Thursday, 28 July 2011

Gruyere



Noem Gruyere, Nestle en Switzerland gerus maar in een asem, want kaas sjokolade is sinoniem met Heidiland. In hierdie kanton is Koei mos Koning!

Ons het gaan kers opsteek by die dorpies Broc en Gruyere waar melk verwerk word na kulinêre heerlikhede, nie te ver van Montreaux of Fribourg af as jy platteland toe ry nie (afhangende uit watter rigting mens reis).

Die hoogliggende dorpie kan met publieke vervoer bereik word, soos die eersteklas panoramiese Sjokoladetrein van Montreaux af, of die goedkoper self-doen opsie met die Gruyere-kontreitrein  van die Haute Riviera en plaaslike bus. Mens keer terug van so’n uitstappie met heelwat meer kennis en respek vir kaas- en sjokolademakery  en al die verwerkte gastronomiese lekkernye.Die Switserse treinpas het ons handig te pas gekom, aangesien alle treine en busvervoer onbeperk ingesluit is en mens kan ry hoe ver en hoe lank jy lus het.

Ons het met aankoms in die  groen Saane-vallei van kanton Freiburg heel eerste opgestap na die middeleeuse ommuurde ou dorpie Gruyeres en sy pragtige ou Chateaux (daterende uit 15de –17de eeu) met antieke Vlaamse tapisserieë, wapenrusting, houtgekerfde meubels en donker kelders. Buite verstom ons aan die formeel-gemanikuurde Louis XIV - tuine.Orals wapper die tradisionele Gruyeres-embleem van 'n wit ooievaar teen die rooi agtergrond. Teen die agtergrond sien mens die sneeubedekte bergpiek van Moleson wat vir stappers bereikbaar is.

Die keisteen wandelpad lei verby restaurante wat besoekers lok met allerlei liplekker kaasgeregte, soos fondue, raclette, dik uie-en-kaassop, veerligte Gruyere-meringues met dik room. Ons merk op dat die kaas self sonder die "s" gespel word.

By La Maison Gruyere ervaar die besoeker ‘ n demonstrasie van kaasmakery met vyf sintuie: Jy sien en hoor die werklike proses langs die produksielyn, ruik die verskillende bestanddele van kaas, tas aan die toebehore en proe om die rypheid en soutgehalte van die kaas  te onderskei. 'n Mens wei as’t ware saam met die koeie op die weiveld en reis tot binne in ‘n druppel melk....Oorfone in twaalf tale is beskikbaar en ons kyk toe hoe robotte die groot ronde kase optel en omdraai op die rakke van die kaas-koelkamer.

‘n Paar interessante Gruyere-kaasfeite:

*400 liter melk word benodig vir een  35kg kaaswiel
*‘n koei eet 100kg gras om 25 liter melk te produseer
*Gruyere-kaasmengsels bevat 75 soorte veldaromas, soos haselneut, ment, vanielje, 
  laventel,  e.a
*Hierdie soort kaas is 'n meer pikante variasie van die bekende Emmenthaler
  jong Gruyere is ses maande oud, die meer souterige verouderde kaas tussen 7-10
  maande belee tot die groot, geurige Gruyere-wiel wat 15 maande op ‘n donker rak lê
  en ryp word.

‘n Paar kilometer verder langs Lac de la Gruyere is die Caillier- Nestle sjokoladefabriek’ by Broc, waar besoekers die geskiedenis en proses op video kan waarneem.Op ‘n mini-toer kan mens aan ’n verskeidenheid stukkies  smul om die aroma, romerigheid  en tekstuur te onderskei en dan jou gunsteling uit te soek.

Vermaarde chocolatier pioniers se name en portrette sedert die opening van die eerste fabriek in 1819, is hier uitgestal: Rocher, Lindt, Sprüngli, Tobler, Caillier, Suchard, Tobler, wat almal bydraes gelewer  het tot die verfyning en verskeidenheid van Switzerse sjokolade deur die byvoeging van melk, neute, heuning, fondant, glansvrugte of beskuitjies

Die massiewe gebou van die Nestle-wêreldhoofkwartier is in Vevey, langs die Geneve-meer geleë.

Die Switzers gebruik glo sowat 12kg per capita sjokolade jaarliks.




No comments:

Post a Comment