*Of jy nou ‘n gemakstoelreisiger is, of dalk nog kans sien om self jou reistassie agter jou aan te sleep na ‘n nuwe bestemming op die horison, lees gerus verder oor hierdie haalbare selfreis-opsie.
Vanjaar het die keuse van ‘n sakpas-reisbestemming op Slovenië geval – ‘n klein landjie aan die Adriatiese kus tussen Kroasië, Italië en Oostenryk - wat ons op ons eie slakkepas wou gaan verken.
Slovenië het die afgelope jaar heelwat positiewe mediadekking gekry, maar ons wou self op ons eie met ‘die-ware-jakob-op-straat’ gaan kennismaak…
Sou jy die Kruger–wildtuin soos ‘n kleibol kon vervorm in ‘n vet hoendertjie met 2 miljoen ‘vere’ (bevolking)), dan het jy ‘n idee van die grootte (of kleinheid!) van die landskapskone Slovenië - letterlik en figuurlik ‘n klein houertjie vol speseryryke, soetige heerlikhede! By nadere kennismaking sou ons egter besef dat niks wat ons ervaar het eintlik in die verkleinende trap beskryf kan word nie!
Die idee was om drie uitspanplekke uit te soek waar ons sou oorbly en genoeg tyd toe te laat om die landskapskone natuur en ryk kultuur van die Slovenië behoorlik te kon ervaar. (Die toerisme-leuse “I feel Slovenia”, kan eintlik vertaal word as “Ek ervaar Slovenië! )
Ons mosaïek-reis sou bestaan uit 6 dae in die die kultuur-historiese hoofstadjie Ljubljana in die bog van die Lubljanica-rivier, dan 5 dae in Piran , ‘n antieke Venesiaanse skiereiland-dorpie aan die Adriatiese kus en laastens, 5 dae by die lowerryke Bled-meergebied aan die voet van die Oostenrykse Alpe.
Gerieflik-geleë en bekostigbare apartments (deur die internet bespreek) loopafstand naby busdepots, bakkerytjies en markies sou ons selfsorg vergemaklik. Webwerwe het die nodige inligting oor besienswaardighede en busroetes verskaf.
Ljubljana, ‘Jubelstad’!
Vanuit die vliegtuig met ons daglug-vlug reeds kon ons reeds ‘n mooi perspektief gekry op die uitleg van die ou Sloveense hoofstad in die bog van die Lubljanica-rivier.
Ons het die tongknoper-woord sommer tussen ons gou in ‘Jubeljana’ omskep, omdat dit in alle opsigte ‘n sprankelstad is - van sy lewendige oeweraktiwiteite, sy studente-vitaliteit, tot sy argitektoniese en kulturele milieu.
In die oustad-sentrum weerskante van die Lubljanica-rivier is die hartklop aanvoelbaar; dit het die onmiskenbare ambience van ‘n jong-studentestad. Hierdie ou deel van Ljubljana is heerlik toeganklik en verkenbaar met wandellane, pleintjies en antieke brûe, soos die legendariese Drake- en Trippelbrug. By een van die nuwer brûe hang rye slotjies, ‘n nuwigheid wat ‘n inwoner en besoeker se vasgevange hartsbegeerte of voorneme simboliseer.
Hier aan die rivieroewers dwaal mens na hartelus rond tussen kerke en museums, fonteine en standbeelde, opelugmarkies en straatkafees, staan jy en luister na talentvolle kunstenaars of studentepret op die charismatiese ou Prešeren-plein. Dikwels draai jy jou kop na ‘n fluit- of viool-repertoire afkomstig vanuit ‘n oop venster iewers daarbo…..
Fietsryers en Kavalier-karretjies vleg by jou verby, maar daar is ‘n minimum motorverkeer. Alle bedrywighede geskied onder die wakende oog van die Ljubljana-kasteel wat op die heuwelkruin bokant die stad uittroon . Laasgenoemde is per rattrein, toeristetreintjie of te voet bereikbaar en bied ‘n manjifieke panorama oor die antieke, dog ook moderne rivierstad, en sy groot Tivoli-ontspanningspark.
Die panorama van die stadsuitleg en geboue herinner ‘n mens ietwat aan ‘n kleinsus van die groter Oos-Europese susterstede soos Praag, Budapest en Wene
Studente , toeriste en sakemanne vleg ywerig en geesdriftig deurmekaar, elk op sy eie missie. Slegs 10 minute se stap van die hart van ‘Jubeljana’ bring jou by die universiteit, sakekern, bus- en treinstasie , die lowerryke park of die hoogliggende wakende kasteel.
