Thursday, 28 July 2011

Switzerland


“Hansie slim, berg wil klim saam met Maggie die wye wêreld in, stok en hoed pas hul goed, hul is vol van moed…” (ouderdom te spyt!)

Ons is terug uit die beskawing, soos die bybelse sprinkane wat hul moeë lywe moet voortsleep. Hans meen egter “speak for yourself” want hy’s mos fiks. In ieder geval, hier’s my Holadrio uit Heidiland. Dis nie ‘n ek-was-hier-of-ek-het-dit-gedoen-storie nie – eerder net blywende indrukke. Pluk maar vir jouself die ryp korrels uit die druiwetros.

Miskien moet ek by die wonder van Switzerse groen begin – ek tel maklik 10 skakerings: sodagroen, woudgroen, mosgroen, luserngroen, turkooisgroen, wingerdgroen, golfbaangroen, pepermentgroen, khakigroen, lemmetjiegroen, algegroen!

Dan die watervalle wat so uitbundig uit die berghange tuimel om jubelend-bruisende riviertjies te vorm. Ons verwonder ons aan die Föhnwind oor die berge wat so skielik miswolke, reën en sneeu kan bring. Oral langs die pragtige skoon mere merk jy karavaanparke, stappers met hul wandelstokke, mammas met stootkarretjies – hierdie mense kan nog onbekommerd buite leef.

Heidiland se mooi houthuise en blombakke vol van die mooiste malvas en ander gemengde kleure blomme, soos blou lobelias, wit daisies, geel gousblomme, bly steeds maar betowerend . Hier teen September begin die herfsblare hier en daar al kop-uitsteek.

Op die weilande lê die vet beeste ‘langs groen weivelde en waters waar rus is’ en herkou. O, om ‘n koei te wees in die Suisse moet salig wees! Hul kampe word net met linte afgesper langs die treinspore. Ons het so aan Thinus gedink wat so ‘n plasie sal begeer. Vir sus Elsa en Rolien het ons diekeer baie gemis , maar het daagliks met hulle op ons skouers gesels as ons iets moois beleef.

Tog sien ons feitlik geen diere behalwe skape, beeste,bokke en perde nie - hoe snaaks sal dit nie wees om 'n olifant of renoster hier los te laat nie! G'n wonder dat die buitelamders altyd eerste wildtuin toe wil gaan nie. Selfs voëls en insekte kan jy op jou een hand se vingers tel. Stappers met  groot St Bernard-honde val ons op; party ry selfs op die treine en busse saam!

Ons merk al die plaasgereedskap wat regstaan, bale voer is gerol en netjies verpak, houtstapels in patrone gerangskik gereed vir die winter, maar nêrens sien ons arbeiders nie.  Landerye staan vol gewasse wat vir ons lyk soos suikermielies vir voer, so dig teenmekaar soos hare op ‘n hond se rug! Kenmerkend is ook die klein kommune-groentetuintjies met tuingereedskaphuisies, vir die woonstelbewoners wat nog in die grond wil vroetel oor naweke. Hier rank boontjies en pampoen sommer so tussen sonneblom en rose! Trotse , patriotiese Switzers het iewers om die huis 'n wapperende rooi en wit vlaggie.

Ons was veral beïndruk met die absolute sindelikheid van die omgewing, hetsy stasies, parke, toilette, ens. Die Switzerse presisie van taak en tyd, is veral ook duidelik wanneer dit by die gesinkroniseerde plaaslike vervoer kom. Ai, as ons darem sulke treine, busdienste en bote hier in ons land kon gehad het!

Ons kon elke dag gratis streekskoerantjies lees in Duits of Frans en kon darem uitmaak van die bankkrisis , die Paralimpiese Spele, die Cern-eksperiment naby Geneve en die eerste moltrein van Switzerland in Lausanne. Groter koerante kos omtrent R25+.

Mensekyk bly maar interessant, veral as jy jou in die vreemde bevind Ons merk veral baie Indiërs in Interlaken – seker goedkoop arbeid. Verder moet jy jou oor mooi instel om al die verskillende Duitse dialekte te probeer verstaan, soos die snaakse Schweizerdeutsch.

Maar hoe ontspanne en gerus voel mens darem nie in Switzerland nie! Jy kyk nie agterdogtig oor jou skouer nie, kindertjies hardloop en speel onbekommerd buite of ry op scooters, reis selfs alleen en selfstandig op busse en treine. Fietse staan by stasies of winkels geparkeer totdat die eienaars dit weer kom haal.

Vriendinne vra my dikwels of dit veilig is om vrou-alleen in Europa rond te ry met publieke vervoer. Vir hulle wil ek sê: trek uit julle borstrokke, maak julle hare los, laat julle grimering en 'bling' by die huis, vat ‘n klein sleeptassie, jou tandeborsel en kredietkaart en gaan “explore” met Crocs terwyl jou rug en voete nog kan! Europese vroue is heeltemal geëmansipeer en is beslis nie meer die swakker geslag nie.Almal is doelgerig en selfversekerd in hul dagtaak en roetine.Suster, jy’s veilig daar!

Miskien is ons hier in SA te krities oor mekaar se voorkoms. Dit was vir my opmerklik dat niemand hulle verkyk aan die verskille van ander nie – nie haarstyle, skoene, klere of eienaardighede nie. Niemand kyk vir iemand nie! Almal daar is aan alles gewoond en daar is ‘n groot mate van toleransie van kulture in die kosmopolitiese Europa.

Dra gerus maar swart, bruin, grys of wit om saam te smelt met die omgewing. My ou blou baadjie het uitgestaan soos ‘n afgeleefde flou vlaggie. Ons het goed gebruik gemaak van kruidenierswinkels soos Coop, Migros en Manor wat ons aankope van kaas, salami, ham, jogurt, druiwe en brood betref.

