Friday, 29 July 2011

Beiere

Mei-migrasies  na Duitsland - die Beierse Alperoete


Dis weer Mei. Ek ervaar elke jaar hierdie tyd opnuut die sindroom van nostalgie – onverklaarbaar, maar onafwendbaar. Daar’s afwagting op daardie spesifieke oomblik van tintelende inspirasie, die instinktiewe wéét - dis nou weer tyd:




Dan, op ’n Saterdagmiddag sprei ek my atlas, reisboeke, brosjures en kalender oop óm my - reg vir die raakvat. Ek klim as’t ware sommer binne-in die kaart in en versink in ‘n besondere deel van Europa - die Duits-Oostenrykse grensgebied, bekend as die Alperoete van Bo-Beiere, ’n mosaïek van sneeubedekte bergpieke, glansende mere en vallei-gehuggies.




My huidige paspoort het nog net een blanko bladsy vir die nodige Schengen-visum voordat dit in 2007 verval. Daar is egter twee spesiale verjaarsdae om te gaan vier - iewers langs ’n stil paadjie op ’n mooi plek. Twee miniatuur wielietjie-reistassies staan reeds afgestof en geëtiketteer  - gereed  op die bevel, soos wafferse voetsoldate!




Gesoute reisigers is dit mos eens dat die voorbereiding vir reis ’n groot deel van die lekkerte daarvan uitmaak. Wanneer die besluit eers geneem is, begin die huiswerk in alle erns: die Internet word geraadpleeg vir verblyf en vervoer, dokumente en administrasie word voorberei en afgehandel - om nie te praat van verskeie lysies, brille en pille, diere-versorging, doen-nog-dit-en-dat, en dies meer nie!




Elke vakansie kry mos eers ’n raamwerk – dis die ‘ideaal’. Later staan mens terug en kyk na alles wat werklik binne die raam geskilder is – dis die ‘werklikheid’. Sou dit ’n meesterstuk wees, of teleurstelings inhou?




Laat ons maar by die ‘ideaal’ begin: Waarom weer Duitsland? Miskien is die keuse toe te skryf aan die gawe Duitse gemütlichkeit, die liefde vir die taal wat Herr Anton Bürke op hoërskool by my gekweek het, of moontlik is dit iets in my bloed, oorgeërf van my groot-grootvader aan moederskant iewers uit oos-Duitsland afkomstig.(Hieroor wag ‘n stuk stamboom-navorsing nog later op my!)




Die vars Europese lente het sekerlik veel met die keuse van bestemming te doene gehad -  ’n 300 km-lang strook tussen die Chiemgau, Allgau en die Berchtesgadener-land wat ons in ‘n bestek van drie weke tydsaam en intiem wou verken. Tydens hierdie vakansietjie wou ons enige dringendheid van moet-en-moenie, onnodige haas en stres vermy; ons wou net luilekker ontspan (faulenzen, soos die Duitsers dit noem), ons verlustig aan die mooi omgewing, boot en kabelkar ry, koffie en bier drink, winkel-kyk en slegs uitsonderlike besienswaardighede besoek. Die absolute minimum in- en uitpak is beplan, derhalwe is slegs drie verblyfplekke uitgesoek.   




“Ruhpolding? Nog nooit van so’n plek gehoor nie! Wat gaan doen ‘n mens daar?”  -  dít  was gewoonlik die algemene  reaksie van ons vriende en kennisse wat vooraf belangstellend na ons planne verneem het. Dáár waar Duitsland suidelik so ’n tepeltjie uitsteek in Oostenryk, naby die bekende Berchtesgaden, sou ons ’n week-lank nesskop in die Ferienwohnung Knoglerhof  (60 Euro vir ‘n twee-slaapkamer vakansiehuis) van die gawe  Maier-boeregesin.




Soos die spinnekop sy webterrein span, wou ons daagliks vanaf Ruhpolding (wat hoofsaaklik vir sy sentrale ligging uitgesoek is) in ’n radius van 100 km  rondbeweeg en verken. Op ons lys vir die week was dagbesoekies aan die Königsee, Bad Reichenhall-spa, die Chiemsee-eilandjies en moontlik die mooi Salzkammergut.




Ooswaarts sou ons verder aan beweeg, verby die meergebiede van die Tegern, Kochel en Walchen tot by ons volgende web, die Alpspitzblick-vakansiehuis in Farchant, ’n ander klein dorpie net buite die Garmisch-Partenkirchen tweeling-gemeenskappies geleë. Farchant is uitgesoek weens sy ligging en toeganklikheid - naby Oberammergau van Passiespele-faam, Füssen met sy koning Ludwig II-feëkastele, die hoogste Zugspitz-piek, Mittenwald met sy geskiedenis van die viool-bedryf, sleg ‘n hanetree van die Oostenrykse Tirool.




By nabetragting tuis kry mens mos perspektief op die afgelope vakansie in die geheel gesien - die genotvolheid en flinkheid daarvan, tesame met nerf-af skaafplekkies hier en daar.




“ En hoe het alles toe werklik verloop? Was dit wat julle verwag het?”




Laat ons maar  gou eers die bietjie slegte nuus  afhandel  ( daarvoor het ek sommer  2 uit 10 afgetrek!), naamlik die onvoorspelbare, wisselvallige lenteweer wat ons onverhoeds bekruip het. Sneeu in die somer, sowaar! Twee weke lank was dit elke dag ‘n bruilof van ‘jakkals trou met wolf se vrou’(Affenhochzeit); die konfetti wat tussen die sonstraaltjies deurgesif het, was dikwels ysreën of sneeuvlokkies. Soms het die kwik tot ‘n bytende vriespunt gedaal. Op al die foto’s verskyn ons in dieselfde klere, laag op laag ,oor en oor! Hierdie teleurstelling moes egter in ‘n positiewe lig benader word en ons het selfvertroostend  daarna verwys as ons ‘topaas’-dae, loodgrys maar lieflik!




Die padvaste Mercedes  Benz A 180 van Avis was baie lig op diesel en het hom goed van sy taak gekwyt op gladde paaie en teen steil bergpaaie. Ons wou ten alle koste die vinnige




Autobane vermy en het  slegs sekondêre roetes uitgesoek - ook maar goed so - want oral was daar aanduidings van ellelange verkeersopeenhopings, of stau, wat ure se vertragings en gepaardgaande frustrasie meebring !




Die Ferienstrasse (vakansieroete) lei suidwaarts verby die ou stad Wasserburg wat in die omhelsing van die Inn-rivier lê. ‘n Lekker sappige brathendl  is op ‘n stil rusplekkie langs die pad geniet ; teen laatmiddag het ons ons eerste nesskopplek, Ruhpolding, sonder slag of stoot bereik. Lekker tuisgebakte butterkuchen  by die plaashuis Knglerhof het op ons gewag  - ‘n  gasvrye verwelkomingsgebaar vir “ unsere Gäste aus Kapstadt!”. Ons het ons skoene uitgeskop vir ‘n middagslapie ná die lang vlug en rit. Later sou ons wel uitgerus genoeg wees om die vriendelike Maier-gesin beter te leer ken , die plaaswerf-omgewing aan die voet van die Rauschberg te ondersoek, en ons gasheer en sy vrou met ‘n duisend vrae te peper.




