Thursday, 28 July 2011

Como

O Como mio!

‘n Besoek aan Como is ‘n ontrimpeling van jou siel.

Die Lombardiese meergebied van Noord-Italië sluit onder andere in: die Como (Lario)-meer, Maggiore en Garda. Teen die agtergrond van die sneeubedekte Alpe en Dolomiete wat die grense van Italië met Switserland en Oostenryk vorm, lê die mere soos stukkies saffier in ou  gletser-skeurvalleie.

Indien ‘n mens op trein– of busvervoer aangewese is, kan hierdie drie pragtige mere maklik vanaf Milaan bereik word. Meimaand is nog nie volwaardig toeristeseisoen nie; dit is rustig en lowergroen. Die Italianers het so ‘n mooi word vir hierdie lentegroen –primavera.

Como-meer, derde grootste van hierdie noordelike mere,  is ongeveer 30 km lank en tot 5 km wyd, ‘n lang smal meer wat by die been van die Lecco-meer aansluit. Hierdie oewerdorp het pragtige wandelpaaie, Lungo Lario Trento en Lungo Lario Trieste al langs die Giardini Publico tot by die Volta-tempel,  opgedra aan Alessandro Volta van  elektriese battery-faam. Verder langs hierdie promenade lê lieflike villas, soos Villa Saporetti , Villa Olmo en Villa Geno, lg. wat deesdae vir kuns-uitstallings aangewend word.

Como-dorp self is maklik per bus of te voet verkenbaar. Enkele hoogtepunte wat by ‘n week-lange besoek ingesluit behoort te word, is die Santa Maria Maggiore 14de-eeuse Duomo wat saans met sononder  die eenvoudige Ave Maria-aandlied uitbeier langs die Broletto (eertydse stadshuis) en kloktoring. Aan hierdie kerk is ‘n paar eeue lank gebou en daarom is die boustyl ‘n mengsel van Goties, Barok en Renaissance. In die gewyde stilte steek ek gou ‘n kersie op vir geliefdes tuis. Ook baie interessant is die Museo Didattico della Seta, oftewel sy-tekstielfabriek, verskeie chocolatrie’s  en  die kaashuis Casa de Parmegiano , ‘n weeklikse opelug-mark by Piazza Vittoria (met roosterhoenders op die spit, tuisgemaakte pesto en ander ingelegde snoeperye!). Porta Torre was die poort  deur die antieke ou stadsmuur. Vir ‘n “bird’s eye view” kan mens bo van Brunate  op die heuwel afkyk op ou en nuwe Como.

Vanaf die Como-kaai  regoor Piazza-Cavour vertrek bote na ‘n groot verskeidenheid oewerdorpies wat die een mooier is as die ander.Busse  karwei pendelaars ook langs die oewers op en af  sover as wat jy wil reis. In die smal klipstraatjies skuur busse sentimeters by mekaar verby Bestuurders slaan soms selfs ‘n truspieëltjie op om dit te vergemaklik  en vleg behendig deur tonnels. So ’n rit bied ‘n intiemer kykie op die asemrowende  villas en welige plantegroei. Wisterias, en ander blomrankers kruip op teen klipmuurtjies ;camellias en rhododendrons staan uitgedos om elke hoek!

Deur die gegote ystertralies sien mens momenteel die terrastuine met spuitfonteine wat ‘n varsheid verleen aan die amper sub-tropiese omgewing. Pragtige wit tuinbeelde kyk uit oor die meer-panorama. Jou kamera werk oortyd soos wat jy hierdie mooi visuele herinneringe wil vaslê om tuis later weer daaraan te herkou.

‘n Driehoek veerbootroete verbind pragtige oewerdorpies met welluidende name Argegno, Lenno, Ossucio, Menaggio, Varenna en Bellagio, wat terselfdertyd uitkruip teen die skuins helling en toon in die water staan. Wye waterkant-promenades lei om die dorpies en jou keuse van bootvervoer lê voor jou!

Vanaf salm- of okerkleurige rykmanswonings lei  trappies af tot in die water waar hul bootjies vasgemeer lê. Vir my is die heel mooiste plekkie tydens my onlangse Mei-besoek die Villa Charlotte met 150 spesies azaleas in volle blom! Ons ry onder andere ook verby Villa d’ Este met sy malse tuine en swembad uitgebou in die meer,wat bekend geword het met verfilmimg van sekere sepies.

By ‘n opelug-eetplekkie in Varenna eet ons gebakte Crèpe asparagus e formaggio onder ‘n kaaskombersie. Hier word dik warm sjokolade met ‘n teelepel geëet. Te heerlik  dekadent vir 8 Euro! Dan durf jy die steil trappies bo na die hoogliggende kloostertuin van Villa Monastero aan vir ‘n asemrowende uitsig oor die spieëlgladde meeroppervlak wat af en toe geluidloos deur ‘n verbyvarende boot geklief word. Voëltjies kwetter in die plataan-lanings en dit aksentueer die stilte wat jou omring.

Bellagio , allerweë beskou as die pêrel van Como weens sy unieke ligging, lê op die punt waar die twee bene van die Lecco- en Lariomere  van mekaar skei. ’n Breë kliptrap lei na die mooiste , duurste winkels wat ‘n verskeidenheid Italiaanse spogkuns verkoop –glas, leer, porselein  en antieke keramiek. Jy kyk jou versadig en knip maar weer jou beursie radeloos toe! ‘n Meer bekostigbare tydverdryf is die besoek aan Villa Meizi se pragtige waterkanttuine en dié van Villa Serbeloni wat tans die hoofkwartier van die Rockefeller Stigting is.Punta Spartivento  is die uitkykplek waar die Como-meer se drie ‘bene’,  in ‘n omgekeerde Y-vorm bymekaarkom.

