Thursday, 28 July 2011

Madeira

Obrigada"-, Madeira!
 
My eerste kennismaking en assosiasie met die begrip ‘Madeira’ was die geborduurde tafeldoeke waarvan my moeder en tantes my altyd vertel het. Latere jare het ons verskeie Madeira-groentewinkeleienaars tydens ons weeklikse groente-aankope leer ken. Ons was egter nie voorbereid op die oorrompelende prag van hierdie Atlantiese Oseaan-eiland nie. Reisbrosjures kan mens net eenvoudig nie goed genoeg voorberei  vir die impak wat hierdie historiese en natuurskone plek het nie. 

Verskeie legendes bestaan oor die ontdekking van Madeira en die ander eilande van hierdie Atlantiese argipel. Een romantiese legende lui dat ’n Engelse avonturier, ene Robert Machim, hom in 1346 saam met sy geliefde op die eiland gestrand bevind het en dat die dorpie, Machico na hom vernoem is. Geskiedkundige dokumente bevestig egter dat die ontdekker van Madeira in 1419 en stigter van Funchal, die Portugese skeepsvaarder Joâo Consalves Zarco was. Dit was glo hy wat die naam Ilha da madeira (‘ woudeiland’) aan Madeira toegeken het, beskrywend van sy eerste, blywende indruk. 

Madeira is eintlik die uitstaande punt van ’n berg, diep-geanker in die see.Van die wêreld se hoogste pieke word hier aangetref, soos Pico Ruivo, en Pico do Areiro, waarvandaan besoekers panoramiese vergesigte oor die eiland het. Hierdie hoë pieke is gewoonlik met miswolke gekroon.

’n Bosbrand wat deur ’n bosbouer gestig is en buite beheer geraak het, het sewe jaar lank geduur voordat dit finaal uitgebrand het. Tans word daar suikerriet, druifsoorte vir wyn, vrugteboorde, groente en blomme op hierdie vrugbare, vulkaniese eiland verbou.

Daar word dikwels na hierdie pragtige Portugese eiland verwys as ‘Pêrel van die Oseaan’, want sy milde klimaat, lowerryke plantegroei en omringende blou oseaan, dra alles daartoe by om dit as ’n baie besondere bestemming uit te sonder. Die heuwellandskap met netjiese wingerdterrasse, diep valleie met vrugbare landerytjies, levada-waterkanale, piesang- en suikerplantasies, ongekunstelde klein vissersdorpies het ons onmiddellik bekoor toe ons na ’n vlug van negentig minute vanaf Lissabon op Funchal neergestyg het - die senutergende landing op die aanloopbaan-aan-see ten spyt!

Oral langs die pad is ons verwelkom deur natuurlike, inheemse en eksotiese plantegroei: krismisrose, aronskelke, strelitzias, agapante, anthuriums, pointsettias, bougainvillea, frangipani, hibiscus en persgetooide jakarandas. Gn wonder dat Kaptein James Cook die eiland in 1768 as die ontvanger van die natuur se vrygewigheid bestempel het nie. Die Portugese Koning Manuel I het die mooi eiland op ’n ander geleentheid as ’n ‘drywende tuin’ beskryf.

Madeira het slegs twee seisoene, nl. lente en somer. Die aangename, milde klimaat werk soos ’n tonikum in op ’n mens se gestel én ingesteldheid.
 
Vyfster-akkommodasie sluit o.a in Tivoli Ocean Park, Crowne Plaza, Pestana Grand, almal met fasiliteite waroor 'n besoeker net kan droom.Vir diegene wat hul hande nie so diep in die sak wil druk nie, is daar m.b.v die internet verskeie alternatiewe akkommodasie-opsies, "no problemsh!"

Die ou gedeelte van Funchal, Zona Velha, kan maklik te voet verken word. Hoogtepunte soos die vyftiende-eeuse Sè-katedraal, St Clara-klooster, Quinta das Cruzes-huismuseum van Zarco (eerste goewerneur van Madeira). Ander ou forte en monumente, soos dié van Columbus en Prins Hendrik die Seevaarder in St Catharina-park, was ook ingesluit op ons besigtigingsprogram. Ons het veral belanggestel in die Da Freitas geskiedkundige teël-museum. Na ’n warm busrit het die voëlpark, orgideëhuis en teetuin by Jardim Botanico vir koelte en lafenis gesorg.

Die bedrywige vis-, vrugte-, blomme- en groentemark,Mercado dos Lavradores, was darem stapafstand vanaf ons hotel in Funchal. Vars-uitgestalde seekos het ons monde só laat water dat ons amper nie kon wag vir die eerste proeseltjie calamari en ’n sluk Coral-bier nie. Die espada-visgereg is een van die eiland se smaaklike spesialiteite - ook nie goedkoop nie, want hierdie swart vis word glo met handvislyne uit die diepsee gevang! Presunto-ham en ’n geurige espatada geroosterde biefkebab word voorgesit by seefront-kafeetjies en restaurante met welluidende name, soos Estrela do Mar, Caravela en Espadarte, langs Avenida do Mar in Funchal.

Ons het die markstalletjies en winkels baie interessant gevind, bv. Casa do Turista en Artecouro met Portugese aandenkings - handgeborduurde bloese, tafeldoeke, voorskote, vatlappies, tapisserie en ander handwerk in helder Madeira-kleure. Hierdie tradisionele borduurwerk is die trots van elke huisvrou op Madeira. Groter winkels, soos die Madeira Superbia, asook die nabygeleë temapark het ook ’n verskeidenheid uitgesoekte kunshandwerkartikels te koop gehad. 