Ons verblyf was goed gevarieer – die eerste vyf dae sou ons by hierdie gawe boereplaas-cum-gastehuis oornag (nogal met aangrensende koeistal!), vir twee dae aan die oewer van Tegernsee was ons kamers bokant die Lengmüller Cafe Konditorei en in Farchant het ons ‘n week lank tuisgegaan in ‘n goed-toegeruste en gerieflike vakansiehuis aan die buitewyke van die dorpie.




Vir elke dag was daar ‘n vooraf-beplande uitstappie. Die Berchtesgadenerland is ‘n idilliese landskap van kristalskoon mere en bergpieke, alombekend vir Hitler se hoogliggende ‘Arendsnes’, of Kehlsteinhaus, in die Watzman-berge.  Deesdae is daar ‘n o.a. restaurant  ingerig . Die Obersalzburg-museum bevat ‘n visuele rekonstruksie van die Hitler-regime se ondergrondse bunkerlewe, ens. Hier van bo-af was die Watzman ‘familie-pieke’ duidelik onderskeibaar. In ‘n vriendelike oop kerkie, 1781m hoog, word daar Sondae in somertyd glo nog  gereeld bergdiens gehou!




‘n Besliste prioriteit vir ons was die bootrit op die asemrowende diepblou Königsee. Terwyl die meerboot geruisloos oor die stil water gly na die rooi koepelkapel van St Bartholomeu, tot by die Eiskapelle, ‘n oorhangende gletserkoepel, kan passasiers luister na die weerklank van ‘n flügelhorn blaasinstrument wat duidelik terugklank teen die hoë ravynwande.Besoekers kry ook die geleentheid om heerlike (peperuur!) forel-spesialiteite op die spyskaart uit te soek.




By Prien am Chiemsee aangekom,  het ons oorgestap op die stoomtreintjie na Stock waar ons aan boord van die Chiemsee Schiffahrt se veerboot ‘n retoervaart kon onderneem tussen die twee geliefkoosde eilandjies van Ludwig II - die Herreninsel met sy ‘halfklaar’ Versailles-immitasie (Schloss Herrenchiemsee) en die naburige Fraueninsel met die pragtige wit Benediktynse Frauenwörth nonneklooster, ‘n goed-versorgde begraafplaas en tuine.




Ons Alperoete verder weswaarts in die rigting van Tatzelwurm het gekronkel deur digte groen woude; op sonnige dae was die blarekoepel met goud verglans en op reëndae was dit in die misterie van mistigheid gehul.  Dit was nou sowaar Hansel en Gretel se wêreld! Orals was die sneeu aan’t smelt; watervalletjies het berg-af getuimel om bruisende bergstrome te vorm, en dié weer het op hul beurt saamgevloei in albastergroen riviere. Vanaf hoë uitkykplekke langs bergpasse, kon ons afkyk op diepliggende dorpies, soos Bayerischen Zell, Zirl en Ettal, lieflike Lilliputwêreld!




Orals langs die pad, op die onbegaanbaarste plekke, het ons energieke stappers met wandelstokke  en veteraan fietsryers teëgekom wat die fris berglug en lieflike woudnatuur wou geniet, die reën ten spyt!




Klein opstalletjies rys sommer uit die groen lenteveld uit soos paddastoele, elkeen met ‘n netjies-gepakte houtstapel, watertrog, koeistal en baalstoortjies. Eienaardig genoeg was daar feitlik geen boere of arbeiders op die lande te sien nie, ook geen implemente behalwe sny- en baalmasjiene nie. Lekker vet koeie en skape het dikgevreet aan blommekos, halflyf in die malse gras verdwyn.




Die  bekoring van die  Bo-Beierse dorpies lê in hul individualiteit en ongekunsteldheid - plekkies soos Ruhpolding, Mittenwald, Oberammergau, Reit im Winkl, St Wolfgang - om maar enkeles langs ons roete te noem - het elkeen sy eie sjarme, ambience, karakter en unieke ligging, hoog teen ‘n berghang, diep onder in ‘n vallei, aan die oewer van ‘n meer, of in ‘n digte woud versteek. Sprokieland!




Algemene eienskappe is egter die besondere kunstige muurbeskildering (Luftmälerei), die alomteenwoordige Mei-pale met ‘n geskiedkundige tafereeltjie aangebring op elke dwarssport, houtgekerfde balkonne met bakke vol kleurvolle malvas, die tradisionele tragt kleredrag, cafe und konditorei. Houtsneewerk uit die kontrei, asook die heimat-handwerk was baie begeerlik , maar  loerkoop was vir ons genoeg.




Bier (Zum Wohl!), bretzel , ham in enige denkbare vorm, kartoffelpuffers, sauerkraut en soetgebak- koekerasies is die stapelvoedsel van Beiere. Die lieflike vet skape en koeie op die groen weivelde word seker net aangehou vir melk, kaas en wol, want ‘n lekker skaaptjoppie of stukkie steak was so skaars en onverkrygbaar soos die spreekwoordelike hoendertande! Dit was egter aspersie-tyd en geurige spargel-geregte word op enige denkbare manier voorberei - op brood, sop, in souttert, as garnering by hoender en ham, en dies meer. Van die onweerstaanbare soetgebak, soos erdbeertorte en apfelkuchen moes ons daagliks ook ons rantsoen kry!




Verder weswaarts is ons verby die mooi plattelandse meergebiede van die Tegern, Kochel en Walchen na Garmisch Partenkirchen. Hierdie ‘siamese’ tweelingdorpies lê genestel in die Loisach-vallei aan die voet van die hoogste berg  in die Duitse Alpe, die Zugspitze. 




In hierdie geweste het ons tuisgegaan by ‘n rustige,  piepklein dorpie, Farchant, waar ons vyfster-vakansiehuisie aan die rand van die dorpie geleë was. Ai, die lentevelde van Europa! Dit het my laat gryp na Annette Kast-Riedlinger se gediggie uit haar digbundel, Hautnah ist noch zu fern, wat ek kortliks en gedeeltelik aanhaal  in maklik-verstaanbare, eenvoudige Duits:




Blumen Pflücken




mit dir
möcht’ ich
Schlüsselblumen pflücken
und Veilchen
Kornblumen
und Klatschmohn
ja, und Vergissmeinnicht




Füssen, in die suidelike Beierse Alpe,  is die  beginpunt van die Romantische Strasse en  verleen toegang aan die ‘Koninklike driehoek’ van  Neuschwanstein, Hohenschwangau en Linderhof - unieke storieboek-paleise waar Ludwig II se weelderige uitspattigheid en onmiskenbare obsessie met Wagner en die Franse koningshuis van Louis XIV duidelik merkbaar is. Altstadt Füssen self spog met ‘n interessante vioolmuseum, barokkloosters,  abdye en ‘n gesellige winkel-wandellaan.




