Thursday, 28 July 2011

Vancouver, waterkantstad

Dit was tyd om te gaan kyk hoe leef ons uitgeweke kinders in Vancouver. Nadat  hulle ons op die lughawe opgepik het, is ons onverwyld aan Vancouver-in-‘n-neutedop voortgestel deur ‘n besigtigingstoer per motor, sodat ons onsself kon oriënteer vir ons eie verkenning later.


Ons eerste indrukke van die idilliese Wes-Kanadese hawestad, Vancouver met sy milde weskus-klimaat, is steeds blywend  -  ‘n pragtige groen stad , omring met creeks, eilandjies en die groen bergkus van Brits-Columbia. Downtown is die wolkekrabber sakekern, feitlik fisies afgesonder van die res van die residensiële Vancouver en sy parke. Hier in Downtown vind mens dan Canada Place , die historiese ou Gastown en Chinatown, Harbour Centre (grootste hawe in Noord-Amerika!), banke en besighede.  Verskeie brûe verbind Downtown met woongebiede, nl. die Granville, Burrard en Pacific, vir maklike verkeersvloei.Drie Skytrain-roetes is ook aangbering voor die Winter Olimpiese Spele, twee jaar gelede. 'n Motor is amper nie hier nodig wanneer jy vakansie kom hou nie.


Vir die inwoners en toeriste verloop die gesinkroniseerde pendelvervoer per bus, skytrain en veerbootjies seepglad. Pakkies buskaartjies kom jou handig te pas en ‘n kaartjie se bruikbaarheid duur 90 minute. Ons is gou daaraan bekendgestel en tougewys gemaak waár om wát te doen en te koop ,  of hóe jy moet maak om waar ook al uit te kom!


Pacific Drive na die punt van hierdie stadseiland  bring jou by die boomryke Stanley Park, Vancouver se gewilde ‘groen long’ met sy Seawall-promenade, strande, sg. Digterstuin en Totempale van die  etniese stamme First Nations (eertydse ‘Rooihuide’, soos óns hulle nog onthou!) - met diere-embleme soos die walvis, arend, vis, beer wat lank gelede opgerig is ter erkenning van die geskiedenis, eienskappe en suksesse van Indiaanse stamhoofde.  Hier in Stanley Park neem die mense van Vancouver hul kans waar  vir ‘n verskeidenheid buitelug-bedrywighede - rolskaats, stap, kayak-vaarte, draf en fietsry.
  
By die Vancouver Aquarium het ons veral die spierwit Beluga-walvisse baie uniek en amusant gevind. Verder is daar ook anacondas, kwalle, dolfyne, haaie en allerlei vis in groot habitat-akwaria te besigtig.'n Pragtige groep totempale is ook hiernaby te besigtig.
  
Tussen die residensiële Vancouver waar die kinders woonagtig was, kry jy False Creek waaroor  jy per aqua-bus heen en weer kan ry vanaf die Granville-eiland met sy groot varsprodukte-mark  en kunswerkswinkels onderdak.


Vanaf Horseshoe Bay  of Londsdale Quay kan nabygeleë eilande per British  Columbia -veerbote bereik word. Cypress Mountain  se sky-ride besorg jou bo vir ski of bergstap is  maar net ‘n klipgooi ver en bo van die naaste berghang met uitsigpunte en ski-bane, het jy ‘n fantastiese uitsig oor die omvattende Vancouver-stadsopset en omgewing. Die  Lynn Canyon en Capilano-hangbrûe en forelplase is heerlike daguitstappies,  om maar ‘n paar interessanthede op te noem.


Grouse Mountain aan Vancouver se vasteland-gedeelte, kan per bus en kabelspoor bereik word. Ons was gelukkig om nog baie sneeu te kon sien. So tussen die bome in die sneeu staan reuse houtbeelde van boswerkers - te mooi! Van bo-af het jy ‘n asemrowende uitsig oor die Vancouver-panorama. Daar is ook ‘n rehabilitasiesentrum vir die hans-grootmaak van bruinbeer-welpies en ‘n interessante videovertoning .


