Thursday, 28 July 2011

Kroasie, Dalmatiese eilande

Kroasië  se pragtige Dalmatiese kuslyn en Adriatiese eilande is steeds ‘n  bekostigbare vakansie-bestemming vir Suid-Afrikaners weens die gunstige Rand-Kuna wisselkoers..September word as die ideale tyd beskou om Kroasië te besoek - net ná die toeriste-stormloop van die Europese somerseisoen.
 
Vanaf Milaan is ons per trein suidweswaarts deur Italië na Ancona, vir die oornag Jadrolinija-veerboot na Split, die afspringplek vir veerbote na die suidelike Dalmatiese eilande .


Hvar-eiland se laventelaroma begroet jou as jy afstap van die veerboot. Kenmerkend is ook die derduisende klipmuurtjies wat dien as ’n soort afskorting vir piepklein landerytjies wat met  groente, vrugtebome, laventelbos, wingerd en olyfbome beplant is.


Met ’n bietjie moeite kan mens ’n gerieflike sentraal-geleë kamer raakloop. Almal is nie noodwendig Engels magtig nie, maar met lyftaal kom jy darem reg.


Die alomteenwoordige Konzum kruideniers-kettingwinkeltjies was byderhand vir lekker Dalmatiese prsut-ham, beleë kaas, olywe, jogurt, broodjies, gedroogde smokva-vye en plaaslike Grazevinja-wyn. 


Elke dag het sy eie avontuurtjie meegebring, hetsy in die vorm van ‘n busrit na ’n klein vissersdorpie, soos Jelsa en Starigrad, of ’n bootrit na die blougroen grotte by Vis en Bisevo.
 
Korcula verdien tien uit tien wat ligging betref. Hierdie blaarvormige ‘oustad’ op ’n skier-tepeltjie van die eiland met dieselfde naam, se antieke kliphuise met rooi teëldakke lyk almal eenders. Bootritte na verskeie strande kan onderneem word vir ‘n luilekkerdag.


Dubrovnik is uitgesoek vanweë sy geskiedenis , kulturele en argitektoniese charisma. Hierdie voetganger-oustad het ‘n konsentrasie antieke geboue; die oudste apteek in Europa,  imposante kerke, museums, pleintjies met fonteine, middeleeuse tonneldeurgange, buitelug-kafees en gesellige markstalletjies.


Stradun, die hart van Dubrovnik, is die wye wandelstraat van plat klip wat al blinkgepoets is deur miljoene besoekersvoete. Steil trappies lei sywaarts hoër op en gee jou amper die  gewaarwording dat jy opklim aan die binnekant van ’n amfiteater.


Die kulturele program is lewendig; elke aand kan besoekers kies en keur tussen een of ander konsert, strykorkes, kamermusiek, ens.


’n Hoogtepunt van ons besoek aan Dubrovnik was letterlik en figuurlik-gesproke die wandeling op die breë, 25 m hoë ou muur wat reg rondom die oustad strek. Hiervandaan het mens nie alleen ’n panoramiese uitsig oor die stadprofiel van antieke geboue nie, maar ook van luukse passasiersbote in die baai. Daarvandaan kry mens ook sommer intieme kykies in die agterplase met wasgoedlyne, piepklein dakstudio’s, skool-terreintjies, en ou ruïnes.
  
Ons besoek aan die vissersdorpie Cavtat, per water-taxi of bus bereikbaar, was een van die  mees bevredigende dagbesoeke.. Daar was  rustige promenade-wandelinge onder die lanings geurdenne en geleentheid vir  swem, koffiedrink en  mensekyk.
 
Die pragtige kuspad na die Makarska-riviera noord van Dubrovnik was ’n bonus wat onbepland oor ons pad gekom het. Ons is per bus verby die Neretva-rivierdelta wat omskep is in ’n pragtig-bewerkte landbougebied.


Die dae by Makarska-stranddorp is terdeë geniet en rustig verwyl . By ons Josip Lucic-apartament het ons ‘n lekker oop balkon gehad waarvandaan ons die Biokovo-berg kon sien, en sonsondergange of  strandbedrywighede kon dophou .


Vanaf Makarska is daar ‘n Jadrolinija-veerboot na Supetar op Brac-eiland waar ons die laaste paar dae sou deurbring. Brac is die eiland van wit kalksteen waarvan oa. die Wit Huis in Washington DC.  gebou is. Die groot aantrekkingskrag van Brac is die superstrand, Bol.


Ons het gou geleer dat self-gereelde dagbesoeke per bus of boot beter waarde is as die reisagente se peperduur dag-uitstappies; met min moeite kan jy jou eie ding doen!
 
Soek goedkoop sentrale verblyf naby die bootlandingsplek of busdepot waarvandaan dit gerieflik is om elke dag se verkenningsuitstappie te beplan. Probeer op die grondvloer tuisgaan, want hysbakke bestaan nie in ouer geboue nie en trappe kan jou lewe versuur. 


Ons het  bespiegel oor wat die ‘ideaal’ sou wees , en besluit op die volgende in ‘n neutedop : ons kamer in Hvar met sy unieke uitsig, die besondere geografiese ligging van Korcula, die ambience van Cavtat, die spierwit klipstrand by Bol, die swemplekkies by Makarska,…en natuurlik, ‘n peperduur penthouse in Dubrovnik! 

[Hoe kom jy daar?  Vlugte na Frankfurt/Milaan/London/Athene het aansluitvlugte na Dubrovnik;
Visum? Ja, verkrygbaar in Pretoria, asook Schengen as jy afstap in Europa.]
Wisselkoers : Rand 1=K1.35]

No comments:

Post a Comment