Gelukkig kon ons ‘n tydsame 5 Euro-perdekar naderwink vir die steil opdraandpad na die Marienbrücke oor die Pöllat-ravyn, die mooiste uitkykplek oor Neuschwanstein en Hohenschwangau, die twee hoogliggende ‘feëkastele’. By nadere ondersoek kon ons onsself net vergaap aan die weelde van die koepel-troonsaal, sangkamer met Wagner-atmosfeer, die kroonlugters van kristal en die allermooiste mosaïek-marmervloere. Hohenschwangau ondergaan tans restourasie en  is vir besoekers ontoeganklik.




Linderhof-paleis daarenteen, in dieselfde omgewing, maar diep in die woud versteek,  is miskien makliker toeganklik en rustiger. Buite bekoor die terrastuine, spuitfonteine en vywers en binne staan mens net verstom in die manjifieke Spieëlsaal en ander ryklik-versierde staatskamers.




Hoewel die impak van die oordaad in Ludwig II se vier  Beierse paleise oorweldigend is, kan ek my algemene indrukke daarvan in ‘n neutedop saamvat: vergulde ricoco en barok versierings en beelde, delikate Meissen en Sevres-porselein van onskatbare waarde, kunstige parquet-houtinlegvloere, enorme spieëls en skilderye, glinsterende kristal kroonlugters, handgeweefde Vlaamse muurbehangsels, en die alomteenwoordige swaan en pou embleme. Spuitfonteine en simmetrie van tuin-uitleg  herinner mens ook sterk aan die koninklike Europese paleise, Versailles en Schönbrunn. Beslis indrukwekkend, maar oorweldigend..




Iets waaroor ons steeds wonder, is hoe op dees aarde al die swaar marmerpilare, spieëls, kunswerke en skatte, asook ander geweldig baie boumateriaal, destyds sonder moderne tegnologie en masjinerie, die steil opdraandes berg-op vervoer kon gewees het.




‘Mal’ Koning Ludwig? Nooit as te nimmer nie! Hy het reggekry (teen ‘n ontsaglike prys natuurlik!) wat ons teenswoordige bouers  en slim argitekte seker nie in hul wildste drome sal aanpak of  sal kan namaak nie.




Vir  nog ‘n klein dosis kultuur het ons gaan inloer by die Wêrelderfenis Wieskirche wat eenkant afgesonderd op ‘n oop groen veld staan, asook Ettal se barokklooster,  waar ons beïndruk was met die tegniek van die skilderkuns aan die koepelplafonne, die fyn houtgekerfde altare en preekstoele, ‘n reeks magnifiek-vergulde orrelpype, skilderye en beelde van engele, madonnas , ander heiliges, en die intieme toegedrapeerde belydenis-hokkies. Daarbenewens kom mens sterk onder die indruk van die  aanvoelbare eerbied en piëteit; Protestant of te nie, jy voel die drang om ‘n kersie te koop en aan te steek vir iemand daar vér, iéwers.................. 




Naby Innsbruck, oorgrens in die Oostenrykse Tirool, lê die Swarovski-kristalaanleg Kristalwelten. Hier is ons verrassend verwelkom deur ‘n legendariese liggende Reus (eintlik ‘n kreatiewe mensgemaakte heuwel) uit wie se oop bek ‘n sterk bruisende waterval stroom. Saam met fonteine wat oorkruis spuit, vorm dit ‘n reeks pragtige reenboë. Twee glinsterende geel kristal-oë hipnotiseer jou – jy voel ‘n drang om nader te tree en ondersoek te gaan instel in sy donker grot-ingewande om te sien watter aanloklikhede hy vir jou verberg!




Binne-in betree jy ‘n reeks pikdonker kamers waar allerlei  uitgestalde kristalkunswerke verblindend skitter. Onder ‘n massiewe spieëlkoepel word elke beweging meer as ‘n duisend keer gereflekteer, glasgange word verhelder met kristalweerkaatsings,  teen die vloer en mure verskyn vloeiende ‘droomskrif’ en dansende fantasiefigure. Dit is ‘n kaleidoskoop van lig, klank en kleur wat jou sintuie tot die uiterste beproef. Jy staan suf en oorbluf , maar net voordat jy ‘n flikkerende migraine-aanval wil kry, word jy beloon met ontvlugting na die helder oop vertoonlokaal van Swarovski-kristal . Jy  waag dit weer om asem te haal! Willoos en weerloos maak jy jou beursie maar oop vir ‘n piepklein kristalletjie.Vir die mooiste kristal sal jy  egter die hoogste  prys moet betaal !




Wat die weer betref, het die hoop egter nie beskaam nie! Met die eerste verskyning van ‘n handvol sonstrale na dae lank se reënweer, het ons die helder dag spreekwoordelik  gegryp. Die sneeuwit reeks pieke het afgeëts gelê teen die vars blou lug. Letterlik en figuurlik gesproke sou die bestyging van die Zugspitze en Alpspitze gedurende hierdie laaste paar dae die hoogtepunt van ons Alpe-vakansie wees.




Per rattreintjie is ons vanaf Garmisch na die Eibsee, deur ‘n 4 km lang uitgeholde tonnel in die bergwand, toe laastens per kabelgondel bo-oor die hoogste boomtoppe en berg-voetslaanpaadjies (waar houtgekerfde diertjies as wegwysers aangebring is), die steilte uit tot by die Gipfel. ‘n Mens kan op ‘n helder dag ver oor die grense van vier lande kyk - Switzerland, Duitsland, Oostenryk en Italië. Ons het diep spore in die 15 cm dik sneeu getrap om foto’s bo van die kruin te kon neem. Warm sjokoladedrankies het die ysige koue van benede vriespunt gou uit ons lywe verdryf.




Toe op ‘n helder dag  moes ek ‘n variasie  op ‘n ou wysie neurie -“ ek groet vir laas my sneeuwit berge.....”  Die tyd het aangebreek om weer soos die swaels suidwaarts terug te keer na warmer tuistes.




Somervaart na Sicilie

Somervaart na Sicilië en Sardinië   

Advertensies van luukse passasierskepe in die Middellandse See lyk altyd so aanloklik, maar teen minstens R1000 per dag per persoon, bo en behalwe die vliegkaartjie en koste van daguitstappies in elke hawe, is dit heelwaarskynlik buite bereik vir die mens met 'n groot reislus, maar 'n gemiddelde inkomste. Die alternatief is 'n doen-dit-self veerbootvakansie wat jou in elk geval meer vryheid sal bied.

