Thursday, 28 July 2011

'n Toskaanse silhoeet


San Gimignano


Om daar uit te kom sonder ‘n motor, kos ‘n bietjie beplanning. Soos die geval met menige ander soortgelyke, afgeleë plekkies, is daar darem altyd ‘n busdiens of treinstasie in die nabyheid. ‘n Padkaart, en busskedules is voorvereistes en wees gewaarsku, ‘n mens kom nie sommer daarvandaan terug sonder inspanning, fyn tydsberekening en seer voete nie!

‘n Dorpie met die eienaardige naam van Poggibonsi, is die sleutel tot sukses as jy San Gimignano wil bereik. Dis die oorstap-stasietjie waar jy die op- en afklim van jou trein- en busvervoer moet sinkroniseer.

Jy word afgelaai by Piazzale Montemaggio net buite die dorpie. San Gimignano, wat uit die 12de en 13de eeu dateer , is natuurlik ommuur soos die geval van meeste middeleeuse vestings. ’n Mens stap deur Porta San Matteo  waarvandaan jy langs ‘n wye klipplaveisel-straat tydsaam opwandel na die sentrale plein by die duomo, wat die hart San Gimignano vorm. Onnodig om te noem, maar daar is geen motorverkeer in San Gimignano nie.

Op pad boontoe kan jy inloer by die martelmuseum, as jy met daardie grillerige (of weersinwekkende!) aspek van die middeleeuse tyd wil kennismaak, ‘n regte antieke toilet besoek, opstap en klim in een van die veertien torings wat vroeër statussimbole van welgestelde inwoners was, of verskeie gange, poorte, kelders en uitkykplekke besoek.

Langs die strate kom jy af op winkeltjies wat in wildevark-salami en ander verwerkte vorme van wildsvleis spesialiseer, olyfprodukte en plaaslike Vernaccia-witwyn verkoop, of pragtige antieke-styl porseleinpotte, tafels en borde uitstal. Leerware is wonder bo wonder hier heelwat goedkoper as in Florence.

Op die markpleintjie van Piazza della Cisterna kan jy o.a. yskoue skywe spanspek koop,  aan ‘n prosciutto-broodjie proe of lasagna al forno vars uit die oond bestel, en dalk ‘n slukkie water uit ‘n antieke fonteintjie drink . Jy leef jou in geestesoog in hoe dit eeue gelede moes gevoel het om ‘n inwoner hier te wees.

By die Fortezza , waarvandaan mens ‘n wye uitsig oor die lieflike Toskaanse landskap het, sit kunstenaars en musikante die tyd met hul unieke talente en verwyl.  In ‘n klein volgepakte boekwinkeltjie wat spesialiseer in sg. ‘onverkrygbare’  boeke, loop ek toe mos ‘n unieke kalender van my geboortejaar raak!

Flitsende weerlig en donker donderweer oor die Toskaanse landskap dra nogal baie bygedra tot die dramatiese atmosfeer van San Gimignano. My pieperige ou sambreeltjie word toe omgedop en opgeruk deur ‘n skielike rukwind en vlaag reën. Daar soek ons inderhaas skuiling in die ou kerk van Santa Maria Assunta en die Collegiata met sy pragtige fresko’s van Ou en Nuwe Testamentiese tonele.

Een Tutto-toegangskaartjie tot die stad se Museo Civico, die Torre Grossa-toring met sy 218-trappies en toeganklike ‘paleise’ , soos Palazzo del Podesta en Palazzo del Popolo kos 8 Euro per persoon.

No comments:

Post a Comment