Terwyl  ons kinders gewerk het, sou ons twee self maklik regkom met ons deeglike daaglikse verkennings:Ons het gou uitgevind Chapters is die boekwinkels, Starbucks is die koffiekroeë, Safeway die kruideniersplekke (waar jy lekker maple-stroop en salmprodukte na hartelus kan koop) en Granville-eiland is dié plek vir varsprodukte, ‘n verskeidenheid etniese eetplekke, waar jy kan  kuier, geniet en gesels!


Oak Ridge Mall, Park Royal en Metrotown is massiewe winkelkomplekse waar mens ‘n hele dag kan deurbring met winkelkyk, mense dophou en eet. Die Canadian Superstore is weer soos ons groot Hipermark. In North Vancouver het ‘n hele paar duisend Suid- Afrikaners hul al tuisgemaak en daar is selfs ‘n kerkgemeentetjie en ‘n winkel met Suid-Afrikaanse delicatessen, soos Marmite, biltong, mieliemeel en Mrs Ball’s, ens.


Verstommend, nè,  dat mens wyn kan maak van ‘n pakkie bestanddele! Ons  het bitter min motorhawens met brandstof opgemerk en drankwinkels was ook so skaars soos hoendertande!. Indiese, Chinese, Japannese, Taiwannese, Vietnamese,  Russiese, Lebanese en Europese eetplekkies is egter soos sosaties ingeryg langs winkelstrate. Sushi, tempura, chow mein, of teriyaki, pizza, pasta of paella, die keuse is joune!
  
Macmillan Space Centre of die  kan vrye uurtjies vul deur een van die miljarde sterre na jouself te vernoem teen ‘n 50 KD-fooi, of  ‘n kalligrafiese ligboodskap die ruimte in te stuur vir die wis en onwis! In die moderne Science World kan  groot en klein deelneem aan fassinerende hands-on  eksperimente.
  
Met die eerste oogopslag merk jy dat die inwonertal van Vancouver kosmopolities van aard is. ‘n Beduidende persentasie van die bevolking is Oosterlinge en die Indiaanse gene is ook tussen-in goed herkenbaar. Daar is ‘n aanvoelbare toleransie tussen hierdie kulture en ons het werklik min uiting aan emosie gesien terwyl ons daar was. Winkels, klein of groot, met hul verskeidenheid ware, getuig ook duidelik van die invloed van die Chinese en Indiane. Orals  loop mens promosies en uitstallings  raak van die groot verskeidenheid etniese kuns - beelhouwerk, weefwerk, skilderwerk, ens.
  
Die residensiële gebied waar ons tuisgegaan het naby die groot Vancouver-hospitaal en British Columbia-universiteit (met sy besondere Museum van Antropologie, was heerlik stil en boomryk met die pragtigste pienk kersiebloeisels , dogwoods met hul spierwit oop blomme, en tuine vol tulpe!


Al die huise is van hout  in min of meer dieselfde koloniale styl , elk met kelder, grondvlak , boonste verdieping , trap en voorstoep, en ‘n agterste tuin-dek na die beperkte agterplaas. Ons kinders se eerste huis was heel gepas genaamd Redbricks, gebou in die tipies-Engelse styl met siersteen-fassade aan die buitekant en binne alles van hout. Die gebruik is hier ook soos in Europa, dat mens jou skoene en baadjies by die voordeur uittrek en nie die huis met stof of modder besoedel nie. Onthou, huishulpe soos ons dit ken, is hier ‘n luukse!
  
Orals is daar groen wandelparke of groter uitgelegde parktuine, soos Queen Elizabeth Park,  die Van Dusen-tuin, ens. waar mens kan gaan stap. Die Sun Yat Sen klassieke Chinese Tuin is uitgelê in die Ming-dinasie styl. Lentetyd in Vancouver is ideale stapweer. Dan sien en waardeer jy die kleurvolle rhododendrons, affodille, tulpe, en blomstruike. Veral Sondae word benut vir hierdie buiteluggenot.


Vancouver Sun en vele TV-kanale het ons goed op hoogte gehou met die plaaslike en Kanadese nuus. Ons was absoluut gefassineer deur die vinnige vaardigheid van yshokkie en kon net nie genoeg daarvan kry nie! Kort voor lank was ons ook geesdriftige Canucks-ondersteuners.