Wat dan van die bekoorlike, maar minder bekende eilande, Sardinië en Sicilië, op die Tirreense drumpel van Italië? Besluit op die seisoen wat jou pas en bespreek jou vlug na Milaan of Rome. Sorg self vir 'n geldige paspoort en die vereiste Schengen-visum wat van die Italiaanse konsulaat in Kaapstad verkry kan word. Behalwe 'n reisboek en kaart van hierdie twee Italiaanse eilande, het jy slegs 'n kajuitgroot-reistassie, genoeg Euro's, 'n avontuurlus en sin vir humor nodig.



Twee ideale afspringplekke is Genoa of Rome, eersgenoemde omdat dit per trein vanaf Milaan ('n SAL-bestemming) bereikbaar is vir die veerboot na Porto Torres in die noorde van Sardinië, of tweedens, vanaf Rome per trein of veerboot na Sicilië. Daar is orals gesinkroniseerde vervoer:busse, treine en veerbote. Jy moet net die vrymoedigheid aan die dag lê om by 'n toeriste-kantoor te gaan vra  -  almal verstaan darem Engels in minder of meerdere mate!

Ons kies laasgenoemde bloot omdat dit kloksgewys 'n sirkelroete volg.

'n Sirkelroete kan maklik en gerieflik binne bestek van drie weke met 'n 'drie-sprong' gevolg word. Vanaf  Stazione Termini in Rome neem jy 'n trein suid na Napels se hoofstasie Napoli Centrale, klim oor op die sylyn Circumvesuviana na Sorrento, jou eerste bestemming.

Bly 'n paar dae lank in bekostigbare verblyf van jou keuse naby die stasie en busdepot. Dit gee jou die geleentheid om die Sorrentynse skiereiland se asemrowende Amalfi-kuspad per plaaslike bus te verken, die nabye eilande Capri en Ischia per hydrofoil te besoek en die interessante Sorrento-dorp deeglik te leer ken - dis mos jóu Italian Holiday! Pompeii en Vesuvius is ook bereikbaar hiervandaan.

Terug na Napels vir die aansluitingstreinrit waar jy op 'n sneltrein suidwaarts sal reis, al langs die stewel van Italie af, tot by Villa San Giovanni  om die veerboot oor die Straat van Messina te haal. 'n Halfuur verder suid per trein vanaf Messina, lê Taormina  (die klem op die -'mi), jou  tweede besondere bestemming aan die voet van die vuurspuwende berg Etna. Taormina is Sicilië se spog-kusoord wat bekendheid verwerf het weens sy besondere Siciliaanse ambience en landskapskone ligging, welige  Mediterreense plantegroei (selons, bougainvilla,amandel en olyf ) , antieke Griekse teater, pragtige marmer palazzi en kerke, wit strande en versteekte inhamme.

Nadat 'n mens afgestap het by Taormina Giardini-stasie kan  jy 'n paar dae iewers sentraal naby die hoofstraat Corso Umberto of in die nabygeleë oord van Giardini-Naxos tuisgaan, na willekeur  op strande rondluier of per bus en boot rondjakker. 'n  Unieke belewenis is 'n besoek aan die Etna-krater wat per bussie moontlik gemaak word.

Die volgende interessante been is vanaf Messina per trein na Palermo vir die veerbootrit na die hoofstad en hawe, Cagliari , aan die suidpunt van Sardinië, die tweede grootste eiland van Italië. Hier kan 'n dag deurgebring word in die Castello, die ou middeleeuse stadkern  met sy interessante (gratis!) argeologiese museum , voordat jy weer op die trein spring noordwaarts. Die Costa Smeralda aan die noordooskus sal jou derde bestemming wees vir 'n week se ontspanning en uitstappies, bv. na die  pragtige Maddalena-eilande.’n Groot verskeidenheid verblyf is beskikbaar, maar jy sal tog ongesiens kan skouer skuur teen rykes en "celebrities" wat ook by hul geliefkoosde speelplek uithang!



Weswaarts via Sassari, lê Alghero met sy eg-Katalaanse (nogal Spaanse!) karakter, ook per bus of trein bereikbaar en waarvandaan jy 'n bootritjie na die pragtige seegrot-formasies, Grotto di Nettuno, kan onderneem. Beide dorpe is bekend vir hul uitstekende seekos-eetplekkies.

Wanneer die terugtog huistoe aangepak moet word, staan jy weer voor 'n keuse: vanaf die noordelike Porto Torres-hawe is dit per Tirrenia-veerboot terug na Genoa vir eindpunt Milaan, of vanaf die oostelike Golfo Aranci-hawe na Civitavecchia-hawe en Rome se Termini-stasie .Daar is daagliks verskeie veerbote heen en weer.

Knapsakreisigers kan die toeristekantoor op stasies raadpleeg vir verblyf wat hul sak sal pas, verkieslik naby die busdepot of stasie  indien jy nie bereid is om ‘n motor te huur nie. 'n 4-dag Trenitalia-treinpas is voldoende vir die nodige treinritte (vanaf Rome suid en noordwaarts deur Sardiniê) en is vooraf verkrygbaar by World Travel, Kaapstad : www.worldtravel.co.za. Dit  is ook vir die veerboot terug na Civitavecchia geldig. Vir fynere beplanning kan veerbootskedules vooraf van Internet-webwerwe afgelaai word.

Slaan jou kaart van Italië vandag nog oop en begin huiswerk doen oor jou droom-eiland vakansie in 2012!



Lekker reis!

 

                        

 

 

        


Skandinawiese smorgasbord

Smorgasbord

Hier op my bord lê my hartsindrukke - 'n haring-southappie uit Denemarke, 'n  salm-en-roomkaasbroodjie uit Swede en 'n hele mondvol peperduur kaviaar uit Noorweë. Kom proe gerus saam! Wanneer 'n mens reisherinneringe oproep, sif jou brein mos die koring van die kaf en lê die beste 'happies' voor. In 'n smorgasbord saamgevat, is die noorderlande van Skandinawië bekend vir manjifieke fjords, ysblou gletsers , diep ravyne, woudland en mere. 


Individueel het hierdie drie Vikinglande egter elk sy eie karakter, kultuur en bekoring.'n Reisgids kan 'n toer maak of breek. Gelukkig was Monica van Insight se veertiendaagse Fjordland-toer, intelligent, en belese,  en haar kommentaar oor koningshuise,  Nobelverrigtinge , feestelikhede en wintersport, humoristies en omvattend.  Anderhelfte, Hans, is my reismaat en geesgenoot. Ons verskil in temperament, maar deel 'n reispassie wat skrik vir niks!


Elke reis is 'n 'harts-tog' vir ons - vérreikend, verrykend, vernuwend , verslawend  -  immer onvoltooid. Horisonne verskuif mos hoe verder jy reis. Ons twee jeukvoetiges reis lig, loshande en met ontvanklike harte; ons maak maklik vriende met mede-reisigers, vele met wie ons steeds oor kontinente heen elektronies korrespondeer.


