Thursday, 28 July 2011

Alaska

Loslit-vaart na Alaska

Indien jy  per skip Alaska toe wil vaar, hoef  jy nie verder  te soek as die NCL-redery (Norwegian Cruise Line) se spesiale aanbiedings nie. Hierdie 7-dag vaarte vertrek vanaf Vancouver in Kanada , of Seattle in die VSA. 

Die  huidige prys  is ongeveer R5600 pp ($700) wat hawebelasting en alles aan boord  ingesluit het (behalwe fooitjies) .Dit was vir 'n binne-kajuit,  met alle etes en geriewe aan boord. Om een of ander wonderbaarlike rede is ons kort voor vertrek opgegradeer na 'n see-uitsig kajuit op die agtste dek, nogal met TV en yskassie as bonus! Moontlik was dit omdat ons flink was met ons betaling en '"online check-in "

Die multidek-passasierskip , die Norwegian Star , het 'n verskeidenheid eetplekke en restaurante, swembad en sauna, teaters en kroegies, sit-en leeskamers, gym en salonne, internetkafee, kaartspelkamers. en casino. 

Die rederyleuse is "easy cruising"  of loslitvaart, en dit impliseer gemak en gerief, ook wat kleredrag en ontspanning betref. Jy eet wat en wanneer jy wil en slenterdrag is aan die orde van die dag.Daar is heelwat aktiwiteute waaraan jy vrywilliglik kan deelneem indien jy lus voel daarna..

Ekskursies aan wal by hawedorpies is opsioneel en ekstra.'n Mens kan die dag aan wal egter individueel op jou eie ook verken, indien  so verkies. Alles is loopafstand van die vasmeerplek, want die hawedorpies is klein en kompak. Geen geld ruil egter hande nie, want jou  ekskursies, aankope en ekstras word per kredietkaart vereffen aan die einde van die vaart.

Vancouver is 'n pragtige Kanadese hawestad en die Norwegian Star het hiervandaan vertrek. Aangesien ons kinders daar woonagtig is, het ons reeds  vantevore kennisgemaak met die besienswaardighede soos Canada Place, Granville island, Stanley Park, Downtown , die Olimpiese dorp, e.a.interessanthede. Seattle se Pike's Place waterfrontmark was 'n bonus toe ons afstap in die VSA.

Die aanboordstap-proses was langsaam, aangesien drie yslike passasierskepe min of meer dieselfde dag vertrek het, en 6000 passasiers moes geduldig wag vir paspoort- en doeane-klaring. Dis glo  egter 'n uitsondering op die reel.

Ons eerste dag en aand aan boord was op noordwaarts op see  met die sg. Inside Passage en het ons die geleentheid gebied om die fasiliteite op verskillende dekke te verken: gym, jacuzzi's, deksport-bane, biertuin, pubs, restaurante en teater. Behalwe die kafeteria buffet-styl eetpek is daar ook aansit-vir-bediening restaurante indien jy dit verkies. Vir ontspanning kan jy bingo, trivia- vasvra, kulkunstenaars, klaviermusiek en opvoerings geniet. Verskeie demonstrasies en praatjies oor interessante onderwerpe lok ook baie passasiers.

Die volgende dag het ons afgestap by Ketchikan, wat bekend is vir sy salm-inmaakfabrieke en etniese First Nations-geskiedenis .Die grootste aantal totem-pale saam kan hier besoek word. Die voorste deel van die hawedorpie is op pale in die water gebou en die skip meer sommer as't ware teenaan die hoofstraat vas. Honderde spesialiteitswinkeltjies maak 'n lewe uit die besoekende passasiers se beursies.

Juneau is die kleinste hoofstad van die grootste Amerikaanse staat, Alaska,  en meer bekend vir sy pragtige blou Mendelhall-gletser. Groot stukke dryfys het egter verhoed dat die skip baie naby kon verbyvaar. Helikoptervlugte oor die gletsers is opsioneel. Ander uitstappies kan geneem word, natuurlik  teen addisionele koste, soos kajakvaarte en hondesleeritte.

Skagway is 'n historiese dorpie van die Klondike goudkoors-era van die Yukon. Hier is die White Pass Railway-ritte  tussen klowe, oor riviere en mooi Alaska-velde besonder gewild.

Prince Rupert is weer Kanadese turf  en besoekers sien gewoonlik uit daarna om na die bald eagle en bruinbeer uit te kyk.

Die lenteweer was gunstig en hoewel ons baie ver noord was, het ons nie gebibber en beef  soos ons verwag het nie, en het slegs een dag misreën ervaar.

Op die 8ste dag moes ons by Seattle( Washingtonstaat)  van boord afstap en dit het ons die geleentheid gebied om die mooi Amerikaanse hawefront te besigtig: Ons kinders van Vancouver het ons daar kom ontmoet en saam kon ons ook 'n aangename verjaarsdagnaweek op Amerikaanse bodem geniet.

No comments:

Post a Comment