‘n Ander soort Strand … in ‘n stad!
Strande binne-in stede? Onmoontlik! Ek het nuus vir julle – dis raar, maar waar!
Heelwat van die groot stede in Europa word oor die algemeen tydelik ekonomies aan bande gelê deur die uitwyking van inwoners en werkslui gedurende die drie somermaande vir vakansies na sonniger strandoorde, veral die Mediterreense kusgebiede.
Die netelige kwessie was “ Waarom?” Die maklike antwoord was “ Strande!” Die troefkaart was dus om aan inwoners al die nodige geriewe en fasiliteite in hul eie stad te verskaf! Terselfdertyd sal dit hopelik ook toeriste lok wat graag ook al die kulturele besienswaardighede van die stad as bonus wil ervaar.
‘n Hele aantal Europese stede stel deesdae in hul promosiebrosjures en op uithangborde die nuwe foefie, nl. ‘n Plage, oftewel stad-strand bekend. Die stadsvaders van Amsterdam, Brussels, Pary.s, Zurich, Hamburg, Moskou en Berlyn speel al lank reeds met die gedagte van stad-strande om inwoners tydens warm somers tuis te hou asook meer besoekers te trek.
Waaruit sou so’n aanloklike strandvakansie bestaan; watter pakket sou aangebied kon word? Vanselfsprekend sou dit die essensiële bestanddele van ‘n ou resep moes bevat: somerson, water-aktiwiteite, kroegies en eetplekke, speelplek en ‘n oppasdiens, allerlei kompetisies en vermaak. Atmosfeer sou geskep word deur ‘n spesiaal-beplande tema; Karibbies, Mediterreens, Grieks, Indonesies, of wat ook al. Elke jaar kan die tema mos aangepas word na gelang van die vorige jaar se sukses., al dan nie.
Duisende tonne seesand is reeds ingevoer vir hierdie kunsstrande aan die wal van ‘n meer, of die bog van ‘n rivier, bo-op ‘n hoë gebou se dak, of op ‘n yslike groot plein.
Lentetyd reeds word palmbome aangery, swembaddens opgerig, kroegies, sambrele en gemakstoele aangedra. Allerlei dag- en aandvermaak word verskaf, vertonings en kompetisies word aangebied , kinderoppassers hou die kleingoed besig terwyl ma en pa ‘n glasie klink en hul blinkgesmeerde lywe die heerlike son indrink – dit alles binne taxi-, bus of treinrit-afstand van jou eie gerieflike huis ( en/of werksplek!). Ma hou vakansie terwyl Pa werk, of andersom. Pa en Ma hou vakansie terwyl kinders skoolgaan!
So spog Parys in somermaande met die 2 km.-lange Paris-Plage aan die linkeroewer van die Seine. Naby Amsterdam-stasie stap jy weer net oor die pad en met ‘n hysbak op na ‘n dakstrand, of naby Schipol-lughawe word die Beatrixplein in ‘n japtrap knap en kunstig omskep in ’n kuns-strandoord. Vanjaar beoog die stadsvaders van Londen om ‘n strand aan te bring op ‘n ou busstaanplek wat in onbruik geraak het , geleë aan die suidelike oewer van die Teems.
Pas terug uit Europa sirkel die vliegtuig oor Valsbaai vir neerstryking op die aanloopbaan van Kaapstad-lughawe. Met nuwe waardering loer ons almal by die patryspoorte uit - pragtig kalm en koelgroen strek die suidelike see langs mooi wit stroke sand. Ai, ons besef nie altyd wat ons hier het nie en dit kos eers kennismaking met iets anders voordat jy begryp dat wát jy het, tog maar die beste is – dat ons strande die pot goud is aan die einde van die Kaapse reënboog.
Neurie maar gerus saam op ons ou bekende wysie…..
" O, bring my terug na ons ou Kaap,
daar waar ons mense woon;
daar onder by die robbe en ou ligtoorn,
daar waar ons mense woon!”
No comments:
Post a Comment