Meeste plaaslike inwoners is darem ‘n bietjie Engels magtig en dis ‘n pluspunt , want Sloveens is maar vir ons ‘n moeilik-uitspreekbare en leesbare vreemde taal ! Grafitti pryk oral teen die ou mure ; hier is dit hoofsaaklik studente-kunswerke!
Wat eet mens hier ? Mercato supermarkies is volop en heerlike varsprodukte word elke dag verhandel op die groot opelugmark; jy kan proe, kies en keur Daar’s pizzaplekke, Sloveense eethoekies met boontjiesop, gnocchi, bredies en prsut (dungesnyde gedroogde ham). As jy regtig waagmoedig is, kan jy maar ‘n horse-burger aandurf! Roomys en roomkoeke is die soettand- verleiers. Plaaslike wyne is smaaklik en bekostigbaar.
Ljubljana was die basis waarvandaan ons per bus ander naburige plattelandse dorpies ook sou verken, soos o.a. die goed-bewaarde middeleeuse dorpie Skofja Loka met sy eie kasteel en kerk as
toppunt , die plataanboom bymekaarkom-plein en intieme agtertuintjies. Ons giggel nou nog oor die tannietjie wat by haar vensterluik uitloer terwyl sy onbeskroomd met haar lepel uit ‘n blinkpot eet….
Oral in die dorpies beier kerkklokke op die kwartier, halfuur, uur…. Die meeste kerkdeure staan oop en jy is welkom om ‘n waskers aan te steek . Beeste lê vroeg reeds dikgewei in die malse groen en orals kom jy kampies perde teë. Swane dryf op elke meer en rivier… Idillies!
Maribor , Slovenië se tweede grootste stad is aangewys as die Kultuurhoofstad van Europa vir 2012, ‘n pragtige waterkantstad aan die Drava-rivier, met ‘n 400jr-oue wingerstok en pragtige monument ter herdenking van die verlossing van een of ander groot plaag of pestilensie, op die stadplein.
Die Postoinja-spelonke van meer as 20 km diep die karstgesteentes in, is myns insiens die mees ontsagwekkende natuurwonder wat ek nog ooit gesien en beleef het ; geen woordeboek kan ooit die regte woorde verskaf ter bekrywing van hierdie miljarde jare-oue grotstelsel se stalagmiete en –tiete van alle kleure en vorms, denkbaar en ondenkbaar nie.
Teen die neerslag-spoed van ‘n millimeter per honderd jaar kan mens maar self probeer bereken hoe lank dit sou geneem het vir stalagtiete om hierdie skouspel van rotspilare, gordyn-drapeersels en spahetti-strooisels te vorm. Beskrywings soos indrukwekkend, ontsaglik, majestueus skiet heeltemal tekort - blote ‘muggie-woorde’ ! Ongelukkig, maar verstaanbaar, mag geen flitsfoto’s aan die binnekant se grotsale en tonnels geneem word nie.
Die imposante hoogliggende Predjama-kasteel en grotskuiling in dieselfde omgewing is ook kunstig en vindingryk in die bek van ‘n groot grot ingebou en het ‘n interessante middeleeuse Robin Hood-geskiedenis , wat op sy eie weer ‘n storie is wat ‘n hoofstuk opsigself kon beslaan…..
‘n Poskaart uit Piran
Die eienares van die woonstel in Piran was toevallig in Ljubljana en bied aan om die sleutels persoonlik vir ons te kom aflewer en wenke vir ons verblyf te verskaf. Sy daag per fiets op - ‘n geëmanispeerde vrou wat jare lank in die reisbedryf betrokke was, maar haar nou hoofsaaklik op huisuitruil toespits.
Ons gesels land en sand oor besienswaardighede, o.a ook oor die moontlikheid van gratis huis-of woonsteluitruil - ‘n plekkie aan die Kaapse kus vir haar Andromeda apartament in Piran, aan die Adriatiese See (sien Wenke).
Piran, (behorende aan die Wereld-erfenis van Ommuurde Middeleeuse Stede), is anderhalfuur se reis per bus vanaf Ljubljana, geleë reg aan die suidpunt van Slovenië waar dit aan Kroasië grens. Dit is ‘n eeue-oue, ongekunstelde, Venesiaanse skiereilanddorpie waarvan die driehoek-omtrek seker so 3 km is, omsoom deur die kalm klotsing van die Adriatiese waters.
Reg aan die waterkant is eetplekkies, kafees, apartments, 2 ligtorings, ‘n seiljag-marina . Daar is slegs smal keisteen-wandellane, kliptrappies en antieke poorte, want Piran het weens sy middeleeuse spontane stadsuitleg geen paaie vir motorverkeer nie.