Ek skerts tong-in-die-kies dat ons nie duur Persiese tapyte, of silwer eetgerei besit nie omdat ons belê in vliegkaartjies Europa toe. Skandinawië was nog altyd buite ons bereik omdat dit so peperduur is en die taal onverstaanbaar, maar met komplimentêre vliegkaartjies in die hand, kon ons die atlas en paspoorte nadertrek.
" daar's 'n storie
tydgestol
in amber ,warm teen my wang;
in misterie van harpuis 
lê my hunkering ook vasgevang"


Skandinawië is by uitstek Storieland - uit lang wintersnagte in hierdie noorderlande is stories gebore wat deur oorvertelling eeue lank bly voortleef het  -  sprokies van Hans Andersen,  Viking-sagas, Kontiki-reise, Trol-legendes. En ek is in wese mos maar Storiekind.

Dit is Mei , laatlente in Denemarke, bakermat van sprokiesverteller Hans Christian Andersen. Ons toergroep kom bymekaar by Saga-hotel (gepas vernoem na 'n verhaal van Skandinawiese oorsprong), loopafstand van die hart van Kopenhagen. "Skål"! Carlsberg-bierglase klink oor 'n gesellige kenmekaar-tafel in Tivoli-ontspanningspark. Buitelug-orkeste lui die somer vrolik in.

Ons kuddetjie toeriste loerkoop onder sambrele langs Strøget, die keisteenwandelstraat tussen ou stadspleine met blommeverkopers en vryskut-kunstenaars wat om aalmoese bie. Begeerlike Royal Copenhagen-porselein en Georg Jensen -eetgerei is peperduur! Hans bederf my egter goedgunstiglik met 'n unieke stukkie amber vir ons huweliksherdenking! In die gomsteen is 'n blaartjie gefossileer.

Vanaf Nyhavn-kanaal met waterkantkroegies, tatoeëer-boetieks, en ‘sardientjie’-houtwonings, onderneem ons 'n kanaalbootrit. Die kaptein van Fyrskib-boot wink Hans nader om te kom stuur. Hy’s heel in sy skik, bootmanskeps en al! Ons vaar onderdeur brûe, verby ou Deense geboue en kerke van historiese belang op Christianshavn, die Slottsholmen- seremoniële kaai, en Gamla Stan-vismark. Eriksen se Lille Havfrue-meerminbeeldjie op Langelinie-kaai (opgerig ter ere van Andersen) is die nie-amptelike landmerk van Kopenhagen en het glo al tweekeer letterlik kopverloor!

Ons Kopenhagen-besigtigingstoer sluit besoeke in aan koninklike paleise  - Christiansborg, Rosenborg en Amalienborg van Koningin Margrethe II van Glücksborg. By aanskoue van die  kroonjuwele, kristal , porselein, en ameublement hang ons monde oop. Soveel luuksheid darem? Sonde!      

My hartewens word bewaarheid by Odense waar ons die museumhuisie van storieman Hans Andersen kan besigtig! Ek word weer storiekind tussen ou manuskripte , tekeninge, papierknippatrone en kinderboeke.  Na ‘n besoek aan die opelug-museumdorpie, Den Fynske Landsby, met eenvoudige plaashuisies in tipies-Deense stabbur-boustyl, stem ons saam dat dit beslis swaarkrydae moes gewees het sonder sonskyn of elektrisiteit.

'n Entjie verder kry 'n paar fikses onder die ons die geleentheid om een van die antieke Viking-grafheuwels te beklim.

In dié wonderwêreldjie van Legoland eien mens internasionaal-bekende geboue en landmerke. Soos Gulliver deur Lilliput stap ek reusetreë deur miniatuur weergawes van herkenbare landmerke in Wes-Europa, Midde-Ooste, en Amerika - alles aanmekaargesit met oulike agtknoppie-boublokkies wat netjies inmekaarpas. Oupa Hans soek 'n stelletjie uit vir Kleinman Pierre.

Monica  gesels onderhoudend oor die 1000 jaar-oue Viking-handelspad. By Frederikshavn aangekom , kies Hans koers hawebedrywighede toe, terwyl ek my reisdagboek opdateer. Ons oornag in Jutlandia-hawehotel alvorens ons met die Carisma-veerboot oor Kattegat na Gothenburg in Swede vaar.
                                                                  
Ons bring 'n gesellige oggend deur tussen kleurvolle bote en vrypostige seevoëls langs die seefront van die hawestad Gothenburg. Op die onthaal-dekruimte van 'n ou vasgemeerde boot  kry ons smorgasbord van krap-, paling-, en haring-happies, op aptytwekkende oopbroodjies. Heerlik!"Sverige, lagom" – Ja, Swede is ‘okei’.

Die roete binneland toe vleg verby mere, fluweelgroen landbouvelde en houtplaashuise (tradisioneel Falun-rooi met wit omraamde vensters), elk met appelbome, bessiebosse en tulptuintjies. Die manne sien industrieë raak: Ericssons, Volvo, Saab en Husqvarna en tel die saagmeulens en vuurhoutjie-fabrieke. Die meerdorpie Grenna, is sentrum vir die polkagris kokerij waar ons dames belangstellend toekyk hoe veelkleurige pepermentstafies behendig gekleur, gerol, geknip word. Netjies toegedraai in glanspapier, is dit 'n spesiale geskenkie vir iemand tuis.

Die serene stad Stockholm staan bekend as 'die stad tussen brûe', of  'drywende stad'. Hierdie idilliese stadsomgewing beslaan 'n argipel kudde-eilandjies, waterweë en bruggies.

Die 'oustad' Gamla Stan op Riddarsholm-eiland, het sy middeleeuse atmosfeer behou, deels weens die afwesigheid van voertuie, andersyds weens die trots van die Swede op hul erfenis. Vir my (met moeilike voete!) is Stockholm  darem stapbaar ; besienswaardighede is nabymekaar, soos die Kungsträdgärden met spuitfonteine, en die Stockholm-katedraal met sy uitmuntende houtgekerfde altaar. 'n Absolute hoogtepunt vir  ons is die beroemde 'Goue Saal'  in Stadshuset waar luisterryke Nobelprys-seremonies voltrek word. Historiese frescoes teen die mure is uitgelê in derduisende goudkleurige mosaïek-teëltjies. Kameras mag nie hier flits nie!

Nêrens word die Viking-geskiedenis en skeepsboukundigheid so besonderlik geïllustreer as in Vasa-museum nie. Die manne vind dit fassinerend, maar vir my is alles te oorweldigend. Hierdie massiewe museum bevat die gebergte oorlogskip wat drie eeue lank onderwater versteek gelê het. Na jarelange se berging-prosedures en restourasie, word hierdie opgeknapte skip saam met allerlei interessante skeepsgebruiksartikels in die temperatuur- en vogtigheidsbeheerde museum uitgestal.