So ‘n sirkelroete gee jou weer die geleentheid om met die anderkantste ower langs terug te ry. ‘n Rattreintjie vervoer jou berg-op na Brunate vir ‘n lieflike panorama oor die meer met bote en aqua-vaartuie, asook die ou en nuwe Como. Vir die energiekes wat meer  aktief wil wees, is daar en maklike staproetes  van een berg-gehuggie na ‘n ander.

Pryse kan interessantheidshalwe genoem word in Euro (Euro 1 = R10), ‘n Mens betaal .50  Euro vir toiletgeriewe, 1 Euro busgeld in die dorp vir 60 min., 3 Euro na  meerdorpe verder weg en 6 Euro per veerboot eenrigting na genoemde dorpies. Koffie sal jou 2,5 Euro uit die sak jaag en ‘n pasta van jou keuse , ongeveer 8 Euro.

Oor Como Mio kry ek hoendervleis ; ek sal ‘n maand lank daar kan verdwyn, elke dag se voorraad by ‘n klein mercato gaan uitsoek: ‘n tros van vyf vars rooi tamaties, skyfies salami, prosciutto en ‘n verskeidenheid stukkie kaas. Appelkose lê ‘n hele hand vol! By die gelateria sal ek my elke dag aan ‘n ander geur roomys verlustig! Como in  sonskyn, reën, of deinserigheid – die weer is bysaak – elke weersomstandigheid   verleen ‘n  ander perspektief of sjarme aan die meer.

Stresa aan die Maggiore-meer, het ‘n sagter Alpe-silhoeët Voorheen was dit die speelplek van welgesteldes, maar deesdae heelwat meer besadig en bekostigbaar. Die groot aantrekkingskrag van hierdie meer is die drie Borromese eilandjies, Isola Bella, Isola dei Pescatori en Isola Madre, elkeen met sy eie bekoring van “hangende” terrastuine, spog-villas , kunshandwerkstalletjies en buitelugkafeetjies aan die waterkant wat ‘n dagbesoek die moeite werd maak. Elke smal gangetjie lei na ‘n ander interessante eetplekkie of uitsighoekie. Die skoonheid in eenvoud is vir ons opvallend – ‘n swaar-dragtige lukwartboom, ‘n pot ligpienk azalea in volle blom, die mooiste malvas denkbaar op ‘n vensterbank met groen luike wat gul oopstaan. Niemand is haastig of ongeduldig nie, niemand roep of praat hard nie.

Ver agter lê die Alpe in skakerings van blou , met die heel agterstes in ‘n sneeukappie gehul. Mens praat nie veel nie , jy absorbeer die aromas en ambience soos ‘n spons en tel net al jou seëninge!

Heelwat verder ooswaarts lê Garda-meer, die grootste van die Lombardiese mere. Met die dorpie Desenzano (wat op die hoofspoorlyn Venesië toe lê) as toegangspunt, kan jy hierdie meer jou nesskopplek maak vir ‘n week lank sonder om verveeld te raak of versadig te voel van visuele genot! Hotel Primavera is goed geleë tussen stasie, bushalte en meer.

Sirmione op die punt van ‘n skiereiland-tepeltjie, Limone ver noordwaarts langs die oewer, is welluidende name van besoekpunte. Besienswaardighede langs hierdie Gardone Riviera  wissel van ou fortkastele, soos die Rocca Scaligera en die Catullo-grotte (‘n ou Romeinse spa en argeologiese museum). ‘n Klein treintjie, Il Trenin, vervoer mens na en van die ruïnes.In die skadus van groot plataanbome waarin wildekanaries hulself tuismaak, kan jy jou cappuccino sit en drink en verbygangers bekyk. Na die sentrale plein word sommer as centro storico verwys.

‘n Veerbootkaartjie van Navigazione Lago di Garda vir ‘n dag lank (Euro 25), behoort jou by ‘n hele paar van die afstapplekkies te bring waar jy langs die lungolango meerpromenades die belle viste (uitkykplekke), water-aktiwiteite , mooi tuine en villas kan besigtig. Drie kilometer buite Riva del Garda kan die Cascata Verona-waterval , wat die 110 meter-diep ravyn oor derduisende jare uitgekalwe het, besoek word vir natuurwandelings.

Twee of selfs drie weke kan maklik opsygesit word vir ‘n besoek aan die Lombardiese mere sonder om ooit een dag verveeld te voel; Milaan, Venesië en Verona is binne bereik op die treinroetes,  as jy sou wou wegbreek vir meer kulturele besigtiging. Op pad terug lughawe toe, maak ek en my sus gou ‘n lysie van ons nuwe Italiaanse woordeskat.  Binne ‘n kort tyd leer ons maklik 200 woorde lees en praat en ons kan dit selfs reg uitspreek!                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                 

 As mens gelukkig is, beland jy dalk op die splinternuwe blou en wit Vivalto-dubbeldekker-trein na en van Venesië.(Vir Eurailpashouers sal ‘n bybetaling vereis word.)

Op pad terug Kaap toe sien ek ‘n SAL slagspreuk op die koffiebekertjie: U Kuhamba, Kukubona – overgesetzynde: reis maak jou oë oop.




No comments:

Post a Comment