Voetslaan in Florence en Venesië
Die laaste ding wat ons twee susters in Italië sou wou doen, is om in ‘n onbeholpe, onbelangstellende groep agter ‘n volstruisveer , sonneblom of pienk sambreeltjie aan te skuifel! Gewapen met ‘n vooraf-bestudeerde padkaart , ‘n vasgestelde plan vir verkenning, en genoeg tyd tot ons beskikking - ouderdom in ag genome - sou ons dié mooi land in Mei op ons eie aandurf.
Die persoon wat Crocs uitgevind het, moet voowaar ‘n medalje kry. Daarsonder sou hierdie ou krok nie so maklik oor die ongelyke stapoppervlakke van die keisteen-en klipstrate van Italië oor die weg kon kom sonder om skeef te trap of te gly nie. Ek het my Crocs onlangs agttien dae lank in Italië met waagmoed en trots gedra, met of sonder kouse! Hierdie gemakskoene is nog net in apteke daar beskikbaar en ek moet sê, lelik of te not, hulle het wel die aandag getrek.
Genoeg van die voete – meer oor die roete! Dis die paadjies wat geloop is, wat tel.
In Florence moet ‘n besoeker liefs naby die Santa Maria Novella-stasie en busdepot tuisgaan indien jy op jou eie reis en op publieke vervoer aangewese is. Ons het vooraf al die besienswaardighede en roetes op ‘n stadskaart ingekleur: rooi vir vandag, groen vir môre, blou vir die volgende dag. Dit werk soos ‘n bom en skakel onnodige gedrentel en verdwaal uit!
Florence, stad van Renaissance kuns en kultuur, het soveel estetiese besienswaardighede waarvoor mens nie kilometers hoef tou te staan , of jou ore van jou kop af hoef te betaal nie. Vanaf ons hotel kon ons wandel na die San Lorenzo-plein, met stalletjies vol syserpe, leerware, Florentina-papier en ander toeristesnuisterye. ‘n Varsprodukte-mark is ook sommer in die nabyheid opgespoor.
’n Paar strate verder kom jy af op die Duomo-katedraal, ( Santa Maria del Fiori) met sy agthoekige-doopsaal en hoë Giotto-kloktoring, die pronkstuk van Florence. Hierdie flambojante katedraal is gebou van polichromiese marmer - wit, grys, pienk en groen . Die groen koepel se smal balkon van Brunelleschi-faam kan van binne af met 463 trappies bestyg word. Sy klipgraf word ook aan besoekers uitgewys. Veral die kapél se bronsdeure deur Ghiberti (Gates of Paradise) met tonele uit die Ou Testament vang die oog. Die trompe d’oeil toringhorlosie loop van sononder agteruit ná ‘n klokkespel van die Ave Maria-aandlied! Vir die kunsskatte besoek ‘n mens die Museo dell’ Opera del Duomo , om veral een van Michelangelo se Pietà’s te sien.
In dieselfde omgewing lok winkelvensters met eksklusiewe ware van Gucci, Peruzzi, Armani.Terselfdertyd bie die straatsmouse en gelato-roomysplekke om jou guns; daarvoor kan mens mos maar swig!
‘n Entjie verder aan kom jy af op die Signoria-plein met replikas van die meester-beeldhouwerke, soos Dawid, Hercules, Neptunus - die kameras klik en flits aaneen. Jy moet mooi kyk om ‘n mimiek-kunstenaar tussen die beelde te onderskei! Die Palazzo Vecchio (Stadsaal) en Uffizi-galery huisves van die wêreld se beste Renaissance-kunswerke. ‘n Mens bejammer die toustaners wat reg rondom die plein staan en wag vir ‘n geleentheid om die ware Jakob van meesters soos Michaelangelo, Da Vinci, Raphael en Botticelli in die Uffizi-galery vir ‘n paar sekondes te siene te kry.
By Mercato Nuovo moet jy net die snoet van Il Porcellino (1612) vryf vir geluk, of ‘n muntstukkie op sy tong sit. As die water dit uitspoel, sal jy weer eendag terugkom Florence toe!
Die Firenze-polisie was baie sigbaar op hul wit perde. Straatslapers (seker onwettige immigrante) wat hulself ingerig het met rystoel, kartondose, kookgerei, komberse en al, is gou verwilder. Motors wat verkeerd geparkeer is, word sommer in ‘n japtrap weggesleep!
Dag 2 se verkenning was met busse 12 en 13 wat ‘n sirkelroete om die stad ry . Die bus volg dieselfde roete as die duur oopdekbus wat jou R450 uit die sak jaag. In die verbyry kan mens al die mooi ou geboue sien, dan vervoer die bussie jou verder oor die Arno-rivier na die Oltrarno wat meer boomryk is, met parke en villas van welgesteldes. Hier kan mens afklim by die Piazzale Michelangelo vir ‘n pragtige uitsig oor die stadsprofiel waarteen die Dumo dominant pryk, asook die Arno met sy menigte brûe. Op die plein staan ’n mooi replika van Dawid afgeëets teen die horison.