Langs die pad lig Monica ons in oor Uppsala se historiese kroningskatedraal. Ou  boomstomp-kerkskatkiste, hout-kerkkloktorings, antieke 'kerkbote', "May-poles" vir lentefeesvieringe, kürbitz-geverfde voordeure, identifiserende figuurtjies van klip op skoorstene,  maak unieke foto's vir my reisalbum!

Nusnäs is bekend vir handgekerfde Dalahäste-houtperdjies, by internasionale handelsuitstallings gebruik as simbool van Swede. Hans kiek my bo-op die ‘Reuseperd van Dalärna’! (Hierdie foto pryk later op die buiteblad-collage van my reisjoernaal.)

'n Glasie bloubessiesap verwelkom ons by die Noorse grens - die ys is gebreek en toerlede gesels 'n 'takbok-uit-‘n-bos'!                                                                
Die koel somertemperatuur en lang dae is bewys dat ons naby die arktiese sirkel is. Hoog in die berge lê die sneeu nog dik en teen die hange vorm smeltende sneeu nat sebrastrepe.  Ek lyk soos 'n regte trol-dwergvrouthie teen die hoë wal sneeu langs die bus! Só verblindend-helder weerkaats die son, dat ons gou donkerbrille opdiep!

Fjordland is 'n asemrowende gebied van gletsers en tuimelende watervalle uit die hoë sneeubedekte granietgesteentes. Ver onder in skeurvalleie lê die pragtige fjordinhamme. Ek haal aan oor die Noorweegse fjordland: "No amount of anticipation and no photographs can ever prepare the traveler for the real thing!" Dit is inderdaad so - die stilte en dramatiese natuurskoon laat 'n mens stil én stom. Hans wikkel sy arm om my lyf....

Hoog bo by Flydalsjuvet-uitkykpunt hou die busbestuurder stil sodat ons die asemrowende skoonheid van die Geiranger-fjord en sy oewerdorpie kan inneem. Die son loer uit - ons vat hande met die Skepper - hoe kan ons anders as om ons seëninge te tel! 'n Veerbootrit oor die spieëlgladde fjord sluit 'n fantastiese dag af.

Hout-berghutte, die Sewe Susters-waterval, mooi wit passasiersbote wat geruisloos die water verbygly, en fantastiese weerkaatsings op die rimpelvrye watervlak, dra alles daartoe by om hierdie dag onvergeetlik te maak. In valleie ry ons deur woude bergvarings, bosse wit kantblomme tussen pienk en pers lupine,  verby takbokhorings bo-aan plaasvoordeure, salm-teelplase met  winter-fiskehütte, weidende bergbokke met klokke en mooi stewiggeboude, geelbruin fjordperde.

Bergen,  in ou Hansa-vissershawe met Wêrelderfenisstatus  is strategies geleë op 'n skiereiland aan die voet van sewe heuwels. In gerestoureerde, antieke hout-handelshuise word boetieks, kunsgalerye en klein museums bedryf. Hans kies koers na die ou Torget-vismark met sy verskeidenheid seekos,  terwyl die winkels vir my wink. Pragtige  takbokvel-pantoffels trek my aandag. Ander begeerlike ware is mooi pewter en silwer eetgerei met tradisionele Viking-motiewe. Ek soek 'n spesiale Nordstrikk-woltrui uit in rooi-grys-wit.

Die Trolstigen-haarnaaldpad en steil Flämsbana-treinspoor, al langs die fjords en deur vele bergtonnels, is vir almal  wonderlike belewenisse. Aan die voet van Twinvoss-dubbelwaterval  gaan skep Hans  vir my van die 'verjongende water' - die hoop beskaam mos nooit vir "Lank sal ons lewe!"

Oslo is ons laaste bestemming - 'n moderne 'kleinstad' met voetgangersones, parke en paleise. Die spognaam, "Stad van Goud", verwys trots na talle goue medaljes wat deur kranige Noorweërs by Olimpiese Winterspele verower word.

Hans is  be
ïndruk met die mooi hawegebied en seiljagmarina met Norge, die koninklike jag; ek  is meer ingestel op die goedversorgde tuine en ambassadeurswonings,  asook die Aula-saal waar die Nobelprys vir Vrede jaarliks toegeken word aan verdienstelikes.
Die kersie op ons Skandinawiese koek is Vigelandpark, bekend vir die lewenswerk van die Rodin-geïnspireerde beeldhouer, Gustav Vigeland, wat die lewensiklus en -fases van die mens in honderde naak-beeldhouwerke van graniet en brons weergegee het. 'n Besoek aan hierdie indrukwekkende 'lewensmonument'  was emosioneel absoluut 'n hoogtepunt. Rug aan rug (darem mét klere aan) sit ons en pose vir 'n herdenkingsfoto!

Van die maritieme museumkompleks op Bygdöy-skiereiland kon ons ons nie wegskeur nie .'n Uur se besigtigingstyd is beslis te kort vir die Kontiki-museum met Thor Heyerdahl se outydse balsabote. Drie goedbewaarde Viking 'grafskepe' met gebruiksartikels vir belangrike of welvarende mense van weleer, toegepak met lae turf, en so bewaar vir die lang 'slaap van eeue', is netso interessant. Die Norsk Folkenmuseum vertoon Noorse husflieden, Laplandse Sami-kultuurartikels en veelkleurig-geborduurde volksdrag-kostuums. Vir oulaas skaf ek 'n paar bekostigbare aandenkings aan.

Wat ons oor die algemeen van Skandinawie beïndruk het, was die mense se netheid en flinkheid, hoë lewenstandaard en welvaart,
die gesinkroniseerde publieke vervoer, goeie paaie, goedversordge kerkhoffies en afwesigheid van rommel en misdaadbedreiging. 

"Jag ärs glad när solen skinen" –  ons is darem ook dankbaar vir sonskynweer hier in die koue Noorde!

Ten slotte dan, ons reisfilosofie : Reis hou die romantiek van ontvlugting in, die ontdekking van dit wat ánders is, ontmoeting van vreemdeling-vriende, en ingesteldheid op alles wat sintuiglik waardeer kan word.

