Huisuitruil hier in Suid-Afrika tussen familie en vriende is geen vreemde verskynsel nie; vir 'n vakansie in die buiteland is huisuitruil met buitelanders egter net so 'n interessante en bekostigbare alternatief - dit word maklik gereël en werk gerieflik vir beide partye.Mens sny mos maar deesdae jou baadjie na jou lap!
Hoe gaan mens dan te werk om soiets in 'n ander land te reël? Eintlik is dit baie eenvoudig. Dra aan jou soekenjin op om home exhange-webwerwe te soek. Die enigste koste verbonde aan huisuitruil is 'n eenmalige bedrag vir registrasie by die fasiliteerder se webwerf om enige ongerymdhede te verhoed of uit te skakel. Niemand kry of vra kommissie nie, want agente is nie hier ter sprake of verskuilde heffings is ter sprake nie.
Daarna vul jy 'n vraelys of gaste-profiel in met besonderhede : seisoen en tyd, hoeveel mense ter sprake is , of 'n voertuig beskikbaar is, of daar troeteldiere is wat versorg moet word, of die huis toeganklik is vir 'n rystoel, en dies meer.
Wag 'n dag of drie vir 'n reaksie op jou rekenaarversoek. Dit is verbasend hoeveel mense in die buiteland graag hier in ons geweste wil kom vakansie hou. Jy kies uit 'n paar profiele van moontlike (gepaste) huurders, diégene met wie jy graag sal wil huisuitruil en tref verder alle reëlings direk per e-pos met die eienaars van die oorsese eiendom self. Motorvoertuie kan ook so uitgeruil en gereël word, indien so verkies deur beide partye. Dit los sommer ook vervoerprobleme in 'n kits op. Lees egter wat jou motorversekering dek. 'n Ander vervoer-alternatief is natuurlik die gebruik van 'n goeie netwerk plaaslike kontrei- /streeksbusse of 'n distrik-treinpas wat baie gerieflik is.
Om saam te kon vakansie hou, het ons en ons kinders van Kanada 'n huisuitruil gereël langs die Deutsche Weinstrasse . Die Kleinmanns was die afgetrede eienaars van die uitruilhuis. Alles was vooraf in die fynste besonderhede uitgewerk en gereël: afhaal van die voordeursleutel , huisroetine , tuinnatmaak, gebruik en versorging van 'n voertuig, waar wát gebêre is , opgespoor of gekry kan word.
Die keuse het geval op 'n klein dorpie Friedelsheim in die Rheinpfalz-wynland, naby Mannheim , Karlsruhe en Heidelberg in Duitsland. Die Klinmanns het ook hul voertuig beskikbaar gestel, maar vir lang afstande het ons 'n Duitse "Saver"-treinpas vir 'n paar dae gekoop wat ons in staat gestel het om lang afstande in 'n japtrap te kon aflê.
Met die nodige handleiding en wenke gebruik jy húlle huis en hulle gebruik jóu huis - met die nodige finesse natuurlik! Jy hanteer en behandel húl eiendom soos wat jy aanvaar hulle jóu huis sal oppas. Niks word toegesluit of weggesteek nie, want hierdie hele 'operasie' werk op wedersydse vertroue tussen mense wat beskaafd, berese en belese is. Dis hoe diegene wat natuurlik die wedersydse voordele van huisuitruil besef, te werk gaan . Ná die huisuitruil word 'n verslag oor huurders deur beide partye teruggestuur aan die homelink waarby jul geregistreer is. (Hier kry jy dan seker 'n regmerkie of 'n swart kol!)
Hierdie heerlik-gerieflike huisuitruil het ook ingesluit : 'n nie te onaardige groentetuin, omtrent 100 kaktusse, 'n visdam (of liewer padda-dam!), potte vol malvas en hortensias, asook 'n hele konglomerasie van verskillende bekende en onbekende plante. Die tuin het krioel van voëllewe, seker veral vanweë die kersiebome vol klein rooi vruggies en druiweprieel.
Van die huiseienaars kon mens 'n forensiese profiel uitmaak - die groot verskeidenheid boeke getuig van belesenheid, land- en padkaarte dui daarop dat hulle graag reis, musiekinstrumente en bladlees-literatuur verklik dat een van hulle musikaal aangelê is (daar was ongeveer 30 ou radio's), boeke en tydskrifte oor plante en tuine getuig van 'n lewendige belangstelling in die botanie. Dan is hulle ook natuurlik ook 'n oupa en ouma wat duidelik lief is vir hul kleindogtertjie en die gesinshuis met allerhande speelgoed en babaware ingerig het. Wanneer 'n mens na al die bymekaargemaakte besittings kyk, en die goed-toegeruste huis na waarde skat, kan jy aflei dat hulle al baie jare in dieselfde huis woonagtig is.