‘n Lieflike wandeling langs die groen oewer bring mens by die Boboli-tuine waar jy rustig kan verwyl tussen spuitfonteine en beelde. Medici-versamelings van onskatbare porselein kan in die Museo della Porcellana besigtig word. By die Palazzo Pitti wat uit die vyftiende eeu dateer, is daar vier groot museums ‘n kostuumgalery, en ryklik versierde staatskamers. Hiervoor moet jy maar vooraf ‘n 8 Euro-kaartjie bespreek, want dit vereis tyd en aandag – dit hang ook af hoeveel kuns mens op ‘n dag kan hanteer of ‘verteer” sonder om suf te voel!
’n Kort entjie verder span die Ponte Vecchio-brug (1345) oor die Arno-rivier. Hierdie sg. ‘Goue Brug’ se naam verwys na die eksklusiewe juwelierswinkels. Gedurende die Renaissance-jare het die onwelriekende afval van slagters ‘n doring in die vlees van die verligte stadsvaders geword en die welgestelde Medici-familie het die goudsmede en diamanthandelaars ingeroep.
Terug oorkant die rivier, kan jy langs Via dei Neri wandel waar die wonderlike roomysplekke en koswinkels wag. By kos bedoel ek, klaar voorbereide disse wat jou mond laat water. Florentyne bring net hul opskepbakke en siedaar, ‘n koningsmaal van gebakte rooi of groen soetrissie met mozzarella-vulsel, risotto met uie, sampioene en courgettes, lekker bruingebakte aartappels, geroosterde bruschetta-broodjies met olyfolie, ribolita-boontjiebredie, of geurige pastas na smaak!
Die Santa Croce-plein is dié plek vir leerware – die mooiste , sagte leerbaadjies en handsakke na styl en keuse, handskoene, beursies. Jy kan toekyk hoe die leer-meesters werk. Die meeste ware is peperduur, maar kyk kos niks!
Op pad terug lei die pad ons na Via Albizi waar die groot STANDA-supermark sorg vir kruideniersaankope, soos salami, prosciutto, trosse tamatietjies, vrugte, kaas, wyn en broodjies. Vanaand hou ons piekniek tuinterras van die hotel terwyl die son nog halftien skyn!
Dit is die ambience van Florence, die argitektoniese, tydlose kuns-op-straat, die gezoem van die besoekers en vrymoedige smouse wat jou fassineer.
Venesië, stad van kanaal en karnaval
‘n Dag word opsygesit vir die voetslaan-verkenning van Venesië .Droomstad in mistigheid, son- of maanlig - Venesië bly altyd ’n emosionele ervaring! Vir my voel dit soos ‘n blyspel in ‘n teater wat ek al voorheen bygewoon het.
Die eilande en waterkanale van Venesië was vir ons baie spesiaal, tenspyte van die reputasie dat dit vuilgroen en onwelriekend is. Ek sal Venesië graag wil vergelyk met ’n miershoop - van buite af lyk dit na niks, maar wag totdat jy die bedrywigheid daarbinne sien en die lewenskragtigheid daarvan ervaar! Vir my is daar ’n besondere vitaliteit aan Venesië - die mense lewe en werk, kuier, kyk en wandel - álles in een asem! Dis beslis nie ’n stad wat aan sy afdoppende muurverf of kanaalaroma getakseer behoort te word nie.
Vanaf die stasie Ferrovia Santa Lucia kan jy ‘n volgepakte Vaporetto #82 neem om jou tússen kanale en onderdeur bruggies van die besige waterstad deur te neem. Daar is spesiale kleur-roetes, amper soos die moltreinstelsel in Londen, waaruit jy kan kies, of jou kanaalverkenning kan beplan. ‘n Dagkaartjie wat ritte op die groot kanale en die eilande insluit, kos 12 Euro, wat darem nie te veel vir ‘n hele dag se besigtiging is nie.
Die alternatief is natuurlik om met ‘n stadskaart in die hand, jou weg te baan langs gangetjies van een calli, campi, ponti (straatjie,pleintjie, bruggie) tot die volgende, sodat jy die geboue en mense van naderby kan waarneem. (As mens jou oë op skrefies trek, lyk die buitelyn van Venesie amper soos ‘n vis.)
Baie roetes het ‘voetspore’ teen die mure - ’n aanduiding van die rigting wat gevolg behoort te word om by so-en-so besienswaardigheid uit te kom. Ons twee Alice’e in Wonderland sou nie weet wát om die volgende hoek of anderkant die volgende bruggie op ons wag nie!
In smal kanaalgangetjies en onderdeur klipbruggies vaar afleweringsbootjies, oorlaai met groente en kissies vrugte; bote met afvalhouers en vullissakke, sien jy willekeurig nie raak nie! Strategies-geleë trattorias met geurige expresso en pasta verras jou om elke hoek en draai. Die goue reël is dat jy moet uitkyk na plekke waar plaaslike inwoners sit en eet! Langs die pad voel mens effe stowwerig, maar ‘n plastiekglasie met yskoue kersies of vars vrugteslaai is net die regte opkikker om jou weer aan die gang te kry. Ons bewonder die Murano-horlosies en unieke glassware, karnavalmaskers en Burano-handwerk.
