Thursday, 28 July 2011

Italie: Somer vir susters

Die laaste ding wat ons twee susters in Italië sou wou doen, is om in ‘n onbeholpe, onbelangstellende groep agter ‘n volstruisveer , sonneblom of pienk sambreeltjie aan te skuifel! Gewapen met ‘n vooraf-bestudeerde padkaart , ‘n vasgestelde plan vir verkenning, en genoeg tyd tot ons beskikking - ouderdom in ag genome -  sou ons dié mooi land in Mei op ons eie aandurf.

Die persoon wat Crocs uitgevind het, moet voowaar ‘n medalje kry. Daarsonder sou hierdie ou krok nie so maklik oor die ongelyke stapoppervlakke van die keisteen-en klipstrate van Italië oor die weg kon kom sonder om skeef te trap of te gly nie.  

Genoeg van die voete – meer oor  die roete! Dis die paadjies wat geloop is, wat tel.

In Florence moet ‘n besoeker liefs naby die Santa Maria Novella-stasie en busdepot tuisgaan indien jy op jou eie reis en op publieke vervoer aangewese is. Ons het vooraf al die besienswaardighede en roetes op ‘n stadskaart ingekleur: rooi vir vandag, groen vir môre, blou vir die volgende dag. Dit werk soos ‘n bom en skakel onnodige gedrentel en verdwaal uit!

Florence, stad van Renaissance kuns en kultuur, het soveel estetiese besienswaardighede waarvoor mens nie kilometers hoef tou te staan , of jou ore van jou kop af hoef te betaal nie.  Vanaf ons hotel kon ons wandel na die San Lorenzo-plein, met stalletjies vol syserpe, leerware, Florentina-papier en ander toeristesnuisterye. ‘n Varsprodukte-mark is ook sommer in die nabyheid opgespoor.

’n Paar strate verder kom jy af op die Duomo-katedraal, ( Santa Maria del Fiori)  met sy agthoekige-doopsaal en hoë  Giotto-kloktoring, die pronkstuk van Florence. Hierdie flambojante katedraal is gebou van polichromiese marmer  - wit, grys, pienk en groen . Die groen koepel se smal balkon van Brunelleschi-faam kan van binne af met 463 trappies bestyg word.  Sy klipgraf word ook aan besoekers uitgewys. Veral die kapél se bronsdeure deur Ghiberti (Gates of Paradise) met tonele uit die Ou Testament vang die oog. Die trompe d’oeil toringhorlosie loop van sononder agteruit ná ‘n klokkespel van die Ave Maria-aandlied! Vir die kunsskatte besoek ‘n mens die Museo dell’ Opera del Duomo , om  veral een van Michelangelo se Pietà’s  te sien.

In dieselfde omgewing lok winkelvensters met eksklusiewe ware van Gucci, Peruzzi, Armani.Terselfdertyd bie die straatsmouse en gelato-roomysplekke om jou guns; daarvoor kan mens mos maar swig!

‘n Entjie verder aan kom jy af op die Signoria-plein met replikas van die meester-beeldhouwerke, soos Dawid, Hercules, Neptunus  - die kameras klik en flits aaneen. Jy moet mooi kyk om ‘n mimiek-kunstenaar tussen die beelde te onderskei! Die Palazzo Vecchio (Stadsaal) en  Uffizi-galery  huisves van die wêreld se beste Renaissance-kunswerke. ‘n  Mens bejammer die toustaners wat reg rondom die plein staan en wag vir ‘n geleentheid om die ware Jakob van meesters soos  Michaelangelo, Da Vinci, Raphael en Botticelli in die Uffizi-galery vir ‘n paar sekondes te siene te kry.

By Mercato Nuovo moet jy net die snoet van Il Porcellino  (1612) vryf vir geluk, of ‘n muntstukkie op sy tong sit. As die water dit uitspoel, sal jy weer eendag terugkom Florence toe!

Die Firenze-polisie was baie sigbaar op hul wit perde. Straatslapers (seker onwettige immigrante) wat hulself ingerig het met rystoel, kartondose, kookgerei, komberse en al, is gou verwilder. Motors wat verkeerd geparkeer is, word sommer in ‘n japtrap weggesleep!

Dag 2 se verkenning was met busse 12 en 13 wat ‘n sirkelroete om die stad ry . Die bus volg dieselfde roete as die duur oopdekbus wat jou R450 uit die sak jaag. In die verbyry kan mens al die mooi ou geboue sien, dan vervoer die bussie jou verder oor die Arno-rivier na die Oltrarno wat meer boomryk is, met parke en villas van welgesteldes. Hier kan mens afklim by die Piazzale Michelangelo vir ‘n pragtige uitsig oor die stadsprofiel waarteen die Dumo dominant pryk, asook die Arno met sy menigte brûe. Op die plein staan ’n mooi replika van Dawid afgeëets teen die horison.

‘n Lieflike wandeling langs die groen oewer bring mens by die Boboli-tuine waar jy rustig kan verwyl tussen spuitfonteine en beelde. Medici-versamelings van onskatbare porselein kan in die Museo della Porcellana besigtig word. By die Palazzo Pitti wat uit die vyftiende eeu dateer, is daar vier groot museums ‘n kostuumgalery, en ryklik versierde staatskamers. Hiervoor moet  jy maar vooraf ‘n 8 Euro-kaartjie bespreek, want dit vereis tyd en aandag – dit hang ook af hoeveel kuns mens op ‘n dag kan hanteer of ‘verteer” sonder om suf te voel!

’n Kort entjie verder span die Ponte Vecchio-brug (1345) oor die Arno-rivier. Hierdie sg. ‘Goue Brug’ se naam verwys na die eksklusiewe juwelierswinkels. Gedurende die Renaissance-jare het die onwelriekende afval van slagters ‘n doring in die vlees van die verligte stadsvaders geword en die welgestelde Medici-familie het die goudsmede en diamanthandelaars ingeroep.

Die Santa Croce-plein is dié plek vir leerware – die mooiste , sagte leerbaadjies en handsakke na styl en keuse, handskoene, beursies. Jy kan toekyk hoe die leer-meesters werk. Die meeste ware is peperduur, maar kyk kos niks!

Terug oorkant die rivier, kan jy langs Via dei Neri wandel waar die wonderlike roomysplekke en koswinkels wag. By kos bedoel ek, klaar voorbereide disse wat jou mond laat water. Florentyne bring net hul opskepbakke en siedaar, ‘n koningsmaal van gebakte rooi of groen soetrissie met mozzarella-vulsel, risotto met uie, sampioene en courgettes, lekker bruingebakte aartappels, geroosterde bruschetta-broodjies  met olyfolie, ribolita-boontjiebredie, of geurige pastas na smaak! 

Op pad terug lei die pad ons na Via Albizi waar die groot STANDA-supermark sorg vir kruideniersaankope, soos salami, prosciutto, trosse tamatietjies, vrugte, kaas, wyn en broodjies. Vanaand hou ons piekniek  tuinterras  van die hotel terwyl die son nog halftien skyn!

Dit is die ambience van Florence, die argitektoniese, tydlose kuns-op-straat, die gezoem van die besoekers en vrymoedige smouse wat jou fassineer.

No comments:

Post a Comment