'n Skandinawiese smorgasbord" daar's 'n storie
tydgestol
in amber ,warm teen my wang;
in misterie van harpuis 
lê my hunkering ook vasgevang"


Skandinawië is by uitstek Storieland - uit lang wintersnagte in hierdie noorderlande is stories gebore wat deur oorvertelling eeue lank bly voortleef het  -  sprokies van Hans Andersen,  Viking-sagas, Kontiki-reise, Trol-legendes. En ek is in wese mos maar Storiekind.
Ek skerts tong-in-die-kies dat ons nie duur Persiese tapyte, of silwer eetgerei besit nie omdat ons belê in vliegkaartjies Europa toe. Skandinawië was nog altyd buite ons bereik omdat dit so peperduur is en die taal onverstaanbaar, maar met komplimentêre vliegkaartjies in die hand, kon ons die atlas en paspoorte nadertrek.
Anderhelfte, Hans, is my reismaat en geesgenoot. Ons verskil in temperament, maar deel 'n reispassie wat skrik vir niks! Elke reis is 'n 'harts-tog' vir ons - vérreikend, verrykend, vernuwend , verslawend  -  immer onvoltooid. Horisonne verskuif mos hoe verder jy reis. Ons twee jeukvoetiges reis lig, loshande en met ontvanklike harte! Ons maak maklik vriende met mede-reisigers, vele met wie ons steeds oor kontinente heen elektronies korrespondeer.



Dit is Mei , laatlente in Denemarke, bakermat van sprokiesverteller Hans Christian Andersen. Ons toergroep kom bymekaar by Saga-hotel (gepas vernoem na 'n verhaal van Skandinawiese oorsprong), loopafstand van die hart van Kopenhagen. "Skål"! Carlsberg-bierglase klink oor 'n gesellige kenmekaar-tafel in Tivoli-ontspanningspark. Buitelug-orkeste lui die somer vrolik in.

Ons kuddetjie toeriste loerkoop onder sambrele langs Strøget, die keisteenwandelstraat tussen ou stadspleine met blommeverkopers en vryskut-kunstenaars wat om aalmoese bie. Begeerlike Royal Copenhagen-porselein en Georg Jensen is peperduur! Hans bederf my egter goedgunstiglik met 'n unieke stukkie amber vir ons huweliksherdenking! In die gomsteen is 'n blaartjie gefossileer.
Hier op my bord lê my hartsindrukke - 'n haring-southappie uit Denemarke, 'n  salm-en-roomkaasbroodjie uit Swede en 'n hele mondvol peperduur kaviaar uit Noorweë. Kom proe gerus saam!
 
                                                        
Wanneer 'n mens reisherinneringe oproep, sif jou brein mos die koring van die kaf en lê die beste 'happies' voor. In 'n smorgasbord saamgevat, is die noorderlande van Skandinawië bekend vir manjifieke fjords, ysblou gletsers , diep ravyne, woudland en mere.  Individueel het hierdie drie Vikinglande egter elk sy eie karakter, kultuur en bekoring.
'n Reisgids kan 'n toer maak of breek. Gelukkig was Monica van Insight se veertiendaagse Fjordland-toer, intelligent, belese, berese en haar kommentaar oor koningshuise,  Nobelverrigtinge , feestelikhede en wintersport, humoristies en omvattend.  

Vanaf Nyhavn-kanaal met waterkantkroegies, tatoeëer-boetieks, en ‘sardientjie’-houtwonings, onderneem ons 'n kanaalbootrit. Die kaptein van Fyrskib-boot wink Hans nader om te kom stuur. Hy’s heel in sy skik, bootmanskeps en al! Ons vaar onderdeur brûe, verby ou Deense geboue en kerke van historiese belang op Christianshavn, die Slottsholmen- seremoniële kaai, en Gamla Stan-vismark. Eriksen se Lille Havfrue-meerminbeeldjie op Langelinie-kaai (opgerig ter ere van Andersen) is die nie-amptelike landmerk van Kopenhagen en het glo al tweekeer kopverloor!

Ons Kopenhagen-besigtigingstoer sluit besoeke in aan koninklike paleise  - Christiansborg, Rosenborg en Amalienborg van Koningin Margrethe II van Glücksborg. By aanskoue van die  kroonjuwele, kristal , porselein, en ameublement hang ons monde oop. Soveel luuksheid darem?
Sonde!      

My hartewens word bewaarheid by Odense waar ons die museumhuisie van storieman Hans Andersen kan besigtig! Ek word weer storiekind tussen ou manuskripte , tekeninge, papierknippatrone en kinderboeke.  Na ‘n besoek aan die opelug-museumdorpie, Den Fynske Landsby, met eenvoudige plaashuisies in tipies-Deense stabbur-boustyl, stem ons saam dat dit beslis swaarkrydae moes gewees het sonder sonskyn of elektrisiteit.

'n Entjie verder kry 'n paar fikses onder die ons die geleentheid om een van die antieke Viking-grafheuwels te beklim.

In dié wonderwêreldjie van Legoland eien ek internasionaal-bekende geboue en landmerke. Soos Gulliver deur Lilliput stap ek reusetreë deur miniatuur weergawes van herkenbare landmerke in Wes-Europa, Midde-Ooste, en Amerika - alles aanmekaargesit met oulike agtknoppie-boublokkies wat netjies inmekaarpas. Oupa Hans soek 'n stelletjie uit vir Kleinman Pierre.

Monica  gesels onderhoudend oor die 1000 jaar-oue Viking-handelspad. By Frederikshavn aangekom kies Hans koers hawebedrywighede toe, terwyl ek my reisdagboek opdateer. Ons oornag in Jutlandia-hawehotel alvorens ons met die Carisma-veerboot oor Kattegat na Gothenburg in Swede vaar.
                                                                  
                                                         
Ons bring 'n gesellige oggend deur tussen kleurvolle bote en vrypostige seevoëls langs die seefront van die hawestad Gothenburg. Op die onthaal-dekruimte van 'n ou vasgemeerde boot  kry ons smorgasbord van krap-, paling-, en haring-happies, op aptytwekkende oopbroodjies. Heerlik!"Sverige, lagom" – Ja, Swede is ‘okei’.

Die roete binneland toe vleg verby mere, fluweelgroen landbouvelde en houtplaashuise (tradisioneel Falun-rooi met wit omraamde vensters), elk met appelbome, bessiebosse en tulptuintjies. Die manne sien industrieë raak: Ericssons, Volvo, Saab en Husqvarna en tel die saagmeulens en vuurhoutjie-fabrieke. Die meerdorpie Grenna, is sentrum vir die polkagris kokerij waar ons dames belangstellend toekyk hoe veelkleurige pepermentstafies behendig gekleur, gerol, geknip word. Netjies toegedraai in glanspapier, is dit 'n spesiale geskenkie vir iemand tuis.

Die serene stad Stockholm staan bekend as 'die stad tussen brûe', of  'drywende stad'. Hierdie idilliese stadsomgewing beslaan 'n argipel kudde-eilandjies, waterweë en bruggies.

Die 'oustad' Gamla Stan op Riddarsholm-eiland, het sy middeleeuse atmosfeer behou, deels weens die afwesigheid van voertuie, andersyds weens die trots van die Swede op hul erfenis. Vir my (met moeilike voete!) is Stockholm  darem stapbaar ; besienswaardighede is nabymekaar, soos die Kungsträdgärden met spuitfonteine, en die Stockholm-katedraal met sy uitmuntende houtgekerfde altaar. 'n Absolute hoogtepunt vir  ons is die beroemde 'Goue Saal'  in Stadshuset waar luisterryke Nobelprys-seremonies voltrek word. Historiese frescoes teen die mure is uitgelê in derduisende goudkleurige mosaïek-teëltjies. Kameras mag nie hier flits nie!

