Thursday, 28 July 2011

Kroasie 2

Van fynbos tot laventelveld:
Kroasie is welbekend  vir sy pragtige Dalmatiese kuslyn en oor die duisend Adriatiese eilande, en is ‘n heel bekostigbare bestemming .

September word as die ideale tyd beskou om Kroasië  te besoek - net ná die toeriste-stormloop van die Europese somerseisoen.
  
Vanaf Milaan is ons per trein  suidwes-waarts deur Italië na Ancona, vir die oornag-veerboot na Split wat die afspringplek is vir veerbote na die suidelike Dalmatiese eilande .

Met  ’n bietjie moeite kan mens ’n gerieflike kamer of apartamenti raakloop wat sentraal geleë is. So het ons ’n kykie gekry in die huise, tuine en lewenstyl van die plaaslike mense .

Die alomteenwoordige Konzum kruideniers-kettingwinkeltjies was byderhand vir lekker Dalmatiese prsut-ham, beleë kaas, olywe, jogurt, broodjies, gedroogde smokva-vye en plaaslike Grazevinja-wyn. 

Hvar-eiland se laventelaroma begroet jou as jy afstap van die veerboot .Kenmerkend is ook die derduisende klipmuurtjies wat eens op ’n tyd deur mensehande opmekaargestapel moes gewees het as ’n soort afskorting vir piepklein landerytjies wat met  groente, vrugtebome, laventelbos, wingerd en olyfbome beplant is.

Elke dag het sy eie avontuurtjie meegebring, hetsy in die vorm van ‘n busrit na ’n klein vissersdorpie soos Jelsa en Starigrad of ’n bootrit na die blougroen grotte by Vis en Bisevo.
  
Korcula verdien tien uit tien wat ligging betref. Hierdie blaarvormige oustad op ’n skier-tepeltjie se kliphuise met rooi teëldakke lyk almal eenders, selfs die meer moderne aanbouings hou streng by die tradisionele boustyl.

Dubrovnik is uitgesoek vanweë sy geskiedenis , kulturele en argitektoniese charisma. Hierdie voetganger-oustad het ‘n konsentrasie antieke geboue, soos die oudste apteek in Europa,  ou kerke, museums, pleintjies met fonteine, middeleeuse tonneldeurgange, buitelug-kafees en gesellige markstalletjies.

Stradun, die hart van Dubrovnik, is die wye wandelstraat van plat klip wat al blinkgepoets is deur miljoene besoekersvoete.. Steil trappies lei sywaarts hoër op en gee jou amper die  gewaarwording dat jy opklim teen die binnekant van ’n amfiteater. 

Die kulturele program is lewendig; elke aand kan  besoekers kies en keur tussen een of ander konsert, strykorkes, kamermusiek, ens. 

’n Hoogtepunt van ons besoek aan Dubrovnik was letterlik en figuurlik-gesproke die wandeling op die breë, 25 m hoë ou muur wat reg rondom die oustad strek. Hiervandaan het mens nie alleen ’n panoramiese uitsig oor die antieke stadprofiel nie, maar ook van luukse verdieping-passasiersbote in die baai. Daar is intieme kykies in die agterplase met wasgoedlyne, piepklein antieke dakhuisies, skool-terreintjies, en ou ruïnes.
  
Ons besoek aan die vissersdorpie Cavtat, per water-taxi of bus bereikbaar,  was een van die  mees bevredigende dagbesoeke.. Daar was  rustige promenade-wandelinge onder die lanings geurdenne en geleentheid net vir sit en koffiedrink en  mensekyk.
  
Die pragtige kuspad na die Makarska-riviera noord van Dubrovnik was ’n bonus wat onbepland oor ons pad gekom het. Ons is per bus verby die Neretva-rivierdelta wat omskep is in ’n pragtig-bewerkte landbougebied.

Die dae by Makarska-stranddorp is terdeë geniet en rustig verwyl . By ons Josip Lucic apartament het ons ‘n lekker oop balkon gehad waarvandaan ons die Biokovo-berg kon sien, en sonsondergange of  strandbedrywighede kon dophou terwyl ons welbehaaglik agteroorleun en ‘n glasie klink.

Vanaf Makarska is daar ‘n Jadrolinija-veerboot na Supetar op Brac-eiland waar ons die laaste paar dae sou deurbring. Brac is die eiland van wit kalksteen en marmer waarvan bv. die Wit Huis in Washington DC.  gebou is. Die groot aantrekkingskrag van Brac is die  goue superstrand, Bol.

Ons het gou geleer dat self-gereelde dagbesoeke per bus of boot beter waarde is as die reisagente se “fish picnics” of ander peperduur dag-uitstappies wat in Euro gekwoteer word.
  
Soek goedkoop sentrale verblyf naby bootlandingsplek of busstasie waarvandaan dit maklik en gerieflik is om elke dag se verkenningsuitstappie te beplan. Probeer op die grondvloer tuisgaan, want hysbakke bestaan nie in ouer geboue nie en trappe kan jou lewe versuur.  

Ons het  bespiegel oor wat die ‘ideaal’ sou wees , en besluit op die volgende  samevatting in ‘n neutedop : ons kamer in Hvar met sy unieke uitsig, die besondere geografiese ligging van Korcula, die ambience van Cavtat, die spierwit klipstrand by Bol, die swemplekkies by Makarska,…en natuurlik, ‘n penthouse in Dubrovnik!  

No comments:

Post a Comment