In die noordelike binneland van Griekeland lê ‘n klein dorpie, Kalambaka, aan die voet van geweldige hoë rotspilare genestel. Bisantynse monnike het grotskuilings en hoogliggende kloosters hul onbereikbare vestings gemaak sedert die Turkse vervolging gedurende die middeleeuse tydperk. Meteora was een van die mees indrukwekkende plekke wat ek nog ooit besoek het
Ons het tuisgegaan in Katerina se Koka Roka gastehuis aan die voet van een van hierdie massiewe rotsmassas. Omdat ons eers teen middag per trein gearriveer het, het ons die daguitstappie-bus verpas en moes ons teen wil en dank van ’n huurmotor gebruik maak om by ’n paar van die kloosters hoog bo-op op rotspilare uit te kom, terwyl daar nog ’n paar uur daglig oor was.(Ek het vir die eerste keer gehoor van Meteora toe die Bond-film, “For Your Eyes Only” destyds vertoon is.)
Toe ons eers daar bo aanland, kon ons vanaf die mees hoogliggende klooster padlangs afstap na die ander besigtigbare ‘kruinforte’, Grand Meteoron, Varlaam en Roussannou. Honderde steil trappies lei boontoe na kloosterkamers en museums met allerlei religieuse boeke, ornamente en ikone - ’n mens kry deeglike insig in die asketiese monnik-leefstyl en ontbering van die luukse. Deesdae word daar ook ’n nonneklooster, Agios Stephanos, bedryf.
Van bo-af kry mens sommer hoendervleis as jy so uitkyk oor die dorpies vér onder in die laagte - dis so oop en vry en ongebonde - g’n wonder die eertyse monnik-vlugtelinge het hul juis hier kom afsonder nie! Dit was asof jy die stilte om jou kon hoor en dit is die ideale plek om te kom mediteer.
Laaste, maar geensins die minste nie, kom die pragtige, welige Pelion-skiereiland aan die beurt - soos verskeie reisboeke dit stel:“The Best Kept Secret of Greece!”.Weens sy redelik moeilik-bereikbare ligging kom die Pelion nie op normale toeriste-roetes voor nie en het dit daarom juis ook die wegbreekplek vir vasteland-Grieke geword. Hawedorpie Volos verleen toegang tot hierdie gebied.
Die Pelion is ’n vrugbare, bergagtige skiereiland op dieselfde breedtelyn as die noordelike Sporades, ’n hele paar uur noord van Athene. Pelion-berg loop soos ’n ruggraat al langs die skiereiland af en skei die Pagasitiese Golf-gebied van die Egeïese See-kusstrook. Die klimaat is heelwat koeler in die somer wanneer die res van Griekeland sweet; hierdie sagte klimaat is glo ideaal vir meer as ’n duisend spesies kruieplante en bergterasse vol appelboorde en ander boordvrugte. Hoogliggende dorpies, Makrinitza en Portaria, klou verbete vas teen die berghang. Die sentrale plateia van Makrinitza is die ‘balkon van die Pelion’, en hier het ek en Melodie heerlike frappes gedrink in die skadu van die groot ou plataanboom. Vandaar het mens ’n ongelooflike uitsig oor die spierwit hawestad, Volos en die see - vir my het dit gelyk soos stukkies nougat wat netjies uitgestrooi lê.
Heelbo is daar selfs ’n ski-oord, H(X)ania, wat jou aan ’n intieme Alpedorpie laat dink. Ek het die plekkie ontdek toe ek toevallig op ’n bus beland het wat ’n sirkelroete gevolg het van Volos af, hoog oor die berg en terug. My idee was om net na die dorpie Tsangarada toe te ry vir ’n middagbesoek, maar moes op die bus tot my ontsteltenis uitvind dat daar nie weer later ’n opvolgbus terug Volos toe sou wees. Soos die busbestuurder in geradbraakte Engels aan my probeer verduidelik het: “Not today - tomorrow!” Toe ek met lyftaal beduie ek moét daardie aand weer terug wees om in Volos te slaap, het hy op sy beurt beduie: bly net op die bus sit!
Hierdie ses uur-lange sirkelrit was seker die beste waarde wat ek ooit in my lewe vir R45 sou kry! Ons is oor bergpasse wat skrik vir niks, af deur ravyne, bo die wolke en onder die lae wolkmis, verby verskuilde bergdorpies, padstalletjies met ’n verskeidenheid ingelegde vrugte en kruie. Ongelukkig was daar geen afklimkans nie! Vanaf uitkykpunte so hoog in die berg kon mens verskeie pragtige strand-inhammetjies daar ver onder sien - wit teen die blouselblou van die see.
No comments:
Post a Comment