Waarde vir geld in Heidiland : ‘n Switserse Treinpas
Veronderstel jy wil graag in Europa gaan reis, maar jy is nie lus om agter die toergids se sambreeltjie aan te stap, of aan die regterkant van die pad te bestuur nie. Tog wil jy verken, kyk en ervaar op jou eie tyd . Ontspan, daar’s goeie raad – reis loshande per trein met ‘n Europese reispas of ‘n streekspas soos die onverbeterlike opsie, die Switserse treinpas.
Dié verbruikersvriendelike pas is die beste waarde vir geld wat ‘n selfdoen-reisiger kan kry, en waar is daar dan ‘n meer rustige, landskapskone land as Heidiland ? Met ons Switzerse treinpas kon ons elke dag na hartelus onbeperk per trein, boot, postbus en trem ry . Selfs die vervoer met stadbusse van 37 stede is ingesluit..
Die Swiss Pass kan by enige reisagentskap verkry word en mens betaal dit hier en stempel dit daar. Jy kan 1ste of 2de-klas kies vir soveel dae as wat jy wil reis, aaneenlopend of nie. Ons 15-dae Saver-reispas (2+ persone) het ons R2600 p.p gekos .
Vir sitplek op die meer luukse spesialiteitstreine, soos die Sjokoladetrein van Montreaux na Gruyere van kaas en sjokoladefaam, of die Glacier Express oor honderde brûe en deur vele tonnels deur die Alpe, betaal jy ekstra vir die besprekingsfooi. Selfs vir die besoek aan bergspitse soos Titlis , Pilatus , of die Jungfrau word ongeveer 50% afslag gebied. ‘n Ander voordeel is dat die treinpas ook vrye vervoer en toegang na die aangrensende landjie Liechtensteuin insluit.
Trein- en bootvaartskedules is op die internet beskikbaar , of duidelik aangebring by stasies en bootlandingsplekke wat feitlik altyd langsmekaar geleë is. ‘n Mens stap net van trein na bus na boot en holadrio ! , jy kan vryelik beweeg vir sover of hoelank jy ookal kans sien per dag !
Goed, nou is jy gestewel en gespoor en gepas vir Switzerland, maar wat doen mens daar vir 2 weke lank ? Dit laat my dink aan ons ou liedjie ,“Hansie slim, berg wil klim in die wye wêreld in, stok en hoed pas hom goed, hy is vol van moed…” Ouderdom ten spyt, sal jy nog in staat wees om te reis en die mooiste hartland van Europa geniet.
Miskien moet ek by die wonder van Switzerse groen begin – ek tel maklik 10 skakerings: sodagroen, woudgroen, mosgroen, luserngroen, turkooisgroen, wingerdgroen, golfbaangroen, pepermentgroen, khakigroen, lemmetjiegroen, algegroen! Dan die watervalle wat so uitbundig uit die berghange tuimel om jubelend-bruisende riviertjies te vorm.
Ons het ons verwonder ons aan die Föhnwind oor die berge wat so skielik miswolke, reën en sneeu kan bring. Oral langs die pragtige skoon mere merk jy karavaanparke, stappers met hul wandelstokke,fietse, mammas met stootkarretjies – hierdie mense kan nog onbekommerd buite leef.
Heidiland se mooi houthuise en blombakke vol van die mooiste malvas en ander gemengde kleure blomme, soos blou lobelias, wit daisies, geel gousblomme, bly steeds maar betowerend . Hier teen September begin die herfsblare hier en daar al kop-uitsteek. Op die weilande lê die vet beeste ‘langs groen weivelde en waters waar rus is’ en herkou. O, om ‘n koei te wees in die Suisse, moet salig wees! Hul kampe word net met linte afgesper langs die treinspore en teen steil berghange.
;n Mens moet jou oor maar gerus instel om al die verskillende Duitse dialekte te probeer verstaan, soos die snaakse Schweizerdeutsch.Maar hoe ontspanne en gerus voel mens darem nie in Switzerland nie! Jy kyk nie agterdogtig oor jou skouer nie, kindertjies hardloop en speel onbekommerd buite of ry op scooters, reis selfs alleen en selfstandig op busse en treine. Fietse staan veilig by stasies of winkels geparkeer totdat die eienaars dit weer kom haal.