Nêrens word Viking-geskiedenis en skeepsboukundigheid so besonderlik geïllustreer as in Vasa-museum nie. Die manne vind dit fassinerend, maar vir my is dit alles te oorweldigend. Hierdie massiewe museum bevat die gebergte oorlogskip wat drie eeue lank onderwater versteek gelê het. Na jarelange se berging-prosedures en restourasie, word hierdie opgeknapte skip saam met allerlei interessante skeepsgebruiksartikels in die temperatuur- en vogtigheidsbeheerde museum uitgestal.

Langs die pad lig Monica ons in oor Uppsala se historiese kroningskatedraal. Ou  boomstomp-kerkskatkiste, hout-kerkkloktorings, antieke 'kerkbote', "May-poles" vir lentefeesvieringe, kürbitz-geverfde voordeure, identifiserende figuurtjies van klip op skoorstene, is alles vir ons uniek - pragfoto's vir my reisalbum!

Nusnäs is bekend vir handgekerfde Dalahäste-houtperdjies, by internasionale handelsuitstallings gebruik as simbool van Swede. Hans kiek my bo-op die ‘Reuseperd van Dalärna’! (Hierdie foto pryk later op die buiteblad-collage van my reisjoernaal.)

'n Glasie bloubessiesap verwelkom ons by die Noorse grens - die ys is gebreek en toerlede gesels 'n 'takbok-uit-‘n-bos'!                                                                
Die koel somertemperatuur en lang dae is bewys dat ons naby die arktiese sirkel is. Hoog in die berge lê die sneeu nog dik en teen die hange vorm smeltende sneeu nat sebrastrepe. Hans lyk soos 'n regte trol-dwergie teen die hoë wal sneeu langs die bus! Só verblindend-helder weerkaats die son, dat ons gou donkerbrille opdiep!

Fjordland is 'n asemrowende gebied van gletsers en tuimelende watervalle uit die hoë sneeubedekte granietgesteentes. Ver onder in skeurvalleie lê die pragtige fjordinhamme. Ek haal aan oor die Noorweegse fjordland: "No amount of anticipation and no photographs can ever prepare the traveler for the real thing!" Dit is inderdaad so - die stilte en dramatiese natuurskoon laat 'n mens stil én stom. Hans wikkel sy arm om my lyf....

Hoog bo by Flydalsjuvet-uitkykpunt hou die busbestuurder stil sodat ons die asemrowende skoonheid van die Geiranger-fjord en sy oewerdorpie kan inneem. Die son loer uit - ons vat hande met die Skepper - hoe kan ons anders as om ons seëninge te tel! 'n Veerbootrit oor die spieëlgladde fjord sluit 'n fantastiese dag af.

Hout-berghutte, die Sewe Susters-waterval, mooi wit passasiersbote wat geruisloos verby ons oor die water gly, en fantastiese weerkaatsings op die rimpelvrye watervlak, dra alles daartoe by om hierdie dag onvergeetlik te maak. In valleie ry ons deur woude bergvarings, bosse wit kantblomme tussen pienk en pers lupine,  verby takbokhorings bo-aan plaasvoordeure, salm-teelplase met fiskehütte, weidende bergbokke met klokke en mooi stewiggeboude, geelbruin fjordperde.

Bergen,  in ou Hansa-vissershawe met Wêrelderfenisstatus  is strategies geleë op 'n skiereiland aan die voet van sewe heuwels. In gerestoureerde, antieke hout-handelshuise word boetieks, kunsgalerye en klein museums bedryf. Hans kies koers na die ou Torget-vismark met sy verskeidenheid seekos,  terwyl die winkels vir my wink. Pragtige  takbokvel-pantoffels trek my aandag. Ander begeerlike ware is mooi pewter en silwer eetgerei met tradisionele Viking-motiewe. Ek soek 'n spesiale Nordstrikk-woltrui uit in rooi-grys-wit.

Die Trolstigen-haarnaaldpad en steil Flämsbana-treinspoor, al langs die fjords en deur vele bergtonnels, is vir almal 'n wonderlike belewenis. Aan die voet van Twinvoss-dubbelwaterval  gaan skep Hans  vir my van die 'verjongende water' - die hoop beskaam mos nooit vir "Lank sal ons lewe!"

Oslo is ons laaste bestemming - 'n moderne 'kleinstad' met voetgangersones, parke en paleise. Die spognaam, "Stad van Goud", verwys trots na talle goue medaljes wat deur kranige Noorweërs by Olimpiese Winterspele verower word.

Hans is  be
ïndruk met die mooi hawegebied en seiljagmarina met Norge, die koninklike jag; ek  is meer ingestel op die goedversorgde ambassadeurswonings en die Aula-saal waar die Nobelprys vir Vrede jaarliks toegeken word aan verdienstelikes.
Die kersie op ons Skandinawiese koek is Vigelandpark, bekend vir die lewenswerk van die Rodin-geïnspireerde beeldhouer, Gustav Vigeland, wat die lewensiklus en -fases van die mens in honderde naak-beeldhouwerke van graniet en brons weergegee het. 'n Besoek aan hierdie indrukwekkende 'lewensmonument'  was emosioneel absoluut 'n hoogtepunt. Rug aan rug (darem mét klere aan) sit ons en pose vir 'n herdenkingsfoto!

Van die maritieme museumkompleks op Bygdöy-skiereiland kon ons ons nie wegskeur nie .'n Uur se besigtigingstyd is beslis te  kort vir die Kontiki-museum met Thor Heyerdahl se outydse balsabote. Drie goedbewaarde Viking 'grafskepe' met gebruiksartikels vir belangrike of welvarende mense van weleer, toegepak met lae turf, en so bewaar vir die lang 'slaap van eeue', is netso interessant. Die Norsk Folkenmuseum vertoon Noorse husflieden, Laplandse Sami-kultuurartikels en veelkleurig-geborduurde volksdrag-kostuums. Vir oulaas skaf ek 'n paar bekostigbare aandenkings aan.

Wat ons oor die algemeen van Skandinawie beïndruk het, was die mense se netheid en flinkheid, hoë lewenstandaard en welvaart,
die gesinkroniseerde publieke vervoer, goeie paaie, goedversordge kerkhoffies en afwesigheid van rommel en misdaadbedreiging. 

"Jag ärs glad när solen skinen" – ook dankbaar vir sonskynweer hier in die koue Noorde!

Ten slotte dan, ons reisfilosofie : Reis hou die romantiek van ontvlugting in, die ontdekking van dit wat ánders is, ontmoeting van vreemdeling-vriende, en ingesteldheid op alles wat sintuiglik waardeer kan word.