‘n Ou opgevulde hawetjie vorm die hart van Piran : Tartini-plein met marmer uitgelê , ter ere en nagedagtenis van die vioolspeler en komponis, Tartini. Feestelikhede, opvoerings en kompetisies vind gereeld hier plaas gedurende somermaande.
By die waterkant Caffe Teatro kan jy oor die kalm blou Adriatiese See uitkyk en ‘n glasie klink “na zdrave!”, op die manjifieke sonsondergang. Jy tel al jou eie wonderlike seeninge en skryf ‘n poskaart of twee huistoe …
Vyf dae is amper nie genoeg om Piran met sy rooi-teëldak silhoëet, teenaanmekaar-geboude huisies in afdoppende pastel,of antieke klipmure na behore te verken en waardeer nie:
Dag 1 is is jou verkenningsdag wanneer jy die inligtingsburo besoek, roomysplekkies ontdek, die viskos-restaurante vergelyk, die unieke plaaslike soutsjokolade proe, om die skiereiland stap tot by die Madonna-kaap, of die Adriatiese akwarium en Maritieme-museum besoek.
Hoe heerlik om ook net maar op Tartini-plein te sit en kofiie drink terwyl jy die mense se bedrywighede dophou, soos die moedige restourasie -werkers wat alles met kruiwaens en lere deur antieke vensterrame moet doen, die huisvrou wat haar wasgoedlyn deur die venster oor die straat span en intrek, of die aankopers se onderhandeling by ‘n varsproduktemarkie.
Daaropvolgende dae verdwaal jy gewilliglik tussen smal eeue-oue keisteen-gangetjies en verskeie oorspronklike, antieke poorte. Jy klim ewe waagmoedig die honderde trappies op tot by die 600 jaar-oue St George-heuwelkerk, Venesiese kloktoring , Doopkapel en ou omringende middeleeuse muur ( staande sedert 7-15de eeu !), vir ‘n fantastiese panorama van bo af.
Jy les jou dors by ‘n antieke spuitfonteintjie, knibbel aan verskillende soorte sout-sjokolade, of knoop ‘n geselsie met ‘n gawe verkoopsman aan.
Om die gangetjies met viersitplek-tandemfietse te navigeer, is ook ‘n prettige ervaring.Gratis pendelbussies neem jou na naburige strandjies soos dien subtropiese Portoroz en Izola vir ‘n vinnige afkoel in die kalm see (23C), so helder dat jy die visse tussen jou voete sien swem!
Dan is daar staproetes deur die Strunj-natuurreservaat, of ‘n besoek aan die interessante Secolvje opelug-soutmynmuseum (sout was die geweldig belangrike historiese ‘witgoud’ wat verhandel is tussen Venesië en Piran.) Daar is ook die opsie om per veerboot na die naburige Kroatiese hawestadjies of na Venesië aan die oorkantste Italiaanse kus te vaar vir ‘n daguitstappie.
Opmerklik dat in hierdie 600 jr-oue dorpie geen rommel rondgelê het, of geen lastige reuke opgewalm het nie. Geen werkloosheid of boemelary was waarneembaar nie. Daar is geen haas, geen gierigheid geen dringendheid van enige aard nie; mense leef net en geniet die eenvoud van die oomblik en tydsgreep waarin hulle hul bevind.
Klokkespel van verskeie kerke klink gereeld helder op. Almal ken almal en weet waar alles is. Jy soek verniet ‘n koerant, want hier in Piran is dit eintlik irrelevant! Jy leef hier in ‘n ander wêreld, ‘n ander tyd...
Bled-by-die-meer
Bled, die gewilde somer- en wintervakansieplek, lê noordwaarts van die hoofstad aan die oewer van ‘n meer aan die voet van die Juliaanse Oostenrykse Alpe. Sneeumaande is Bled-omgewing in skouspelagtige wit getooi en somertye weer in lowergroen.
Twee besondere eienskappe van hierdie gewilde meredorpie is sy hoogliggende middeleeuse kasteel en die charismatiese, unieke eilandjie met sy eie kerk in die middel van die meer.
Bled Grad is hoog op ‘n rotsmassa geleë. Waagmoediges kan tot bo klim of in somermaande met ‘n pendelbussie opry boontoe. Dit is ‘n ‘werkende’ kasteel met ‘n museum wat argeologiese en etniese uitstallings bevat, ‘n kapel ,‘n restaurant en ‘n wynkelder vir die dorstiges.