Vriendinne vra my dikwels of dit veilig is om vrou-alleen in Europa rond te ry met publieke vervoer. Vir hulle wil ek sê: trek uit julle borstrokke, maak julle hare los, laat julle grimering en 'bling' by die huis, vat ‘n klein sleeptassie, jou tandeborsel en kredietkaart en gaan “explore” met Crocs terwyl jou rug en voete nog kan! Europese vroue is heeltemal geëmansipeer en is beslis nie meer die swakker geslag nie.Almal is doelgerig en selfversekerd in hul dagtaak en roetine.Suster, jy’s veilig daar!
Ons keuse om by backpackers in Interlaken en Vevey tuis te gaan, al ís ons ouer reisigers, was ‘n goeie idee - gemeenskaplike kombuis en badkamers is geen probleem nie, dis gewoonlik gerieflik geleë en silwerskoon. Jy ontmoet ook interessante mense wat nes jy sakpas reis!
Daar was selfs afslag vir een nag se verblyf by die backpackers met ons treinpas.Moet dus nie skroom om so iets te oorweeg as julle wil gaan reis nie; dis ook baie meer bekostigbaar want jy betaal nie vir diens nie.
Een van die interessantste uitstappies was na die karaktervolle ou dorpie Gruyere waar die bekende kaas gemaak word – daar kan mens die hele proses volg met jou vyf sintuie. Switzerland se sjokolade is onweerstaanbaar en daar is soveel soorte – Caillier,Rocher Lindt, Sprungli, Nestlé - te veel ander om te onthou. Dit maak altyd ‘n lekker geskenk vir iemand tuis. Ons het ook ‘n draai gaan maak by Nestlé se hoofkwartier in Vevey en by Bulle waar ook aanlegte is.
So was ons ook met stoombote oor ses verskillende Switserse mere, ook met die Vier Passe-bus, die sg.Wingerd-trien, Pleiades Sterre-bergtrein en Gruyere-trein, verskeie stadstrems, kabelkarre, sweefspore, teléferique en funiculars. Al wat mens moet besef, is dat alles goeie beplanning kos. Orals is die tydtafels van vertrek en aankoms aangebring en ‘n ou moet net reg lees om jou kom en gaan te sinkroniseer.
Op sonskyndae was ons hoog op in die berge en op bewolkte of reënerige dae het ons trein -of busgery om die omgewing te verken.Die gemiddelde temperatuur bedags was heelwat laer as wat ons gehoop het , so ongeveer 16C; elke dag moes ek maar ‘n baadjie aantrek Blykbaar beleef die hele Europa vanjaar 'n 'koel'-en-nat' somer ..
Spesiale uitstappie wat mens kan aanbeveel in die Interlaken-omgewing is die Vierpasse-roete(Grimsel/ Nufenen/ Susten/Gotthard), die mere Brienz en Thun, die bergbesoeke by Grindelwald, Männlichen en Wengen, Gruyere, Montreaux se Chateaux Chillon, Fribourg.
Laastens dan ons keuse van plekke waar ons ‘n week elk deurgebring het, was Interlaken en Vevey (uitgespreekWiwe).Eersgenoemde is beslis die allermooiste deel van Heidiland en meer kan mens eintlik nie vra nie – 10 uit 10! Dis by die berge (Eiger/Monch/Jungfrau) met die groot verskeidenheid bergritte, wandelpaaie, dit is by die twee mooiste turkooismere Brienz en Thun , dis hanteerbaar kompak en afstande is klein, dus ‘n goeie afspringplek vir trein, boot, en buskonneksies. Die Brünigpas en dorpies Lungern en Giswil, tussen Interlaken en Luzern is seker van die mooistes wat ons teëgekom het.
Vevey is weer goedgeleë naby Montreaux aan die Geneve-meer, of soos die Franse dit noem , Lac Leman. Ons woonplek was 100m van die meer af en 500m van die stasie. Daarvandaan kan mens Lausanne, Geneve, Neuchatel, die hoofstad Bern besoek, na die middeleeuse Murten toe gaan, of meer binne(platte)land toe na Gruyere en Emmenthal.
Ons was verbaas om die mooi wingerde teen die heuwels en hellings te sien – alles word in Oktober met handearbeid geoes. Dit wil gedoen wees! Die Riviera en Côte is baie welvarend en as jy so meer langs ry, sien jy net die pragtigste kastele en chateaux met boothuise en al!
No comments:
Post a Comment