Veral interessant was hulle besoekboek waarin ons kon sien wie al in hul huis kom vakansie hou het en plekke waarheen hulle voorheen al uitgeruil het - Ierland, Swede, Hongarye, Kroasië….
Die pad na die tremstasie toe vanaf ons huis was ongeveer 2 km ver, al langs wingerde, kastaiingbome, kersies en sonneblom (i.p.v. die rose langs die wingerd soos hier by ons). Duitse snoeimasjientjies , so groot en smal soos die kosyn van 'n voordeur, het gereeld die lang los lote afgesny sodat die trosse die son kon vang - ons kon daagliks sien hoe swel die korrels uit.
Die lokale koerantjie, die Rheinpfalz en allerlei advertensies het ons op hoogte gehou van die wynfeeste in die omgewing, spesiale aanbiedinge in die kruidenierswinkels en die Tour de France natuurlik, waarvan 'n sekere deel van die roete naby ons omgewing aangedui was. Uit Duitse tydskrifte op die stasies het ons alles te wete gekom van die koninklikes van Europa se skandale en eskapades. Tuis kon ons die nuus , Wimbledon en die Tour de France op CNN volg en luister na lekker Duitse oempa-musiek op die kontrei-kanale van die televisie.
Dorpies in hierdie onmiddellike omgewing het feitlik almal die agtervoegsel -heim: Bad Durkheim, Freinsheim, Friedelsheim, en so meer, almal maar sowat 2-5km ver uitmekaar en elkeen met sy buitelug wynproeplek ,koffiekroegie en varsprodukte-markie. Ons moes maar eers goed kophou met die regs-bestuur, maar jy raak gou weer gewoond daaraan.
Naweke gedurende die somer wissel die wynfeeste tussen die dorpies en kom jy dikwels op 'n lekker Duitse kermis af. Oral kom jy stappers, fietsryers , moeders of oumas met stootwaentjies, of drawwers teë - niemand voel bang hulle gaan aangerand of besteel word nie, en dan besef 'n mens hoe negatief ons al deur al die misdaad in RSA gekondisioneer is!
Dit was te lekker om by al die bakkery-winkeltjies in te loer en tertjies of bretzels uit te soek, by weinstube na die spyskaarte van die dag te kyk, koffiekroegies te besoek of in 'n biertuin die ware Jakob te proe! Water is maar duur, sowat R12 per literbottel.
Ons Duitse treinpas vir lang afstande het lekker handig te pas gekom toe ons suidwaarts na die Titisee is, verder al langs met die Ryn op tot by die Mosel by Koblenz, ook na Strasbourg, Mannheim, Ludwigshafen en Heidelberg. Treinkaartjie-masjiene en skedules is op alle haltes aangebring en vir kort afstande het dit vir 'n mens maklik gemaak om so oor die weg te kom. KD-bootvaarte is gratis vir treinpas-houers en dit was vir ons 'n onverwagte bonus. Dagkaarte, groepkaartjies, afslagkaarte is ook beskikbaar, 'n mens moet net lees en Duits kan verstaan.
Tydens sulke stil, rustige bootvaarte kon ons perspektief kry op die oewerhuise en aktiwiteite, ou kastele, unieke boustyl met houtbalke, naweekhuisies met groentetuintjies (sommige selfs met 'n buite-bad, speelplek en karavaantjie!)
Hoewel die huiseienaars vir ons die nodige kaas, ham, brood, melk, en wyn beskikbaar gestel het, moes kosvoorraad gereeld aangekoop word. Hulle het ons na die naaste groot kruidenierswinkel verwys vir proviand. Een maal per dag het ons darem iets van die Duitse worse, eisbein, schnitzel, sauerkraut, gerookte ham, lewerfrikkadelle, kaas, sappige aarbeie, kersies, en heerlike fyngebak probeer proe.
Ons het die pryse nie uitermate duur gevind nie, maar toe ons tuis weer 'n stukkie biefstuk oor die kole braai, het ons bereken dat dit ons per porsie seker sowat R150 (sowat 18 Euro) in Europa uit die sak uit sou jaag!
'n Mens moet seker maar in gedagte hou dat jy nie Europa toe gaan om te koop nie, maar om te beleef en ervaar. Alles wat jy begeer, is maar hier in die RSA ook te koop, behalwe koekoeklokke, Duitse poppies en ander toeriste snuisterye, en die spesiale houtsnee- of keramiekwerk.
Probeer gerus vir 'n verandering hierdie bekostigbare en ontspanne wegbreek buiteland toe!
No comments:
Post a Comment