Daar is ondermeer ook ‘n antieke drukpers waar jy jou naam en besoekdatum met ‘n replika van die ou Gutenberg-drukpers op katoenpapier kan verewig. Sloveense volksdanse, vertoon-boogskiet en kamma-swaardgevegte word ook ter wille van toeriste aangebeid.
Dit is moontlik om reg rondom die blou swanemeer te stap , of dit andersins miskien gemaklikerwys met ‘n fiaker-perdekar of toeristetrein te verken.
Langs waterkant-eetplekke kan jy vars forel en aspersies bestel ( ag siestog , jy kies die forel nog swemmend in sy tenkie as jy dit oor jou hart kan kry!), ‘n lang Zlatorog-bier drink, of sommer net die genot van jou omgewing absorbeer. Roomkoek en koffie is natuurlik die gewildste tydverdryf vir dagbesoekers!
Met tradisionele Pletna-seildakbote word besoekers deur ‘n fikse bootsman oorgeroei na die eiland met sy Maria Magdalena- toringkerk waar die kerkklok gelui kan word om ‘n hartewens te laat bewaarheid.
Van ‘n brawe bruidegom word verwag om sy bruid die 100 trappies boontoe op te dra – ‘n ware uitdagende tradisie! Lenteliefde was beslis in die lug,want ons het verskeie informele, spontane bruidspare raakgeloop.
Pletna-bote is die gelisensieerde erfbesit van families; die beroep word van vader na seun oorgedra, wat gewoonlik die bote self bou volgens vasgestelde skaal en tradisionele ontwerp;dit word spesiaal vernoem en jaarlike opgeknap.
Benewens die natuurskoon is die mere van Bled en Bohinj ook gewild weens hul toeganklkheid vir sneeu-ski, riviersport, roei, fietsry, helikoptervlugte , kampeerdery en stap. Die Vogel-bergpiek kan per kabelkar bestyg word vir ‘n panoramiese uitsig oor die mooi vallei en omringende Alpe-spitse.
In die nabye omgewing is die asemrowende Vintgar-rivierkloof van 1.6 km lank waar ‘n wandeling langs bruisende strome en watervalletjies moontlik gemaak is vir besoekers.
Byeboerdery in Slovenië word nog hoog geag en wetenskaplik bedryf volgens streng protokol. Een van die hoogtepunte vir my was ons besoek aan Radoviljca se Byemuseum waar ‘n knap gids ons aan die misterie van die heuningby-koningin en haar byekorf bekendgestel het.
Hier kon ons die eeue-oue handbeskilderde byekorfhuisies en werktuie besigtig en die hele heuning- en byewas-bedryf eerstehands en van naderby beleef. ‘n Informele geselsie met ‘n ander byeboer by sy heuningprodukte-stalletjie het my so begeester dat ek besluit het dat ek heelwat meer van die antieke heuning-roetes te wete wil kom
( lees “The Honey Trail’ deur Grace Pundyk).
Die tradisionele Lectar-gemmerkoekiebakkery langsaan se hoofbestanddele is juis ook heuning, kaneel, gemmer ; hierdie pragtig-versierde koekies word geskenk aan geliefdes , verhudes of selfs aan maatskappye as simbool van liefde,vriendskap en goedgesindheid.
Heuning is beslis die soetigheid by Sloveense spyse en word in velerlei eetbare produkte verwerk. Selfs die geel byewas word aangewend vir versierde kerse , koekie-sjablone en sier-houers.
Informele geselsies met die man op straat, ‘n kelner, die byeboer en pletnaboot-roeier, gemmerkoekie-bakster, taximan was onderhoudend en insiggewend en was die gom waarmee ons ons mosaïekstukkies aanmekaar kon las.
Met drie woorde kom jy ver: prosim (asseblief), hvala (dankie), dobre dan (goeiedag). Probeer Engels, Duits en ‘n bietjie lyftaal daarby, en jy sal nie maklik verdwaal of oortree nie !
In Slovenië het ons geen uitspattige rykdomvertoon of haglike armoede gesien nie. Mense stap en ry fiets, sorteer en verwyder hul eie herwinbare rommel, werk self in tuintjies, kombuisies en op straat . Ons het die plaalike bus en treinvervoer stiptelik en skoon gevind.
Vir ons Suid-Afrikaners strek die Euro hier ‘n bietjie verder as in ander Europese lande. Glo dit as jy wil, ons totale knapsak-begroting vir 18 dae vanjaar in Mei 2011 was slegs ‘n ongelooflike R16 000 p.p. vir lugvervoer, verblyf, hoofsaaklik supermarkkos en enkele uit-etes, vervoer en toegang (inkopies uitgesluit!)
No comments:
Post a Comment