Venesië met sy kenmerkende lamppaallanterns, bruggies oor waterkanale en verskuilde klein boetieks, maak uiters interessante verkenning. Tydens jou doellose wandelings kom jy onverwags af op kerkpleintjies, alimentari-kruidenierswinkeltjies, campiello-pleintjies en chiesa-kerkies. Miskien loop jy die posman raak wat sy mandjie ophys na die boonste paar verdiepings, of kom skuur daar ’n Venesiese straatkat teen jou been. Om ’n onverwagte klont duiwemis te vermy, sal jy dalk versigtig moet opsy-stap!
San Marco-plein is egter die hartklop van die stad. Dis hier waar jy ure lank kan ronddwaal om die pragtig-gerestoureerde paleis, kloktoring te waardeer. Mens word een met die duisende malende duiwe, straatkunstenaars, kunstige karnavalmaskers, glasblasers, vasgemeerde gondels, caffès en peperduur restaurante wat vioolbegeleiding verskaf.
Hier op San Marco staan drie spesiale geboue, die Palazzo Ducale, die Bizantynse Basilica di San Marco, die Torre dell’ Orlogio en die 324 vt hoë rooibaksteen-kloktoring waarvandaan ’n mens ver oor Venesië se eilande, kanale en waterverkeer kan uitkyk. Op die piazzetta aan die waterkant staan ’n pilaar met die embleem van Venesië, die gevleuelde Goue Leeu van St Markus.
Ons sien ‘n gelukkige bruidspaar en toe die klok twaalfuur slaan, vlieg die duiwe op en fladder om hul koppe. Verderaan hoor ons Afrikaans en sowaar dis mense van ons eie dorp! Iewers om ‘n hoekie kom ons af op ‘n tandelose ou tannie met grys kopdoek wat die duiwe met broodkrummels sit en voer.
Die berugte Brug van Sugte (Ponte dei Sospiri) vanaf die Doges-paleis na die Prigione-kelders het gevangenes en veroordeeldes van weleer ’n laaste desperate blik oor die groot kanaal en kosbare vryheid gegun.
Aan die waterkant-trappies merk jy hoe die Adriatiese gety duidelik styg tydens die aqua alta hooggety; die ontstellende besef dat Ou Venesië stadig maar seker besig is om te sink, kom by jou op. Gondels vasgemeer aan blou en-wit spiraalgestreepte pale dein op en af in die lewendige water.’n Ritjie in een daarvan, begelei deur ’n musikale gondelier in sy gestreepte hemp en plat strooihoed, kan jou ’n duisend Euro uit die sak jaag, veral as hy een of ander serenata as bonus wil sing!
Spesiale privaatgondels van die gondolieri-brigade het elk hul identifiseerbare boegkam en sommige het selfs kapskuilings teen die wind en weer,of private ontmoetings. Daar is allerlei tipes gondels - soos begrafnisgondels, huweliksgondels, kruideniersgondels, Coca Cola gondels - selfs die brandweer, polisie en ambulans sal per gondel arriveer! ‘n Mooi jong gondelier glimlag na my kant toe en siedaar, ek lê hom op die plek digitaal vas!
Die buitenste Guidecca is ‘n 400 meter-wye kanaal. Ons vaar verby die beroemde Guggenheim –museum aan die Dorsoduro, of oorkant van die kanaal; ‘n besoek sou egter nog ‘n volle dag in beslag neem. Hierdie groot kanaal het glo meer as tweehonderd multikleur-palazzo’s aan die waterkant. As ’n mens die ou afdoppende, muwwerige geboue van die buitekant af bekyk, sal jy nooit kan droom watter rykdom en kuns aan die binnekant bewaar word nie.
Dié ou waterstad met sy visuele charisma het ’n emosionele impak op ’n mens. Vivaldi is op die lug; ek hoor die lewendige ritme van die Rondo Veneziana-strykers. Komende konsert-uitvoerings van hierdie koormeester se pragtige musiek in die Chiesa di San Vidal en Santa Maria della Pieta word op groot plakkate gadverteer. Op die stasie sien jy selfs die nuwe luukse blou en wit Vivalto-sneltrein, wat na hierdie charismatiese musikant vernoem is.
Carnevale en Mardi Gras is op almal se lippe; so en so’n maand is dit weer tyd vir die Regatta Storica, of die Festa del Redentore, en Festa della Salute. Plaaslike Venesiërs weet hoe om te léwe en sommer ook ‘n winsie te maak daarby!
Toe is dit weer tyd om die trein te haal vir ons volgende bestemming. My stowwerige Crocs roep Venesië se straatjies vaarwel – waar het hulle nie oral spore getrap nie!
No comments:
Post a Comment