Om te gaan sit en eet was nie vir ons beskore nie – dan betaal jy maklik so R200 vir ‘n bord kos. Twee koffies  alleen kos dan R60! Groentemarkies bly altyd interessant – stapels verskillende soorte sampioene, watertand-tuisgebak, worse, salami’s en kase. Een vy kos bv. R9 en een tamatie R5!’n Gaar brathendl-hoender kos sowat R100.  

Hier het ons gesien hoe gras na sjokolade en kaas verwerk word - met behulp van die 'heilige' koeie natuurlik! Switzerland se sjokolade is onweerstaanbaar en daar is soveel soorte – Caillier, Lindt, Sprungli, Nestle - te veel ander om te onthou. Dit maak altyd ‘n lekker geskenk vir iemand tuis. Ons het ook ‘n draai gaan maak by Nestle se hoofkwartier in Vevey en by Bulle waar ook fabrieke is. Daar is self ‘n Chocolate-trein uitstappie!

Een van die interessantste uitstappies was na die karaktervolle ou dorpie Gruyere waar die bekende kaas gemaak word – daar kan mens die hele proses volg met jou vyf sintuie.

Dit was vir my opmerklik hoe min toeristewinkeltjies daar deesdae oor is.Crocs is egter orals te sien, indien julle wonder! Dis egter die goedkoper Indiese of Chinese soort.

Ons keuse om by backpackers tuis te gaan was ‘n goeie idee - gemeenskaplike kombuis en badkamers is geen probleem nie, dis gewoonlik gerieflik geleë en silwerskoon. Jy ontmoet ook interessante mense wat nes jy sakpas reis! Moet dus nie skroom om so iets te oorweeg as julle wil gaan reis nie; dis ook baie meer bekostigbaar want jy betaal nie vir diens nie.

Ons Switzerse treinpas was die beste waarde wat geld kan bied. Daarmee kon ons na hartelus en onbeperk per trein, boot, busse en trems ry .Ons het elke druppel uit die 15-dag pas gepers, soos uit ‘n suurlemoen, en sy waarde ver oorskry. Daar was selfs afslag vir een nag se verblyf by die backpackers.

So was ons met stoombote oor ses verskillende mere, ook met die Vier Passe-bus, die Wingerd-,  Pleiades Sterre-bergtrein en Gruyere-trein, sverskeie tadstrems, kabelkarre, sweefspore, teleferique en funiculars. Al wat mens moet besef, is dat alles goeie beplanning kos. Orals is die tydtafels van vertrek en aankoms aangebring en ‘n ou moet net reg lees om jou kom en gaan te sinkroniseer. Mense wat op hierdie manier wil reis, moet nooit haastig of ongeduldig word nie en vir alles 'n plan B he,want een of ander tyd sal  die onvoorspelde X-faktor sekerlik ook iewers opduik!

Op sonskyndae was ons hoog op in die berge en op bewolkte of reenerige dae het ons trein -of busgery om die omgewing te verken. Die gemiddelde temperatuur bedags was heelwat laer as wat ons gehoop het , so ongeveer 16C; elke dag moes ek maar dieselfde baadjie dra! Blykbaar het die hele Europa vanjaar 'n 'koel'-en -nat' somer beleef..

Spesiale uitstappie wat mens kan aanbeveel in die Interlaken-omgewing is die Vierpasse-roete (Grimsel/ Nufenen/ Susten/Gotthard), die mere Brienz en Thun, die bergbesoeke by Grindelwald, Mannlichen en Wengen, Gruyere, Montreaux se Chateaux Chillon, Fribourg. Ronddwaal in groot stede soos Geneve, Zürich en Lausanne is net vermoeiend en tydrowend. Dis nie waaroor mens Switzerland besoek nie!

Laastens dan ons keuse van plekke waar ons ‘n week by elk deurgebring het, was Interlaken en Vevey (uitgespreekWi-we).Eersgenoemde is beslis die allermooiste deel van Heidiland en meer kan mens eintlik nie vra nie – 10 uit 10! Dis by die berge (Eiger/Monch/Jungfrau) met die groot verskeidenheid bergritte, wandelpaaie, dit is by die twee mooiste turkooismere, dis hanteerbaar kompak en afstande is klein, ‘n goeie afspringplek vir trein, boot, en buskonneksies. Die Brünigpas en dorpies Lungern en Giswil, tussen Interlaken en Luzern is die mooiste wat ons teëgekom het.

Vevey is goedgeleë naby Montreaux aan die Geneve-meer, of soos die Franse dit noem , Lac Leman; ons woonplek was 100m van die meer af en 500m van die stasie. Daarvandaan kan mens Lausanne, Geneve, Neuchatel, Bern besoek, na die middeleeuse Murten toe gaan, of meer binne(platte)land toe na Gruyere en Emmenthal.

Ons was verbaas om die mooi wingerde teen die heuwels en hellings te sien – alles word in Oktober met handearbeid geoes. Dit wil gedoen wees! Die Riviera en Côte is baie welvarend en as jy so meer langs ry, sien jy net die pragtigste kastele en chateaux met boothuise en al!

Slotgedagte: In die ou appelboom (wat mens by elke ‘respekvolle’ huis in Switzerland sal teëkom) .sien ek myself: ten spyte van die ou skewe stam wil hy nog steeds mooi rooi appeltjies dra………….

Dus – my holadrio  vir Heidiland…………… ‘ek groet vir laas my sneeuwit pieke’!

No comments:

Post a Comment