, delikate Meissen en Sevres-porselein van onskatbare waarde, kunstige parquet-houtinlegvloere, enorme spieëls en skilderye, glinsterende kristal kroonlugters, handgeweefde Vlaamse muurbehangsels, en die alomteenwoordige swaan en pou embleme. Spuitfonteine en simmetrie van tuin-uitleg  herinner mens ook sterk aan die koninklike Europese paleise, Versailles en Schönbrunn. Beslis indrukwekkend, maar oorweldigend..




Iets waaroor ons steeds wonder, is hoe op dees aarde al die swaar marmerpilare, spieëls, kunswerke en skatte, asook ander geweldig baie boumateriaal, destyds sonder moderne tegnologie en masjinerie, die steil opdraandes berg-op vervoer kon gewees het.




‘Mal’ Koning Ludwig? Nooit as te nimmer nie! Hy het reggekry (teen ‘n ontsaglike prys natuurlik!) wat ons teenswoordige bouers  en slim argitekte seker nie in hul wildste drome sal aanpak of  sal kan namaak nie.




Vir  nog ‘n klein dosis kultuur het ons gaan inloer by die Wêrelderfenis Wieskirche wat eenkant afgesonderd op ‘n oop groen veld staan, asook Ettal se barokklooster,  waar ons beïndruk was met die tegniek van die skilderkuns aan die koepelplafonne, die fyn houtgekerfde altare en preekstoele, ‘n reeks magnifiek-vergulde orrelpype, skilderye en beelde van engele, madonnas , ander heiliges, en die intieme toegedrapeerde belydenis-hokkies. Daarbenewens kom mens sterk onder die indruk van die  aanvoelbare eerbied en piëteit; Protestant of te nie, jy voel die drang om ‘n kersie te koop en aan te steek vir iemand daar vér, iéwers.................. 




Naby Innsbruck, oorgrens in die Oostenrykse Tirool, lê die Swarovski-kristalaanleg Kristalwelten. Hier is ons verrassend verwelkom deur ‘n legendariese liggende Reus (eintlik ‘n kreatiewe mensgemaakte heuwel) uit wie se oop bek ‘n sterk bruisende waterval stroom. Saam met fonteine wat oorkruis spuit, vorm dit ‘n reeks pragtige reenboë. Twee glinsterende geel kristal-oë hipnotiseer jou – jy voel ‘n drang om nader te tree en ondersoek te gaan instel in sy donker grot-ingewande om te sien watter aanloklikhede hy vir jou verberg!




Binne-in betree jy ‘n reeks pikdonker kamers waar allerlei  uitgestalde kristalkunswerke verblindend skitter. Onder ‘n massiewe spieëlkoepel word elke beweging meer as ‘n duisend keer gereflekteer, glasgange word verhelder met kristalweerkaatsings,  teen die vloer en mure verskyn vloeiende ‘droomskrif’ en dansende fantasiefigure. Dit is ‘n kaleidoskoop van lig, klank en kleur wat jou sintuie tot die uiterste beproef. Jy staan suf en oorbluf , maar net voordat jy ‘n flikkerende migraine-aanval wil kry, word jy beloon met ontvlugting na die helder oop vertoonlokaal van Swarovski-kristal . Jy  waag dit weer om asem te haal! Willoos en weerloos maak jy jou beursie maar oop vir ‘n piepklein kristalletjie.Vir die mooiste kristal sal jy  egter die hoogste  prys moet betaal !




Wat die weer betref, het die hoop egter nie beskaam nie! Met die eerste verskyning van ‘n handvol sonstrale na dae lank se reënweer, het ons die helder dag spreekwoordelik  gegryp. Die sneeuwit reeks pieke het afgeëts gelê teen die vars blou lug. Letterlik en figuurlik gesproke sou die bestyging van die Zugspitze en Alpspitze gedurende hierdie laaste paar dae die hoogtepunt van ons Alpe-vakansie wees.




Per rattreintjie is ons vanaf Garmisch na die Eibsee, deur ‘n 4 km lang uitgeholde tonnel in die bergwand, toe laastens per kabelgondel bo-oor die hoogste boomtoppe en berg-voetslaanpaadjies (waar houtgekerfde diertjies as wegwysers aangebring is), die steilte uit tot by die Gipfel. ‘n Mens kan op ‘n helder dag ver oor die grense van vier lande kyk - Switzerland, Duitsland, Oostenryk en Italië. Ons het diep spore in die 15 cm dik sneeu getrap om foto’s bo van die kruin te kon neem. Warm sjokoladedrankies het die ysige koue van benede vriespunt gou uit ons lywe verdryf.




Toe op ‘n helder dag  moes ek ‘n variasie  op ‘n ou wysie neurie -“ ek groet vir laas my sneeuwit berge.....”  Die tyd het aangebreek om weer soos die swaels suidwaarts terug te keer na warmer tuistes.




No comments:

Post a Comment