Interessante, billike uitstappies is oral geadverteer.Ons twee het so ’n paar aangedurf per bus, veerboot en lugtrein: na Victoria op Vancouver-eiland, na Salt Spring Island vir ‘n langnaweek, na Bowen-eiland om vir ‘n Suid-Afrikaanse vriendin te gaan kuier,  en dan heelwat verder weg  per trein na White Rock, Deep Cove, ens.
  
Die pragtige ou koloniale-styl stad, Victoria op Vancouver-eiland, is die hoofstad van Brits-Columbia. Akkommodasie in die luukse Fairmont Empress Hotel is tydens ons kuier teen so ‘n spesiale aanbod aangebied dat ons dit net nie kon verontagsaam nie. Vanaf Tsawassen is ons vir ‘n langnaweek per veerboot na Schwartz Bay en verder per bus na Victoria .


 Hier kon ons binne loopafstand van die hotel wat teenaan die kaai geleë is, gaan kyk na Bastion Square, Crystal Palace (tropiese eko-bewaringstuin), Miniature Town (historiese Kanadese uitbeeldings en pophuise), die Royal Art Gallery, ens. en in China Town móes ons net lekker chow mein gaan eet.
  
Die meeste winkels is weerskante van ‘n pragtige en gesellige voetganger-wandelstraat. Kersversiering-winkels is hier heeljaar gewild en jy kan maar net na jou asem snak!


Victoria se grootste aantrekkingskrag is egter die beroemde Butchart-tuin wat eers ‘n ou kwarrie was en deur die inisiatief van ‘n merkwaardige vrou omskep is in een van die wêreld se mooiste eksotiese tuine. Elke seisoen verander ywerige spanne tuiniers die skouspelagtige kleure en uitleg van tuinbeddings vol struike en blomme. Dit neem maklik drie uur lank om al die pragtige paadjies te bewandel en dan nog moet  mens erken dat jy nog steeds meer sou wou inneem van die kleureprag. Eintlik ontbreek paslike woorde om hierdie manjifieke  paradystuin te beskryf.
  
Salt Spring Island is een van  ‘n reeks eilandjies tussen Vancouver en Vancouver Island. So het ons per spierwit veerboot verby pragtige eilandjies, Pende, Galliani en Mayne gevaar voordat ons by Ganges, hoofdorpie van Salt Spring arriveer het. Hier het ons by Hinds Hill B & B met sy mak llamas oorgebly . Die gastehuise doen altyd groot moeite met die voorbereiding van ‘n  vullende ontbyt, soos vet pannekoeke gevul met spek, aspersies en hollandaise sous! 


Die dorpie is bekend vir sy naweek-kunsmark waar allerlei pragtige handwerk a la-Kanadese styl verkwansel word. Daar is ook heelwat groot kunsgalerye en  interessante kunsroetes waarlangs mens op die klein kuns-werkwinkeltjies afkom, en waar jy kan piekniek hou, fietsry, wandel, visvang, en dies meer - ‘n regte naweek-wegbreekplek.
  
Ons het darem meer sneeu gesien gedurende ons langnaweek in Whistler, die ski-mekka van Brits-Columbia. Ons het in  Mountainside Lodge met ‘n uitsig oor die ski-lifts en sneeubedekte berge gebly en kon lekker rondloop tussen al die skiërs, vakansiegangers, winkeltjies en eetplekkies. Dit was ysig koud, maar vir ‘n verandering was die sneeu en koue heerlik! Ons ervaar dit mos nie aldag nie. Lekker warm sop en brood is orals aangebied ; almal kuier dan lekker gesellig saam in ‘n klein kroegkafeetjie met sy “log fire”.
  
Wat ‘n stad! Wat ‘n paar wonderlike weke!




Wenk:
1.'n Kanadese visum word benodig,
asook 'n VSA-visum indien        jou aansluitingsvlug oor Amerikaanse lugruim is.
2.  Bootvaarte na Alaska moontlik vanaf Vancouver-hawe. 

No comments:

Post a Comment