Vir die gewilde mandjies en meubels van wilger-rottangwerk kan Camacha-dorpie besoek word. Ongelukkig was hierdie kunstig-afgewerkte artikels te bonkig om saam huis toe te karwei!

Die trots van elke manlike grondeienaar is sekerlik sy wingerd. Vir wynproe-sessies het ons wynkelders, soos Adegas Sao Francisco en Diogos besoek waar ons Rainwater soetwyn uitgesoek het en allerlei kleurvolle wynbottel-etikette van Fidalgo, Sercial, Malmsey Solera, Spinola Boal,Verdelho, en dies meer, versamel het. Oulike klein handgeverfde glasies is gratis bygevoeg by ons bestelling.

Quinta das Cruzes-villas en tuine langs die Estrada Monumental-pad is ’n oorblyfsel van die welgestelde eienaars. Daar is egter ook baie eenvoudiger en toegerankte ou Madeira-huisies met tradisionele kleifiguurtjies op hoeke van teëldakke. Die driehoekige Palheiros-strooidakhuisies wat ’n mens oral teëkom, word eintlik as beesskuilings gebruik omdat daar gevaarlike klowe en onbegaanbare terrein is. Nie ver van Funchal af nie, lê die Santa Clara-nonneklooster verskuil in die kratervallei, Eira do Serrado.
 
Casa do Turista in Funchal was baie behulpsaam met die verskaffing van inligling en het ook eilandverkenning gereël wat bergritte deur tonnels, bergpasse, skerp draaie, watervalle en forelplase ingesluit het. Ons het waardering gehad vir die vernuftig-uitgelegde terrasse wingerd en waterleidingsvore teen die steil berghange. Wandelpaaie langs hierdie koel levadas is netjies uitgelê en gekaart.

Die toerbus het by ’n paar miradouros (uitkykplekke) hoog tussen die persblou pieke stilgehou, sodat ons vandaar die mees asemrowende see- en bergpanoramas kon waardeer. Die Sao Vincente vulkaniese tonnelgrotte kan per toerbus bereik word.

Die "Toboggan Run" of rottangslee-rit vanaf Monte was sekerlik die hoogtepunt van ons besoek aan Madeira. Toeriste sit twee-twee in ’n carro-rottangmandjie (vroeër gebruik vir die vervoer van vragte druiwe) wat vinnig weggestoot word om al langs ’n gladgebruikte paadjie tot vér onder op veilige gelykgrond te gly. Twee stewige mans aan weerskante balanseer die mandjieslee op die keisteenvlak en reguleer die spoed en rigting afwaarts. So ’n jollierit gaan gewoonlik met uitbundige gille gepaard! Gelukkig het die bedagsame gids ons gewaarsku om nie ons elmboë te laat uitsteek nie - die growwe klipmure kan glo geniepsig seermaak. 'n Kabelrit vanaf Parque Almirante reis neem jou tot bo by Monte.

Die bootrit met Amigos de Mar vanaf Funchal-hawe al met die kus langs, was ’n heerlike ondervinding. Die kuslyn bestaan hoofsaaklik uit steil vulkaniese rotskranse en die see is ’n donker asuurblou. ’n Interessante gesig was die touleertjie oor ’n hoë krans, ver af ondertoe na  klein landerytjies onder op die grond op seevlak. Die eienaarboer het nou werklik elke duim grond waarop hy kon aanspraak maak, benut vir sy plante. Presies wát dit was, kon ons nie uitmaak nie - heelwaarskynlik een of ander soort groente.

Die bootjie vaar langsaam verby die Girão-kaap, die eertydse walvisstasie en museum by Canical, en ’n klein swartsand-strandjie, Prainha. Vanweë die vulkaniese oorsprong van Madeira sal ‘n mens tevergeefs soek na mooi wit sandstrande. Besoekers kan egter afkoel in hoogwaterpoele by Porto Moniz. Ons het geleentheid gekry om van die boot af in die koel, blou see in te duik en heerlik te swem en watertrap. Vars vis, Portugese broodjies en ’n kraffie koel Madeira-wyn, is aan boord vir middagete voorgesit. Tradisionele Madeira heuningkoek en soet waatlemoen het ons maal ter see afgerond.

Op die ligte deining in Camara de Lobos se hawetjie het kleurvolle vissersbootjies gewieg; ons het onsself daar en dan voorgeneem om weer by hierdie informele waterkant-kafeetjies uit te kom.  

Die meer enegieke garde kan genoeg adrenalien pomp met grootwild-visvang, bergfietsritte, hanhsweef, scubaduik, en dies meer. Saans word volksdanse gedemonstreer, espetata sosaties gebraai en 'n lewendige aandjie uit word met plaaslike likeur afgerond.

Op Madeira word daar dikwels plesierig feesgevier - blommefeeste, wynfeeste, asook volksdans-kompetisies, skaapskeer-uitdagings, die gewilde Sentana-gesinsfees en die tradisionele Nuwejaar word met oorgawe gevier. Madeira-dansgroepe, uitgevat in hul kleurvolle volksdrag, tree dikwels by groot hotelle op vir aandvermaak
 
Plaaslike busvervoer, toerbusse, 'n kabelrit, boot of taxi's kan jou bring waar ookal jy wil wees.Vlugte vanaf Kaapstad na Funchal vereis aansluitings via Heathrow of Lissabon .

’n Week was nie lank genoeg nie. Hierdie pragtige Portugese eiland behoort nie net vir so’n kort tydjie besoek te word nie; ’n mens sal langer kan vertoef sonder om verveeld te raak in Mooiste Madeira. Soos promosiebrosjures tereg beweer - Madeira is werklik ‘iewers spesiaals’!

No comments:

Post a Comment