Thursday, 28 July 2011

Elsass

 ‘n Naweek  in Strasbourg van die Franse Alsace

‘n Klipgooi van die noord-oostelike grens van Frankryk met Duitsland, lê Ou Strasbourg met sy Duits-Franse dubbelkarakter in die omhelsing van ‘n bog in die Ryn. Die Rhône en Marne-rivierkanale  vloei hier ook saam sodat die ‘oustad’ heeltemal omring is met bevaarbare waterweë.

’n Dag is Strasbourg kan deurgebring word op die miniatuur toeristetreintjie, op ‘n kanaalboot, of wandeling te voet deur smal strate met hul eie middeleeuse bekoring. Straatname word hier nog in beide tale aangebring.Waarom dan Duits as Strasbourg in Frankryk is?

Die 13de eeuse  rooisandsteen-katedraal , die Notre Dame in Romaneske-styl is die historiese pronkstuk van die ou stad. Die  antieke astronomiese klokhorlosie en Pilaar van Engele daarnaas, asook die Palais de Rohan aan die oewer en Musee des Beaux Arts ( kunswerke van Klee, Monet, Klimt)   maak ‘n dag se besienswaardighede in ‘n vierkante kilometer uit. Pla jou geldsak jou dalk, kan jy gerus gaan inloer by die houtwerk-vertoonlokaal in die Baumann Kammerzell,

Polities het Strasbourg sy gesag ook behou; dit is die setel van die Europese parlement (Palais de l’Europe), asook die Europese Hof vir Menseregte. ‘n Bootvaart om die stad stel die besoeker in staat om hierdie geboue wat andersins ‘n bietjie te ver is vir stap , van naderby te besigtig.

Petit France is ‘n middeleeuse kanaal-straatgebied met pragtige ou 16-17 de eeuse houthuise aan die oewer, teenaanmekaar gebou, met kleurvolle blombakke vol malvas. Kyk ook hier gerus uit na enigiets wat soos ‘n toring mag lyk, die ooievaars is terug!
Waar eet die Strasbourgeois? Restaurante bie om die guns van die talle besoekers. Kies maar uit die peperduur La Petite Alsace met tradisionele, ryk Alsassiese lekkernye , Zum Strissel vir wildsvleis, choucroute alsacienne  en crème brulée, of straakmarkstalletjies met worsbroodjies. Die keuse is joune! Ryk en lekker soetgebak pryk in elke derde winkelvenster en jy kan nie anders as om jou te vergryp aan ‘n kilojoule-bom nie!


Alsace se wingerdgebied lê hoofsaaklik in ‘n smal strook aan die suidelike hang van die Vosges-berge in die rigting van die Ryn-rivier. Die wyne van hierdie streek is ligte, vrugtige witwyne wat deur besoekers geproe kan word  by ‘n reeks Alsassiese wyndorpies,  langs die 140 km lange Route du Vin, soos Ribeauville, Ammerschwir, St Oddile,  Kaiserberg ( geboorteplek van Albert Shweizer) , om maar net ‘n paar te noem.

 Die Féte des Vins word jaarliks  in Riquewir , ‘n  klein middeleeusedorpie aan die voetheuwels van die Vosges aangebied. Besoekers is dan ook sommer naby aan die bergroete Route des Cretes met sy wonderskone uitsig oor die wingerdland, soos by die suidelike Grand Ballon. Noordwaarts lê die Vosges nasionale park

No comments:

Post a Comment